Skrifgedeelte: Ps 104:1-17 Teks wat tref: v14,15
Ps 104:14 – “……. sodat hy sy kos uit die aarde kan kry”
In Psalm 104 leer ons om soveel dinge wat so voor de hand liggend is opnuut waar te neem. Die Psalm begin en eindig met die grootheid van God. Dit vertel van sy liefde en skeppingsmag. Die digter roep ons in vers 1 op om die Here te loof: God is groot, Almagtig en Alomteenwoordig. Sy kennis van God spreek van ‘n intieme en noue band. Hy spreek God met sy Verbondsnaam aan. God se verbondsbeloftes gee hoop en vertroue. God is nooit ver nie. God sal vir alles sorg en gee daarom ook hoop vir die toekoms.
Hy meet en beheer alles. Hy stel die grense vir alles vas. Oseane is die grootste en magtigste wat ons ken. God spreek eenvoudig en alles vloei na die plek toe wat Hy bestem het. Maar God let ook op die kleiner en fyner dinge soos die fonteine, voëls gras en wilde diere. Alles is in sy sorg.
Psalm 104 beskryf God se Meesterplan vir alles. Die detail waarmee God alles haarfyn beplan verseker ons dat daar niks is wat toevallig gebeur nie. Daar is plek vir die wilde diere om te drink. Die voëls maak neste en kwetter tussen die takke. Die aarde word met reën versadig.
Daarna kyk ons nog verder na alles wat die Here gee. In vers 14 en 15 word verwys na kos, wyn en olie. Dit verwys na alles wat nodig is om van te lewe. Dit sluit die noodsaaklike dinge en selfs luukshede in. Kos is noodsaaklik vir die mens om te oorleef. Wyn en olie is gebruik om voedsel voor te berei en te preserveer. Dit was ook ʼn skoonheidsmiddel. God is Almagtig maar het tog tyd gemaak om aan elke behoefte van die mens te dink. Dit is ʼn onteenseglike bewys van sy liefde.
Dit laat ons in verwondering leef. Dit maak ons dankbaar en bring berusting en hoop wanneer talle onsekerhede ons in wanhoop laat verval. In Christus het ons die grootste vervulling van God se sorg en liefde. Hy regeer as Koning en het alles oorwin sodat ons nie net op aarde nie, maar ook vir ewig versorg is.
Dors vir meer:
Ps 40
Gebed
Here, dankie dat U my daagliks versorg en bewaar. Leer my om opnuut alles wat voor die hand liggend is waar te neem en te waardeer. Amen
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235
Leave a Reply