Skrifgedeelte: Job 9:1-19 Teks wat tref:  Job 9:4

Job 9:4   – “Die wysheid en krag van God is groot.”

Nadat nog een van Job se vriende hom in hoofstuk 8 probeer bemoedig begin Job weer praat. Hy erken dat die woorde van Bildad waar is. God sal weer vreugde gee en vir Job van blydskap laat jubel. (8:21) Tog laat dit Job se twyfel en wanhoop nie onmiddellik verdwyn nie.  Job se woorde spreek steeds van uiterste wanhoop. Hy beleef dat niemand ʼn saak teen God kan wen nie.  Hy probeer nog ʼn keer antwoorde kry.  Jy mag moontlik net so voel as jy die “waaroms” van die lewe probeer uitpluis.

Hierna word Job gelei om die wysheid en krag van God te beleef.  Sy waarnemings hiervan laat hom dadelik besef dat niemand God kan teëstaan nie. Die skepping getuig van die grootheid van God se werke. Hy gee opdrag aan die son om op te kom, Hy verseël die sterre, Hy span die hemel soos ʼn tent en Hy hou die golwe van die see in bedwang.  Wanneer ek voel dat alles rondom my wankel en dat duisternis die lig verdryf, is dit God se Almag wat weer nuwe hoop bring. As ek twyfel en voel dat alles kantel herinner God se skepping my dat alles op vaste fondamente staan. Selfs golwe wat my lewe bedreig en die harde realiteite van elke dag se swoeg en sweet kan my nie oorweldig nie.

Die verwysing na die Beer en Orion, die Sewester en die sterrebeelde in die suide, bring opnuut hoop. Deur al die eeue is sterre gebruik om rigting en koers aan te dui. Dit is simbolies van hoop. Elke ster in die hemelruim getuig van God se werke.  “Wat Hy doen is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder.” (9:10)

Naas God se teenwoordigheid in en beheer oor die skepping is God ook nooit ver van my nie. Selfs in die oomblikke wanneer dit voel dat ek die Here nie gewaar nie, en Hy deur sy Gees verby my sweef en ek dit nie agter kom nie, is God steeds daar.  Daar is niks wat God keer nie.  Tog bly Job worstel en voel hy dat God hom pynig met stormwinde en dat die lewe hom platslaan en hy nie kans kry om asem te skep nie. So mag my worstelstryd moontlik nie onmiddellik verdwyn nie. Nes Job word ek deur die realiteite van my lewensbestaan oorweldig.  Sy belewing verwoord my belewenis so treffend. 

Die oplossing hiervoor is dat ek steeds moet aanhou.  Job kry eers later antwoorde en berusting. Erken saam met Job dat Hy die sterke is. Spandeer tyd in God se teenwoordigheid.  In Openbaring 22:16 ontmoet ons vir Christus wat die helder Môrester is.  Dan verdwyn alle “waaroms” finaal.

Dors vir meer:

Op 22:6-21

Gebed

Here, dankie dat U altyd naby my is.  Dankie dat U lig vir elke dag bring.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235