Category: Uncategorized (Page 4 of 33)

Dagstuk 24 September 2021 – Voor die hand liggend (3/3) – Skrifgedeelte: Ps 104:1-17

Skrifgedeelte: Ps 104:1-17  Teks wat tref: v14,15

Ps 104:14 – “……. sodat hy sy kos uit die aarde kan kry”

In Psalm 104 leer ons om soveel dinge wat so voor de hand liggend is opnuut waar te neem.  Die Psalm begin en eindig met die grootheid van God. Dit vertel van sy liefde en skeppingsmag.  Die digter roep ons in vers 1 op om die Here te loof: God is groot, Almagtig en Alomteenwoordig.  Sy kennis van God spreek van ‘n intieme en noue band. Hy spreek God met sy Verbondsnaam aan.  God se verbondsbeloftes gee hoop en vertroue. God is nooit ver nie. God sal vir alles sorg en gee daarom ook hoop vir die toekoms.

Hy meet en beheer alles. Hy stel die grense vir alles vas. Oseane is die grootste en magtigste wat ons ken. God spreek eenvoudig en alles vloei na die plek toe wat Hy bestem het.  Maar God let ook op die kleiner en fyner dinge soos die fonteine, voëls gras en wilde diere. Alles is in sy sorg.

Psalm 104 beskryf God se Meesterplan vir alles. Die detail waarmee God alles haarfyn beplan verseker ons dat daar niks is wat toevallig gebeur nie.  Daar is plek vir die wilde diere om te drink. Die voëls maak neste en kwetter tussen die takke. Die aarde word met reën versadig. 

Daarna kyk ons nog verder na alles wat die Here gee. In vers 14 en 15 word verwys na kos, wyn en olie.  Dit verwys na alles wat nodig is om van te lewe. Dit sluit die noodsaaklike dinge en selfs luukshede in. Kos is noodsaaklik vir die mens om te oorleef. Wyn en olie is gebruik om voedsel voor te berei en te preserveer. Dit was ook ʼn skoonheidsmiddel. God is Almagtig maar het tog tyd gemaak om aan elke behoefte van die mens te dink. Dit is ʼn onteenseglike bewys van sy liefde.

Dit laat ons in verwondering leef. Dit maak ons dankbaar en bring berusting en hoop wanneer talle onsekerhede ons in wanhoop laat verval. In Christus het ons die grootste vervulling van God se sorg en liefde.  Hy regeer as Koning en het alles oorwin sodat ons nie net op aarde nie, maar ook vir ewig versorg is. 

Dors vir meer:

Ps 40

Gebed

Here, dankie dat U my daagliks versorg en bewaar. Leer my om opnuut alles wat voor die hand liggend is waar te neem en te waardeer. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 22 September 2021 – Voor die hand liggend (2/3) – Skrifgedeelte: Mk 4:35-41

Skrifgedeelte: Mk 4:35-41 Teks wat tref: v39

Mk 4:39  – “Hou op!  Bedaar!”

Wanneer daar skielik iets gebeur vergeet ons dit wat voor die hand liggend is maklik. Na ʼn lang vermoeiende dag besluit Jesus en sy dissipels om met hul skuit na die oorkant van die meer te vaar. Jesus gaan lê op die bank in die agterstewe en slaap. Toe die skuit al begin vol word van die aanhoudende golwe wat daarin slaan, gaan maak die dissipels Hom wakker. Hulle is besig om te vergaan en dit lyk asof Hy nie omgee wat met hulle gaan gebeur nie. 

Spreekwoordelik bars daar elke dag een of ander storm in ons lewe los. Dan is daar is twee maniere om deur die lewe te gaan – bang of gelowig. Soms is die belewenis hiervan ineen gestrengel en vervleg.  Sekere dae is my geloof sterk en sien ek kans vir alles. Ander dae is ek weer so bang dat ek van vrees inmekaar krimp. In Mk 4 leer ons dat gelowiges nooit bang hoef te wees nie.

Die skielike storm waarin die dissipels hulle meteens bevind het leer hulle om te vertrou. Eers nadat die Here opstaan en die wind bestraf, sien hulle die hulp wat voor die handliggend is raak.  Nie een besef dat hulle nog die hele tyd in Jesus se teenwoordigheid was nie.  Hulle vergeet dat Hy siekes genees het (Mk 1:31), duiwels uitgedryf het (Mk 1:25) en melaatsheid (Mk 1: 41) laat verdwyn het.

