Author: Karen de Lange (Page 6 of 33)

Dagstuk 9 Augustus 2021 – ʼn Eed tot die dood toe. – Skrifgedeelte: Rut 1.

Skrifgedeelte: Rut 1.
Vers wat tref, Rut 16-17: “Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

Naomi keer terug na Bethlehem na die dood van haar man en twee seuns. Aanvanklik neem sy haar twee skoondogters Rut en Orpa saam met haar totdat sy besluit dit is beter vir hulle om terug te keer na hul geboortehuise. Orpa draai terug maar Rut wil nie, maak nie saak hoeveel keer Naomi haar probeer oortuig nie. Rut bevestig haar oortuiging deur ʼn eed af te lê. Hierdie eed gaan nie net daaroor dat sy saam met Naomi gaan nie, maar dat sy alles van haar verlede agter haar los. Sy sien af van haar volk en haar godsdiens, meer nog, sy word ingesluit in Naomi se volk en neem God aan is die enigste Here- tot die dood toe.

Hoeveel keer het jy al so ‘n belofte afgelê? Met ʼn huweliksbelofte beloof jy dat jy vir altyd en deur alle omstandighede by die persoon sal bly staan, tot die dood julle skei. Maar hierdie eed gaan nog verder, dit pas baie mooi in by die belofte van jou belydenisaflegging. Ek laat my sondige lewe agter my en stap lewenslank ʼn lewenspad saam met die Here. Dit kom na vore in elke keuse wat ek elke dag van my lewe maak.

Hoe wonderlik is dit dat die Here met ʼn eed sy verbond aan ons bevestig nie! Hy stap ons lewenspad saam met ons, Hy sal ons nooit verlaat nie, nie eers die dood sal ons kan skei nie want in Jesus Christus het ons die ewige lewe!

Gebed.
Ons hemelse Vader. Dankie dat ons meer as oorwinnaars is deur Jesus Christus. Dankie dat U my nooit sal verlaat nie. Lei my om dankbaar elke dag te lewe deur u Heilige Gees. Amen.

Dors vir meer:
Romeine 8:31-39.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 06 Aug 2021 – Lesse uit die diereryk (3) – Skrifgedeelte: Ps 22:1-6

Skrifgedeelte: Ps 22:1-6     Teks wat tref:  v6

Ps 22:6   – “Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry; op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie.”

Daar is ʼn opgewondenheid by Dawid in vers 1 wanneer hy vir die koorleier opdrag gee vir die musiek wat by Psalm 22 hoort. – Op die wysie van: “Die wildsbok van die daeraad.” Daarna klink dit nie of die volgende verse hierby sal pas nie.  Hy worstel met God omdat hy ervaar dat die Here hom verlaat het.  Die Here voel vir hom ver. Snags kry hy geen rus nie. 

In vers 4 bevestig hy weer dat God die Heilige is wat woon waar die lofsange van Israel weerklink.  Terwyl die lofsange steeds in sy ore weerklink onthou hy dat die Here hul voorvaders bevry het en na hul hulpgeroep geluister het.  In die res van Psalm 22 stort Dawid dan sy hart en nood behoorlik voor die Here uit. Dit voel vir hom dat hy ʼn wurm is, dat die honde hom omsingel en die leeus hom verskeur.  Uiterlik is hy afgemat en innerlik het sy hart soos was geword. 

Ons beleef ook dae dat dit voel asof daar geen hoop meer is nie.  Ons leer in Psalm 22 om op daardie dae soos die wildsbok op te staan en die daeraad van God se skepping te gewaar.  Elke nuwe dag wat aanbreek bring weer nuwe hoop en bevestig dat God altyd daar is. Wanhoop verdwyn die oomblik wanneer Dawid God se trou en liefde sien.  Hy kan in vers 22 uitroep dat die Here sy gebede verhoor. 

Dawid was ʼn skaapwagter voordat hy koning geword het.  Hy het baie nagte in die veld deurgebring en die wildsbokke wat rats oor die klippe spring en oor die rante wip was sekerlik die inspirasie wat hom vroegoggend kon motiveer.  Die beeld van die wildsbok word meermale in die Bybel gebruik om lewenslus uit te beeld.  Die ratsheid en behendigheid van die wildsbok is aansteeklik en gee positiewe energie.  Met behendigheid en groot vernuf klouter die wildsbok die hoogste berge uit en staan trots teen die gloed van die daeraad.

