Skrifgedeelte: Rut 3-4:12.
Vers wat tref, Rut 3:13. “As hy dan môreoggend bereid is om as jou losser op te tree, goed, maar as hy nie wil nie, sal ek so seker as die Here leef, as losser optree. Bly hier tot môreoggend.”
Rut nader Boas om as haar losser op te tree. Nie enige iemand kan sommer net as losser optree nie.
In die eerste plek moes ʼn losser ʼn naby familielid wees. Die familielid moet dan ook welaf genoeg wees om die losser prys te kan betaal- die volle prys moet betaal word. Die losser moet bereid om as losser op te tree en lewenslank hierdie verpligting na te kom.
So gebruik die Here mense om ander mense te help en te versorg in hul nood.
Maar hierdie lossingswet dui vir ons baie mooi op Jesus Christus se koms. Jesus Christus wat die enigste een is wat in staat is om as ons Losser van die sondes op te tree. Hy alleen kan die volle prys betaal en het dit dan ook so gedoen aan die kruis! Hy was bereid om die vernedering te ondergaan om mens te word en onder ons te kom woon sodat ons losgekoop kan word en kan deel as kinders van die Here God. Hy alleen kan en wil ook as ons Losser optree- Hy is Jesus Christus ons Verlosser!
Die Here het voorsien en versorg sodat ons kan deel aan die ewige lewe!
Gebed.
Dankie dat Jesus Christus ons verlos van al ons sonde skuld. Dankie dat daar nou vir ons ʼn heenkome verseker is! Amen.
Dors vir meer:
Filippense 2.
Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei
Leave a Reply