Ons verloor maklik perspektief as ons deur die storms van die lewe omring word.  Hoeveel keer het dit nie al ook vir u gevoel dat die Here slaap terwyl ek Hom so nodig gehad het nie? Waar was Hy toe my geliefde so siek geword het?  Waar was Hy toe my geld op geraak het?  Waar was Hy toe ek so alleen en eensaam gevoel het? Ja Here……. Waar was U toe die storms van die lewe my wou onderkry?

Ons gryp dan na oplossings en probeer eie planne beraam terwyl die Here nog die hele tyd by my is.  Van ewigheid af beskik Hy oor alles.  Met Jesus se wonder waarmee Hy die wind stil maak bewys Hy dat Hy oor alle mag beskik en dat alles onder sy beheer en regering staan.  Hy is die Stuurman van ons lewe.  Hy hou ons op koers en op pad. Hy doen dit by uitstek op Golgota.  Hy bestraf nie maar net die sonde nie.  Hy neem dit met sy eie lewe weg.  So verseker die Here dat ons in ewigheid nooit sal vergaan nie.  En in die stilte wat na die storm kom, leer ek ook weer dat Christus mag oor alles het.

Dors vir meer:

Ps 37

Gebed

Here, dankie dat U my elke dag bewaar en veilig hou te midde van al die storms rondom my. Vervul my met ontsag en leer my om U te gehoorsaam.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 20 September 2021 – Voor die hand liggend….. (1/3) – Skrifgedeelte: 2 Kon 6:8-23 

Skrifgedeelte: 2 Kon 6:8-23                                     Teks wat tref: v15

2 Kon 6:15 – “………. wat gaan ons nou maak?”

Terwyl ons daagliks beleef dat die Here besig is om ons te bewaar en dat ons in alles op Hom kan bly vertrou, gebeur dit dikwels dat Hy op vreemde en ander maniere besig is om na ons om te sien. Soms stuur Hy hulp vanaf vreemde plekke en ander kere maak Hy ons oë oop om die voor die handliggende raak te sien. 

Daar heers steeds oorlog tussen die koning van Aram en die volk Israel. Die voortslepende teistering van die Arameërs word deur die tydige waarskuwings van die profeet Elisa in die wiele gery.  Israel behaal die een sukses na die ander deur God se beskikking. Hulle word telkens beskerm en bewaar. Net so ervaar ons steeds dat God Alomteenwoordig en Alwetend is. Dit is net deur God se genade dat ons elke dag kan bestaan ten spyte van die aanvalle en gebeure rondom ons. 

Tog begin ons twyfel as dit lyk dat die vyandige magte en gevare ons kan ondermyn.  Die eise van elke dag saam met die spanning om te oorleef en die daaglikse beplanning om net staande te kan bly laat ons ook soms uitroep – “ Ag Here, wat gaan ons nou maak.”

Vir die koning was die oormag van die vyand net te veel.  Omring deur werksdruk, vol programme en opgehoopte emosie word ons ook moedeloos. Selfs na die bemoediging van Elisa dat die wat by ons is, meer is as wat hulle is, bly die slaaf steeds bang. 

Eers nadat die Here sy oë oopmaak dat hy kan sien verander die situasie.  Skielik is die berge rondom hulle vol perde en strydwaens van vuur.  Die hulp en uitkoms wat die Here stuur oortref die oormag van die vyand.  Waar die slaaf eers blind was en die hulp wat reeds daar was, nie kon raaksien nie, word die vyand nou blind en moet hulle die aftog blaas.

Eers nadat die Here die slaaf se oë oopmaak sien hy die hulp  wat voor die handliggend is raak.  Soms is ons so vasgevang in gebeure dat ons geen uitkoms sien nie. Nog voordat ons enige planne beraam, het God reeds alles in plek en oor alles beskik dat ons behoue sal bly.  Soms lyk alles net te veel om te hanteer. Dan stuur God sy Heilige Gees en gebruik Hy mense rondom my om uitkoms te bewerk.  Ons sien dikwels dit wat voor die hand liggend is nie raak nie.  Nog voordat enige gedagte by my kan opkom, weet die Here al klaar wat die uitkoms sal wees.  Daarvoor het Christus aan die kruis gesterf sodat ons in Hom van die oorwinning seker kan wees. 