Ons lees in Ps 42:2 – “Soos die wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God .”

In Hooglied 2:8,9 is daar ʼn opgewondenheid as die bruidegom oor die rante wip om by sy geliefde uit te kom. In Habakuk 3:19 gee die Here uitkoms: “Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos die van ʼn ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

In ons versugtinge en worstelinge leer ons om soos die wildsbok na die Here te smag en word ons versterk as Christus ons verseker dat Hy ons deur die Heilige Gees veilig sal laat loop.  Begin jou dag op die wysie van: “Die wildsbok van die daeraad.”  Leef opgewonde en bly want God het ons bevry. 

Dors vir meer:

Ps 42

Gebed

Here, dankie dat U my bevry het en weer nuwe hoop gee. Dankie dat ek elke dag met ʼn lied in my hart tegemoet kan gaan. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 04 Aug 2021 – Lesse oor Hoop uit die diereryk (2) – Psalm 84

Skrifgedeelte: Psalm 84      Teks wat tref:  v12

Ps 84:12   – “Die Here God is ons krag en ons beskerming.”

Almal begeer ʼn huisie by die see. ʼn Plek waar ek van al die geraas, gejaagdheid en gewoel kan wegkom.  Vir die mossie en swaeltjie is daardie plek die tempel van die Here.  Dit is ‘n tuiste waar hulle veilig voel en die plek waarheen die swaeltjie haar kleintjies neem.  Dit is opvallend dat die koorleier se gedagtes by die Here, Almagtige begin en dan na die voëls wat ʼn nessie by die tempel het beweeg. 

Die verlange na die Here se woning, of dan tempel, en die begeerte om by die drumpel van die huis van God te staan, verwoord die digter se dringende en intense begeerte om altyd naby die Here te wees.  Een dag in die Here se tempel is beter as duisend daar buite. Hy beleef dat dit goed gaan met die mense wat daar woon en daar krag vind. Die Koragiete het tempeldiens verrig en veral as sangers opgetree.  Hulle het eerstehandse kennis.

Dit is juis waarom hulle met kragtige beelde uit die natuur sing van die oorvloed en vreugde waar die Here is. Daar gaan fonteine oop wanneer hulle deur die dorre land beweeg. Daar is verkwikking wanneer hulle keer op keer nuwe krag ontvang as die vroeë reëns sy seëninge bring.

Ons huidige omstandighede laat dit voel dat ons in ʼn woestynwêreld leef.  Die eise en aanslae is ongenaakbaar en fel.  Dit is so intens dat hulle tot die Here, almagtige God roep om na hul gebede te luister. Hulle is so seker dat hul gebede verhoor sal word dat hul reeds in vers 12 bely: – “die Here God is ons krag en ons beskerming.”  Daarby weerhou die Here ook nie die goeie van dié wat reg lewe nie. Dit gaan goed met die mens wat op God vertrou. 

ʼn Woonplek by die tempel was vir die mossies en swaeltjies baie gesog.  Wanneer ons ʼn blyplek soek of droom oor ʼn huisie by die see is die regte adres nogal belangrik.  ʼn Aardse woning moet aan sekere vereistes voldoen en selfs uitstaan. Tog is daar  nog ʼn belangriker woonplek en ewige tuiste. In Johannes 14 word ons verseker dat Christus na die huis van sy Vader gegaan het om vir ons woonplek voor te berei.  Staan liewer by die drumpel van die huis van God as om te woon in huise sonder God. 

Mag ons net soos die mossies en swaeltjies daarna verlang om naby die Here te woon. 

Dors vir meer:

Jh 14: 1-14

Gebed

Here, ek versmag van verlange na U tempel en om naby U te woon. Dankie dat Christus vir ons gaan plek voorberei het.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 02 Aug 2021 – Lesse uit die diereryk (1) – Skrifgedeelte: Spreuke 30:1-5 en 24-28   

Skrifgedeelte: Spreuke 30:1-5 en 24-28      Teks wat tref v5

Spreuke 30:5 – “Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm die wat by Hom skuil.”

