Eks 2:5 – “Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal”

Terwyl ons daagliks beleef dat die Here besig is om ons te bewaar en dat ons in alles op Hom kan bly vertrou, gebeur dit dikwels dat Hy op vreemde en ander maniere besig is om na ons om te sien.  Hy stuur hulp vanaf vreemde plekke en soms uit ʼn oord waar ons dit nie van sal verwag nie. Dit laat ons besef dat niks aan toeval oorgelaat word nie, maar dat God altyd sy Plan sal deurvoer.  Dit gee weer hoop vir elke dag. 
 
Die Here seën die Israeliete sodat hulle getalle tydens hulle verblyf in Egipte uitermatig toeneem. Die Egiptiese koning probeer God se plan in die wiele ry en beveel dat die Hebreeuse seuntjies met geboorte doodgemaak moet word. Daar het God al geweet dat Hy Moses later sou gebruik om die Israeliete uit Egipte na vryheid te lei.
 
ʼn Man uit die stam Levi trou met ʼn Levitiese meisie en hul word met ʼn seuntjie geseën.  Haar moederliefde vir die mooi seuntjie laat haar planne beraam om hom aan die lewe te hou.  Nadat sy hom nie langer kan wegsteek nie, besluit sy om hom in ʼn biesiemandjie in die rivier tussen die riete te gaan sit.  Dit is ʼn waagstuk. Wat sal ʼn moeder nie alles doen om die veiligheid van haar kind te verseker nie?  Sy neem drastiese besluite in geloofsvertroue om haar kind se lewe te beskerm. 
 
Op ʼn vreemde en onvoorsiene manier kom daar hulp vanuit ʼn vreemde plek.  Dat dit juis die dogter van die Farao is wat die seuntjie tussen die riete vind is geen toeval nie.  God beskik dat die seuntjie veilig is en dat hy sy eerste jare deur sy eie moeder groot gemaak word. Dit moes vir haar steeds moeilik gewees het om hom later deur die dogter van die farao te laat aanneem. Maar die seuntjie se lewe is immers gespaar en hy word later deur God gebruik om die Israeliete te red. 
 
Vandag stuur die Here steeds hulp en uitkoms van vreemde plekke wanneer ons dit glad nie verwag nie.  Hy gebruik omstandighede om ons te red en veilig te hou al sou dit beteken dat ons soms opofferings moet maak.  Moses kry sy naam nadat die farao se dogter hom uit die water kom haal het.  Dit was sy redding. 
 
Christus kom haal ons figuurlik gesproke ook uit die water en ander moeilike omstandighede as alles hopeloos lyk. My nood is juis die geleentheid waar Hy sy Naam groot maak.  Wees bedag op die hulp wat die Here stuur en wees gereed dat Hy jou ook as hulp vir iemand anders kan stuur.
 
Dors vir meer:
Ps 18:1-18
 
Gebed
Here, dankie dat U my elke dag bewaar. Dankie vir elkeen wat my pad kruis en hulp verleen. Gebruik my ook om U Naam te verheerlik.  Amen
 
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235