Skrifgedeelte: Mk 4:35-41 Teks wat tref: v39

Mk 4:39  – “Hou op!  Bedaar!”

Wanneer daar skielik iets gebeur vergeet ons dit wat voor die hand liggend is maklik. Na ʼn lang vermoeiende dag besluit Jesus en sy dissipels om met hul skuit na die oorkant van die meer te vaar. Jesus gaan lê op die bank in die agterstewe en slaap. Toe die skuit al begin vol word van die aanhoudende golwe wat daarin slaan, gaan maak die dissipels Hom wakker. Hulle is besig om te vergaan en dit lyk asof Hy nie omgee wat met hulle gaan gebeur nie. 

Spreekwoordelik bars daar elke dag een of ander storm in ons lewe los. Dan is daar is twee maniere om deur die lewe te gaan – bang of gelowig. Soms is die belewenis hiervan ineen gestrengel en vervleg.  Sekere dae is my geloof sterk en sien ek kans vir alles. Ander dae is ek weer so bang dat ek van vrees inmekaar krimp. In Mk 4 leer ons dat gelowiges nooit bang hoef te wees nie.

Die skielike storm waarin die dissipels hulle meteens bevind het leer hulle om te vertrou. Eers nadat die Here opstaan en die wind bestraf, sien hulle die hulp wat voor die handliggend is raak.  Nie een besef dat hulle nog die hele tyd in Jesus se teenwoordigheid was nie.  Hulle vergeet dat Hy siekes genees het (Mk 1:31), duiwels uitgedryf het (Mk 1:25) en melaatsheid (Mk 1: 41) laat verdwyn het.

Ons verloor maklik perspektief as ons deur die storms van die lewe omring word.  Hoeveel keer het dit nie al ook vir u gevoel dat die Here slaap terwyl ek Hom so nodig gehad het nie? Waar was Hy toe my geliefde so siek geword het?  Waar was Hy toe my geld op geraak het?  Waar was Hy toe ek so alleen en eensaam gevoel het? Ja Here……. Waar was U toe die storms van die lewe my wou onderkry?

Ons gryp dan na oplossings en probeer eie planne beraam terwyl die Here nog die hele tyd by my is.  Van ewigheid af beskik Hy oor alles.  Met Jesus se wonder waarmee Hy die wind stil maak bewys Hy dat Hy oor alle mag beskik en dat alles onder sy beheer en regering staan.  Hy is die Stuurman van ons lewe.  Hy hou ons op koers en op pad. Hy doen dit by uitstek op Golgota.  Hy bestraf nie maar net die sonde nie.  Hy neem dit met sy eie lewe weg.  So verseker die Here dat ons in ewigheid nooit sal vergaan nie.  En in die stilte wat na die storm kom, leer ek ook weer dat Christus mag oor alles het.

Dors vir meer:

Ps 37

Gebed

Here, dankie dat U my elke dag bewaar en veilig hou te midde van al die storms rondom my. Vervul my met ontsag en leer my om U te gehoorsaam.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235