Met meer as 8.9 miljoen beskikbare toepassings (Apps) vir gebruik op selfone, moet ons saam met Agur in Spreuke 30 steeds erken dat ons nog nie al die wysheid bekom het nie.  Ons staan verstom voor die Here se grootheid en besef opnuut ons eie nietigheid.  Ons bely saam met Agur dat elke belofte van God betroubaar is en vind troos daarin dat die Here dié wat by Hom skuil beskerm.

In Spreuke 30:24 word getalle gebruik om iets hiervan te verstaan – “Daar is vier goed in die wêreld wat klein is maar buitengewone wysheid het.” Ons leer by die miere, dassies, sprinkane en geitjie wat dit beteken om die Here te volg. Kom ons noem dit toepassings (Apps) vir ons geloofslewe.

Die miere is nie sterk nie en tog sit hulle in die somer vir hulle kos weg.  Hierdie optrede getuig van wysheid om altyd voorbereid te leef en gereed te wees vir moeilike omstandighede wat later mag voorkom. Ons moet deeglik beplan. Ons moet voorsorg tref.

Die dassies het nie veel krag nie en tog maak hulle hul tuis teen die kranse.  Hulle vermag die ontmoontlike om hul eie veiligheid te verseker en te skuil waar ander diere hulle lewens nie kan bedreig nie. Ons moet seker maak dat ons ʼn skuilplek teen gevare het.

Die sprinkane het nie ʼn koning nie en tog trek die hele swerm in formasie. Deur saam te groepeer en ʼn hegte eenheid te vorm, verseker die sprinkane dat hulle nie gestuit sal word as hulle in massas beweeg nie. 

Die geitjie kan jy met die hand vang en tog kry jy hom in koninklike paleise.  Hy is oral tuis en beweeg waar hy wil.

Elkeen van hierdie diertjies beskik oor buitengewone wysheid. Met elkeen se unieke eienskappe en optrede verseker hulle hul voortbestaan.  Met hierdie voorbeelde uit die diereryk leer ons om daagliks te sorg dat ons geestelik voorbereid is (miere), te sorg dat ons geloof bewaar word (dassies), mekaar te ondersteun en saam te staan (sprinkane) en soos die geitjie ons uniekheid in Christus te vertoon. 

In Christus is elke belofte van God waar. Hy beskerm die wat by Hom skuil. 

Dors vir meer:

Spreuke 6: 1-15

Gebed

Here, ek erken my eie gebreke en tekortkominge. Dankie dat U my elke dag leer om voorbereid, waaksaam en doelgerig te leef.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 30 Julie 2021 – Lesse oor Hoop uit die diereryk (3) – Skrifgedeelte: Mt 10:16-20

Skrifgedeelte: Mt 10:16-20       Teks wat tref:  v16

Mt 10:16   – “Ek (Jesus) stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.”

In hierdie gedeelte gebruik Jesus ʼn paar vreemde vergelykings.  Skape, wolwe, slange en duiwe hoort immers nie saam nie. Skape se natuurlike vyand is wolwe. Netso hoort slange en duiwe nie saam nie.  Met die oënskynlike vreemde beeldspraak leer Jesus sy volgelinge om op Hom te vertrou. Deurdat hulle hul nie hoef te bekommer oor wat hulle moet sê nie, word hul deur die Gees versterk om moed te skep en hoopvol te leef.

Elkeen van Jesus se opdragte berei hulle voor om te getuig. Jesus wil nie dat hulle onverhoeds betrap word nie. Gebeure van die afgelope weke met die plundering van winkels en die vernietiging van infra-strukture het almal onkant betrap.  Dit is een van die mees onbenydenswaardigste posisies waarin ek myself kan bevind. As ek onkant en onvoorbereid betrap word verdwyn alle hoop. 

Jesus verwys na verskillende diere om ons voor te berei.  Dit is maklik om die wolwe tussen die skape te identifiseer.  Wolwe word redelik maklik uitgeken as daar gevaar ontstaan. Wolwe is hier ʼn waarskuwing teen vyandige magte sowel as ander geestelike gevare. Deur jou vyand te ken kan jy weerstand bied. 