Dors vir meer:

Mt 10:26-31

Gebed

Here, dankie dat U my oë oop maak sodat ek U kan sien. Leer my om altyd net op U te vertrou.  Amen

Dagstuk 17 September 2021 – Hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart! (3) – Skriflesing: Psalm 78:40-72.

Skriflesing: Psalm 78:40-72.
Verse wat tref: Psalm 78: 70-72 “En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.”

Doen!
Asaf sluit hierdie psalm af om weer uit te wys dat jy na die roepstem van die Here moet luister en reageer. Efriam het na die Here geluister nie, maar die Here uitgetart en geword soos ʼn boog waarmee jy nie meer kan vertrou om reg te skiet nie (verse 56-59).
Die Here het hulle verwerp en selfs toegelaat dat die tabernakel by Silo weggevoer word.
Met Dawid wys die Here weer Sy liefde vir die mensdom. Vanaf die skaapkrale (nederige taak) het die Here vir Dawid gekies en hom weggeneem om Israel op te pas.
Dawid doen dit dan met ʼn opregte hart- ʼn hart wat omgee en medelye het. Hy lei die volk vaardig met sy hande- hande waarmee hy moes oorlog maak om vrede vir Israel te vestig. Hande wat kan beskerm en bewaar asook leiding gee. Dawid wat gehoor het, gesien het en ook nou optree doen. As die Here roep moet ons nie net hoor nie, maar ook doen.

In Dawid se roeping sien ons reeds ook die koms van Jesus Christus. Christus wat die Goeie Herder is wat ons as Sy eiendom oppas en lei met ʼn sagte hand. Wie kan met ʼn meer opregte hart liefhê as die Een wat nie net weet waardeur ons gaan nie, maar self die losprys betaal het?
Die Here Jesus Christus wat gedoen het wat niemand van ons kon nie.
Halleluja!

Gebed
Dankie Here dat U ons nie oorgegee het aan die straf van sonde nie, maar deur U liefde vir ons die losprys betaal het. Dankie dat U ons vandag ook met ʼn opregte hart en ʼn bekwame hand lei. Mag ons vandag hoor en doen!
Amen.

Dors vir meer:
Johannes 10:7-21

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 15 September 2021 – Sy wonderdade het vir hulle niks beteken nie! (2) – Skriflesing: Psalm 78:9-39.

Skriflesing: Psalm 78:9-39.
Verse wat tref: Psalm 78: 32 “ Tog het hulle bly sondig en sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie.”

Sien!
Sien is glo! Hoe baie het jy nie al hierdie uitdrukking gehoor nie? As iets te goed klink om waar te wees, dan wil ons eers sien voor ons dit glo. Maar glo is nie om te sien nie. In Psalm 78 word daar vir ons die perfekte situasie beskryf. Die Here het sy voorskrifte en bevele aan die volk gegee, hulle het Sy wonderdade en reddingsmag aanskou. Ten spyte hiervan het hulle steeds gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. Hulle tree vals op en bly ontrou. Jy sal verwag dit die volk die Here hiervoor sou eer maar hulle het in opstand gekom teen die Allerhoogste.

Maklik sê ons dat ons nie soos die volk Israel is nie. Ons sal nooit soos hulle maak nie. Maar is ons besig om die Here te eer en Hom te dank vir die reddingsdade wat Hy aan ons bewys het? Eer ons Hom vir Sy teenwoordigheid? Gebruik ons die geleenthede om die Here te aanbid en te eer? Of kyk ons met hoe min kan ons wegkom, dit wat oorbly nadat ek my tyd en geld vir die wêreld gegee het, moet die Here mee tevrede wees.

Psalm 78 is ʼn sterk oproep om ons te bekeer en nie ons rug op die Here se genade en wonderdade te draai nie. Ja, Hy is lankmoedig en vol liefde, vergewe sonde, maar ons moet nooit die Here versoek nie. Laat ons mekaar dan vandag aanspoor om nie afvallig te word nie (Hebreers 3:12-13).

