Skrifgedeelte: Psalm 103.
Vers wat tref, Psalm 103: “ Loof die Here, o, my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam!”
Saam met Nagmaalsviering lees ons as lofprysing Psalm 103. Hoe gepas is hierdie psalm van Dawid nie vir ons nie? Gisteroggend is ons weereens onder die besef gebring van die Here se grootheid en goedheid vir ons.
Daarom wil ek uitroep: Loof die Here! Om die Here net met my mond te loof is nie genoeg nie. Ek wil die Here loof met my siel- met al my emosies en gedagtes. Na my volle menswees, met alles wie ek is. Ek wil die Here nog verder loof, met alles wat in my is- letterlik word hier verwys na my ingewandes- met my hele lyf en wese wil ek die Here loof.
Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. So maklik kyk ons vas aan dit wat ons voel ons nie het nie, dit wat nog kort en ontbreek. Met nagmaal word ons weer herinner aan dit wat ons wel het- God het aan my volkome vergifnis van al my sondeskuld gegee! Christus se kruisdood is nie net vir ons ʼn gebeurtenis in die verlede nie, nee, reeds nou het ek die ewige lewe en God staan my by in al my omstandighede. Nagmaal laat my ook vorentoe kyk- ek kan hoop en uitsien op die wederkoms van Jesus Christus.
Daarom kan ek nie anders as om vanoggend weer die Here te loof met alles wat in my is nie!
Gebed.
Dankie Here dat ek U kan dank met my hele hart! Uit ʼn groot liefde en trou is daar vir my volkome skuldvergifnis. Ek sal U loof vir altyd!
Amen.
Dors vir meer:
Psalm 105
Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei
Leave a Reply