Jesus se verwysing na die slang en duif beskryf die optrede wat ons moet openbaar.  Alhoewel die beeld van die slang gewoonlik gebruik word om na die Satan te verwys,  is die bedoeling hier dat ons waaksaamheid sal openbaar.  Juis omdat die slang listig is, en daarom versigtig optree om nie vertrap te word nie,  word ons daarop bedag gemaak om met groot omsigtigheid op te tree.  Soms sal dit ook nodig wees om die opregtheid van die duiwe te openbaar.  Dit dui op suiwer intensies sonder enige versteekte agendas en bybedoelings.

Laastens word ons deur die inwoning van die Heilige Gees versterk. Dit is onvermydelik dat daar vervolging en moeilike omstandighede op ons pad sal kom.  Ons sal onverhoeds betrap word en dalk nie weet wat om te sê of te doen nie.  Dan sal die Gees van ons Vader deur ons praat. 

Dit verseker dat ons hoopvol kan leef omdat Jesus ons voorberei en gereed maak op elke moontlike gebeurtenis. 

Dors vir meer:

Ps 23

Gebed

Here, dankie dat U ons voorberei om teen vervolging te kan optree. Leer my om na die stem van U Gees te luister.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Ek en Ds Danie neem beurte met die skryf van dagstukkies. Dit is saam met preke en ander inligting ook beskikbaar op GK Rietvallei se webblad (www.gkrietvallei.co.za). Groete Petrus

Dagstuk 28 Julie 2021 – Lesse oor Hoop uit die diereryk (2) – Skrifgedeelte: Deut 32:1-12

Skrifgedeelte: Deut 32:1-12      Teks wat tref:  Deut 32:11b,12

Deut 32:11b,12   – “…… soos ʼn arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei.”

In Deut 32:1 roep Moses twee getuies wanneer hy praat. Die hemel en die aarde moet na sy woorde luister.  Hy wil die Naam van die Here roem. Hiervoor gebruik hy die reënwater, dou en sagte reëns as beelde om God se omvangryke sorg te beskryf.  Hy beleef God as die Rots.

Maar net daarna moet hy erken dat Israel ontrou aan die Here is. Hy noem hulle ʼn dwase volk, vals en korrup, en nie geskik vir die Here se diens nie.  Alhoewel hulle niks verdien het nie, kom omhels die Here tog nog sy volk. God vertroetel hulle en versorg hulle soos die appel van sy oog.  Dit beantwoord die tergendste vraag van die mens: “Is daar nog hoop?”

Ek beleef soms letterlik dat ek uit my nes geskop word. Omstandighede veroorsaak dat en nie meer in my gemaksone kan leef nie. Veranderde lewensomstandighede  en gevolge van Covid en onrus laat ons onveilig, verlate en verlore voel.

Aanvanklik klink dit wreed dat die arend sy kleintjies uit die nes skop. Tog is dit die enigste manier om te verseker dat die kleintjies sal leer om te vlieg.  Terwyl hulle na benede tuimel, sprei hul instinktief hul vlerke.  Die val word afgeweer wanneer die vlerke geoefen is om te kan vlieg.  In hierdie hele proses fladder die arend beskermend bokant hulle om te kyk waar en wanneer dit nodig is om weer onder hulle in te beweeg en sy vlerke oop te sprei om hulle te vang voordat hulle die grond tref. 

Die verloop van die lewe sal ons dikwels uit ons veilige nes kom skop.  In onseker tye en gedurende oomblikke waar ek voel dat ek afwaarts tuimel en my teen die grond te pletter gaan val, kom dra God ons op sy vlerke.  Hiervoor gebruik Hy ouers om kinders verantwoordelikheid te leer en hoop in onseker tye te gee. Hy gebruik mense rondom my om te ondersteun en te keer as ek val.

Is daar nog hoop? –  Ja, in Christus is ek van die lewe verseker. 

Dors vir meer:

Sag 8:1-15

Gebed

Here, dankie dat U my opvang wanneer dit voel dat alles in duie stort. Dankie dat U my elke dag soos die sagte dou kom verkwik en nuwe hoop bring.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Ek en Ds Danie neem beurte met die skryf van dagstukkies. Dit is saam met preke en ander inligting ook beskikbaar op GK Rietvallei se webblad (www.gkrietvallei.co.za). Groete Petrus

Dagstuk 26 Julie 2021 – Lesse oor Hoop uit die diereryk (1) – Skrifgedeelte: Mt 6:25-35

Skrifgedeelte:  Mt 6:25-35      Teks wat tref: v25

Mt 6:25   – “Moet julle nie bekommer oor julle lewe nie.”