Gebed.
Ons hemelse Vader. Ons het gesondig en teen U in opstand gekom, afgewyk van U gebooie en vergeet van U wonderdade. Vergewe ons op grond van U oorvloedige barmhartigheid in U seun Jesus Christus.
Amen.

Dors vir meer:
Hebreërs 3:7-4:13

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 13 September 2021 – Kom luister na die Here en vertel! (1) – Skriflesing: Psalm 78:1-8.

Skriflesing: Psalm 78:1-8.
Verse wat tref: Psalm 78:5-6 Hy het aan Jakob sy voorskrifte gegee,
aan Israel sy onderwysing.
Hy het ons voorvaders beveel om dit aan hulle kinders bekend te maak,
sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word,
dit weer aan húlle kinders kan vertel.

Luister!
Hoeveel keer luister ons werklik na die Here? Ons hoor baie preke, lees baie dagstukkies maar hoeveel keer luister jy aandagtig?
Luister dan vanoggend opnuut na die Here vanuit Psalm 78. Luister na die roemryke dade van die Here, sy mag en sy wonderdade! Luister na die wonderlike verlossingsboodskap in Jesus Christus.
Die evangelie is nie vir ons “ou nuus” nie, maar die “blye nuus”!
Luister – want so leer ons die Here ken! Wanneer jy God ken en weet dat Hy jou ken, dan kan jy vertrou op God. Vertroue gaan saam met kennis.
Wat doen ons met hierdie kennis?
Vertel! Vertel dit vir al jou familie en vriende. Vertel vir al jou kollegas en klasmaats. Vertel vit veral vir jou kinders! Vertel sodat die volgende geslag dit sal weet. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” Romeine 10:14-15.

Luister, ken en vertel van die Here se mag en werke!

Gebed.
Here, help my om opreg te luister na U woorde! Wys vir my uit aan wie moet ek van U wonderdade vandag vertel. Mag ek veral aan die volgende geslag vertel van U wonderdade!
Amen.

Dors vir meer:
Romeine 10.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 10 September 2021 – Hulp van vreemde plekke (3) – Skrifgedeelte: Gen 37:12-36 

Skrifgedeelte: Gen 37:12-36     
Teks wat tref: Gen 37:22

Gen 37:22 – “Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld.”

Voordat Josef in Egipte beland het en opgang in die regering van koning Farao gemaak het, was hy nie baie geliefd onder sy broers nie. Hy dra slegte stories oor hulle aan, hy word deur Jakob voorgetrek en toe hy boonop in ʼn droom aan hulle vertel dat hy hulle koning is en dat hulle voor hom moet buig, kry hulle ʼn nog groter afkeer van hom. (Gen 37:2-8) Toe Jakob hom later na sy broers stuur kry hulle ʼn gulde geleentheid om hom dood te maak. 
 
God het toe reeds geweet dat Hy Josef later sou stuur om Sy volk te red.  Ruben word gebruik om die broers te oortuig om hom nie dood te maak nie, maar eerder in ʼn put te gooi sodat hy hom later kon red en na sy Pa terugstuur.  Juda kry ’n verdere plan om Josef aan die Ismaelitiese handelaars te verkoop. Ten spyte van al die menslike planne van sy broers, bly God in beheer. Niks kan Hom keer nie. Josef word deur die Midianiete in Egipte aan Potifar verkoop waarna hy kort voor lank ʼn prominente posisie beklee het.
 
Deur talle omstandighede beleef ons soms dat dit voel of ek in ʼn diep donker put gegooi word. Sonder my toedoen tref talle ellendes my. Onregverdige werkgewers, korrupte amptenare en ʼn boelie by die skool maak my bestaan vol seer.  Oneindige vol programme en sperdatums kry nooit einde nie. Ek smag na uitkoms.
 
Vir Josef het daar uitkoms uit ʼn vreemde oord gekom. Wanneer God iemand wil gebruik stuur Hy hulp. Handelaars koop hom en verkoop hom weer vir verdere wins. Vir hulle is dit ʼn blote sake transaksie. Vir Josef het dit beteken dat sy lewe gespaar word.  Teen alle verwagtinge in gebeur dit ook dat ek hulp en bemoediging ontvang. Alles is tot beskikking van God en Hy regeer so dat alles tot my beswil geskied.  Selfs wanneer ek dit die minste verwag en dit lyk dat daar geen uitkoms meer is nie.
 
