Skrifgedeelte: 2 Kon 6:8-23 Teks wat tref: v15
2 Kon 6:15 – “………. wat gaan ons nou maak?”
Terwyl ons daagliks beleef dat die Here besig is om ons te bewaar en dat ons in alles op Hom kan bly vertrou, gebeur dit dikwels dat Hy op vreemde en ander maniere besig is om na ons om te sien. Soms stuur Hy hulp vanaf vreemde plekke en ander kere maak Hy ons oë oop om die voor die handliggende raak te sien.
Daar heers steeds oorlog tussen die koning van Aram en die volk Israel. Die voortslepende teistering van die Arameërs word deur die tydige waarskuwings van die profeet Elisa in die wiele gery. Israel behaal die een sukses na die ander deur God se beskikking. Hulle word telkens beskerm en bewaar. Net so ervaar ons steeds dat God Alomteenwoordig en Alwetend is. Dit is net deur God se genade dat ons elke dag kan bestaan ten spyte van die aanvalle en gebeure rondom ons.
Tog begin ons twyfel as dit lyk dat die vyandige magte en gevare ons kan ondermyn. Die eise van elke dag saam met die spanning om te oorleef en die daaglikse beplanning om net staande te kan bly laat ons ook soms uitroep – “ Ag Here, wat gaan ons nou maak.”
Vir die koning was die oormag van die vyand net te veel. Omring deur werksdruk, vol programme en opgehoopte emosie word ons ook moedeloos. Selfs na die bemoediging van Elisa dat die wat by ons is, meer is as wat hulle is, bly die slaaf steeds bang.
Eers nadat die Here sy oë oopmaak dat hy kan sien verander die situasie. Skielik is die berge rondom hulle vol perde en strydwaens van vuur. Die hulp en uitkoms wat die Here stuur oortref die oormag van die vyand. Waar die slaaf eers blind was en die hulp wat reeds daar was, nie kon raaksien nie, word die vyand nou blind en moet hulle die aftog blaas.
Eers nadat die Here die slaaf se oë oopmaak sien hy die hulp wat voor die handliggend is raak. Soms is ons so vasgevang in gebeure dat ons geen uitkoms sien nie. Nog voordat ons enige planne beraam, het God reeds alles in plek en oor alles beskik dat ons behoue sal bly. Soms lyk alles net te veel om te hanteer. Dan stuur God sy Heilige Gees en gebruik Hy mense rondom my om uitkoms te bewerk. Ons sien dikwels dit wat voor die hand liggend is nie raak nie. Nog voordat enige gedagte by my kan opkom, weet die Here al klaar wat die uitkoms sal wees. Daarvoor het Christus aan die kruis gesterf sodat ons in Hom van die oorwinning seker kan wees.
Dors vir meer:
Mt 10:26-31
Gebed
Here, dankie dat U my oë oop maak sodat ek U kan sien. Leer my om altyd net op U te vertrou. Amen
Leave a Reply