Skrifgedeelte: Gen 37:12-36
Teks wat tref: Gen 37:22
Gen 37:22 – “Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld.”
Voordat Josef in Egipte beland het en opgang in die regering van koning Farao gemaak het, was hy nie baie geliefd onder sy broers nie. Hy dra slegte stories oor hulle aan, hy word deur Jakob voorgetrek en toe hy boonop in ʼn droom aan hulle vertel dat hy hulle koning is en dat hulle voor hom moet buig, kry hulle ʼn nog groter afkeer van hom. (Gen 37:2-8) Toe Jakob hom later na sy broers stuur kry hulle ʼn gulde geleentheid om hom dood te maak.
God het toe reeds geweet dat Hy Josef later sou stuur om Sy volk te red. Ruben word gebruik om die broers te oortuig om hom nie dood te maak nie, maar eerder in ʼn put te gooi sodat hy hom later kon red en na sy Pa terugstuur. Juda kry ’n verdere plan om Josef aan die Ismaelitiese handelaars te verkoop. Ten spyte van al die menslike planne van sy broers, bly God in beheer. Niks kan Hom keer nie. Josef word deur die Midianiete in Egipte aan Potifar verkoop waarna hy kort voor lank ʼn prominente posisie beklee het.
Deur talle omstandighede beleef ons soms dat dit voel of ek in ʼn diep donker put gegooi word. Sonder my toedoen tref talle ellendes my. Onregverdige werkgewers, korrupte amptenare en ʼn boelie by die skool maak my bestaan vol seer. Oneindige vol programme en sperdatums kry nooit einde nie. Ek smag na uitkoms.
Vir Josef het daar uitkoms uit ʼn vreemde oord gekom. Wanneer God iemand wil gebruik stuur Hy hulp. Handelaars koop hom en verkoop hom weer vir verdere wins. Vir hulle is dit ʼn blote sake transaksie. Vir Josef het dit beteken dat sy lewe gespaar word. Teen alle verwagtinge in gebeur dit ook dat ek hulp en bemoediging ontvang. Alles is tot beskikking van God en Hy regeer so dat alles tot my beswil geskied. Selfs wanneer ek dit die minste verwag en dit lyk dat daar geen uitkoms meer is nie.
Terug in Sigem bly Jakob treur oor Josef. As ouer worstel hy met die gedagte dat sy seun deur ʼn roofdier opgevreet is. Terwyl ek my eie pyn verwerk en mag beleef dat ek in ʼn diep put gegooi is, kom God en bevry my uit my nood. Christus red my van die dood.
Ons bly verwonderd staan oor God se groot genade en loof Hom altyd vir beskerming en redding.
Dors vir meer:
Gen 47:13-26
Gebed
Here, dankie dat U my van donker dieptes bevry. Leer my om altyd net op U te vertrou. Amen
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235
Leave a Reply