Terug in Sigem bly Jakob treur oor Josef. As ouer worstel hy met die gedagte dat sy seun deur ʼn roofdier opgevreet is.  Terwyl ek my eie pyn verwerk en mag beleef dat ek in ʼn diep put gegooi is, kom God en bevry my uit my nood.  Christus red my van die dood.
 
Ons bly verwonderd staan oor God se groot genade en loof Hom altyd vir beskerming en redding. 
 
Dors vir meer:
Gen 47:13-26
 
Gebed
Here, dankie dat U my van donker dieptes bevry. Leer my om altyd net op U te vertrou.  Amen
 
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235

Dagstuk 08 September 2021 – Hulp van vreemde plekke (2) -Skrifgedeelte: Jos 2:1-24

Skrifgedeelte: Jos 2:1-24 Teks wat tref: v11

Jos 2:11 – “…….want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde .”

Josua stuur twee verkenners om die Beloofde land wat God aan hulle na die uittog uit Egipte geskenk het, te gaan besigtig. Die koning van Jerigo het hiervan te hore gekom en hy beveel Ragab om hulle uit te lewer.  As verspieders het hulle ʼn gewisse dood in die oë gestaar.  Indien hulle sou sterf sou die verslag oor die land en die mense ook nie by Josua uitkom nie. 
 
Om hulle te red bewerk God hulp vanaf ʼn vreemde plek. Die twee verkenners se spioenasie werksaamhede laat hul by die huis van ʼn prostituut met die naam Ragab uitkom.  Haar optrede laat ons opnuut besef dat niks aan toeval oorgelaat word nie, maar dat God altyd sy Plan sal deurvoer.
 
Dit klink vreemd dat God ʼn prostituut gebruik om die twee verspieders weg te steek. Hulle is nog meer verbaas en verdwaas toe Ragab kort voordat hulle aan die slaap raak, bevestiging bring dat die Here die land vir hulle sal gee.  Boonop hoor hulle ook dat die inwoners skrikbevange vir hulle is.  Almal bewe van vrees vir hulle.  Niemand het enige moed teen hulle nie.
 
Ragab se belydenis in vers 11 dat hulle God, die Here, God is bo in die hemele en onder die aarde, lei daartoe dat hulle ʼn eed voor die Here aflê om haar en haar familie te beskerm wanneer die land binnegeval word.  Die prostituut Ragab se hart word deur God verander. God gebruik haar in sy koninkryk om sy beloftes uit te voer.  Later word Jesus Christus uit haar nageslag gebore. 
 
Dit is geen toeval dat die verkenners in die vreemde land, onder vreemde omstandighede en aan huis van ʼn vreemde vrou, bevestiging ontvang dat die volk die land in besit moet neem nie.  Niks kan die werk van God se hande keer nie. Daar is vandag talle verhale waar God hulp van vreemde plekke stuur. Alles is aan God ondergeskik en Hy gebruik sy Almag in enige situasie om sy Plan uit voer. ʼn Prostituut wat huisvesting verleen en belydenis doen.  ʼn Werksgeleentheid vanuit ʼn onbekende oord. ʼn Kospakkie wat deur ʼn weldoener in die oprit gelaat word.  ʼn Anonieme skenking vir ‘n student om te studeer. 
 
Met Jesus Christus se kruisdood en opstanding verseker God my dat daar vir my redding is.  
 
Dors vir meer:
Jos 6:22-27 en Mt 1:1-6

Gebed
Here, dankie dat U my elke dag veilig bewaar. Maak my diensbaar in U koninkryk.  Amen
 
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235

Dagstuk 06 September 2021 –Hulp van vreemde plekke (1) Teks wat tref: Eks 2:5

Eks 2:5 – “Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal”

Terwyl ons daagliks beleef dat die Here besig is om ons te bewaar en dat ons in alles op Hom kan bly vertrou, gebeur dit dikwels dat Hy op vreemde en ander maniere besig is om na ons om te sien.  Hy stuur hulp vanaf vreemde plekke en soms uit ʼn oord waar ons dit nie van sal verwag nie. Dit laat ons besef dat niks aan toeval oorgelaat word nie, maar dat God altyd sy Plan sal deurvoer.  Dit gee weer hoop vir elke dag. 
 
