Skriflesing: Psalm 78:40-72.
Verse wat tref: Psalm 78: 70-72 “En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.”
Doen!
Asaf sluit hierdie psalm af om weer uit te wys dat jy na die roepstem van die Here moet luister en reageer. Efriam het na die Here geluister nie, maar die Here uitgetart en geword soos ʼn boog waarmee jy nie meer kan vertrou om reg te skiet nie (verse 56-59).
Die Here het hulle verwerp en selfs toegelaat dat die tabernakel by Silo weggevoer word.
Met Dawid wys die Here weer Sy liefde vir die mensdom. Vanaf die skaapkrale (nederige taak) het die Here vir Dawid gekies en hom weggeneem om Israel op te pas.
Dawid doen dit dan met ʼn opregte hart- ʼn hart wat omgee en medelye het. Hy lei die volk vaardig met sy hande- hande waarmee hy moes oorlog maak om vrede vir Israel te vestig. Hande wat kan beskerm en bewaar asook leiding gee. Dawid wat gehoor het, gesien het en ook nou optree doen. As die Here roep moet ons nie net hoor nie, maar ook doen.
In Dawid se roeping sien ons reeds ook die koms van Jesus Christus. Christus wat die Goeie Herder is wat ons as Sy eiendom oppas en lei met ʼn sagte hand. Wie kan met ʼn meer opregte hart liefhê as die Een wat nie net weet waardeur ons gaan nie, maar self die losprys betaal het?
Die Here Jesus Christus wat gedoen het wat niemand van ons kon nie.
Halleluja!
Gebed
Dankie Here dat U ons nie oorgegee het aan die straf van sonde nie, maar deur U liefde vir ons die losprys betaal het. Dankie dat U ons vandag ook met ʼn opregte hart en ʼn bekwame hand lei. Mag ons vandag hoor en doen!
Amen.
Dors vir meer:
Johannes 10:7-21
Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei
Leave a Reply