Die Here seën die Israeliete sodat hulle getalle tydens hulle verblyf in Egipte uitermatig toeneem. Die Egiptiese koning probeer God se plan in die wiele ry en beveel dat die Hebreeuse seuntjies met geboorte doodgemaak moet word. Daar het God al geweet dat Hy Moses later sou gebruik om die Israeliete uit Egipte na vryheid te lei.
 
ʼn Man uit die stam Levi trou met ʼn Levitiese meisie en hul word met ʼn seuntjie geseën.  Haar moederliefde vir die mooi seuntjie laat haar planne beraam om hom aan die lewe te hou.  Nadat sy hom nie langer kan wegsteek nie, besluit sy om hom in ʼn biesiemandjie in die rivier tussen die riete te gaan sit.  Dit is ʼn waagstuk. Wat sal ʼn moeder nie alles doen om die veiligheid van haar kind te verseker nie?  Sy neem drastiese besluite in geloofsvertroue om haar kind se lewe te beskerm. 
 
Op ʼn vreemde en onvoorsiene manier kom daar hulp vanuit ʼn vreemde plek.  Dat dit juis die dogter van die Farao is wat die seuntjie tussen die riete vind is geen toeval nie.  God beskik dat die seuntjie veilig is en dat hy sy eerste jare deur sy eie moeder groot gemaak word. Dit moes vir haar steeds moeilik gewees het om hom later deur die dogter van die farao te laat aanneem. Maar die seuntjie se lewe is immers gespaar en hy word later deur God gebruik om die Israeliete te red. 
 
Vandag stuur die Here steeds hulp en uitkoms van vreemde plekke wanneer ons dit glad nie verwag nie.  Hy gebruik omstandighede om ons te red en veilig te hou al sou dit beteken dat ons soms opofferings moet maak.  Moses kry sy naam nadat die farao se dogter hom uit die water kom haal het.  Dit was sy redding. 
 
Christus kom haal ons figuurlik gesproke ook uit die water en ander moeilike omstandighede as alles hopeloos lyk. My nood is juis die geleentheid waar Hy sy Naam groot maak.  Wees bedag op die hulp wat die Here stuur en wees gereed dat Hy jou ook as hulp vir iemand anders kan stuur.
 
Dors vir meer:
Ps 18:1-18
 
Gebed
Here, dankie dat U my elke dag bewaar. Dankie vir elkeen wat my pad kruis en hulp verleen. Gebruik my ook om U Naam te verheerlik.  Amen
 
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235

Dagstuk 3 September 2021 – Loof die Here die Skepper van alle dinge. – Skrifgedeelte: Psalm 104.

Skrifgedeelte: Psalm 104.
Vers wat tref, Psalm 104:24 “U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep.”

Met lente beleef ons weer nuwe lewe, vrolikheid en die belofte van groei hang in die lug.

Met Psalm 104 kan ons nie anders as om uit te roep: Halleluja! Loof die Here!
Teenoor Psalm 103 word hierdie opgeroep gemaak nie net vir wat die Here in die geskiedenis van die volk gedoen het nie, maar omdat die Here die een is wat alles gemaak het! Hy alleen is die skepper van alle dinge! Daarom volg hierdie Psalm die indeling van Genesis 1 om die skepping se grootheid uit te lig. Dit is die Here wat die aarde gevorm het, bewoonbaar gemaak het en nogsteeds versorg!

Watter groot troos het ons dat die Here nie die werke van sy hande laat vaar nie.

Ek kan nie anders as om God te prys in gedagtes en woorde nie.

Laat ek hierdie lente weer groei in my verhouding met God, die dooie takke uitsny en voluit my nuwe lewe in Christus leef! Hoe kan ons as gemeente weer opnuut groei hierdie seisoen?

Leef voluit en prys die Here met Lied 464 “Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U, hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam
Hoe heerlik Heer U grote Naam!”

Gebed.
Hoe heerlik klink U naam, Here! Dankie vir u volghoue versorging. Dankie vir elke nuwe geleentheid om U te loof met elke nuwe dag!
Amen.

Dors vir meer:
Psalm 29

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

« Older posts Newer posts »