Met die volgende aantal dagstukkies lees ons van die optrede van diere wat ons weer nuwe hoop gee. Die belangrikheid van diere in die Bybel is reeds in Genesis duidelik met die skeppingsverhaal. Te midde van ons bestaande nood verskuif Jesus ons fokus na die wilde voëls.  In ander bekende gedeeltes word na die arend (Jes 40:31) verwys terwyl die duif wat Noag (Gn 11:9-12) uitstuur om te bepaal of daar droë grond is, sy hoop op oorlewing bevestig. 

Die onrus, geweld en onlangse plundery saam met die seer van Covid bring oneindige bekommernis. Dit word letterlik ʼn stryd om oorlewing oor dit wat ek sal aantrek of eet.  Die aanskoue van die vernietiging van lewensnoodsaaklike strukture en die konvooie trokke wat voedsel aanry sal nie maklik vergeet word nie.   

Terwyl Jesus die nood van die mens ken, verwys Hy na die optrede van die wilde voëls.  Groot swerms voëls was vir die Jode ook nie onbekend nie.  Inteendeel was dit deel van hulle alledaagse bestaan.  Ons het so verstrik geraak met ons omstandighede dat ons ook nie meer kennis neem van die voëls wat elke dag in die hemelruim sweef en in ons tuine kom nesmaak nie. Hulle is maar net daar. Wanneer laas het jy die getjirp van ʼn voël gewaar?

Die wilde voëls is deel van God se skepping en Jesus se verwysing daarna leer ons wat dit beteken om moed te skep en aan te hou om te hoop.  Dit lyk amper asof die voëls ʼn sorgelose bestaan het.  Hulle doen niks nie. Hulle maak nie in skure bymekaar nie. Hulle oes nie.  En tog is daar steeds elke dag groot swerms wat oral versamel. Boonop sweef die voëls vry rond asof daar geen bekommernisse is nie.  Soms smag ons ook daarna om so vry soos ʼn voël te wees. Om net vir ʼn oomblik van die eindelose gejaag te ontsnap. Om letterlik van die wanhoop na ʼn plek van hoop te vlieg.

Jesus wys eers daarop dat dit die mens nie beskore is nie. Inteendeel skets Hy ʼn nog donkerder prentjie. Geen bekommernis kan my lewe verander nie.  Op moed verloor se vlakte is die beste plek om hoop te kry. Hier kom maak Christus jou vry.

Met die verwysing na die prag en praal van Salomo beklemtoon Jesus my posisie. Jy is vir God baie meer werd. Daarvoor het Jesus aan die kruis gesterf en ook opgestaan. Jou hemelse Vader sorg vir jou. Sonder dat ek daaraan dink weet Hy wat ek nodig het. Ek is vir Hom oneindig kosbaar.  Nes die voëls het ek niks om aan te bied nie.  Net Christus sorg vir my!

Dors vir meer:

Mt 10:26-31

Gebed

Here, dankie dat U elke dag vir my sorg. Leer my om altyd na U wil te vra.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Ek en Ds Danie neem beurte met die skryf van dagstukkies. Dit is saam met preke en ander inligting ook beskikbaar op GK Rietvallei se webblad (www.gkrietvallei.co.za). Groete Petrus

Dagstuk 23 Julie 2021- Waar daar hoop is, is daar lewe! (3) – Skrifgedeelte: 1 Petrus 3:13-22.

Skrifgedeelte: 1 Petrus 3:13-22.
Vers wat tref, vers 15. “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”

Ons ken die uitdrukking: Waar daar lewe is, is daar hoop. Hoop dat ʼn persoon wat siek is, gesond kan word. Hoop dat die nuwe dag nuwe geleenthede kan bring.
So lees ons dan dat Petrus die lesers wat deur baie moeilike omstandighede gaan herinner dat ander wel die hoop wat in hulle leef raaksien.
Hoekom staan hulle uit bo ander? Hulle leef met hoop! Verder moet hulle altyd gereed wees om vir iemand ʼn antwoord te gee oor die hoop wat in hulle leef.

Maar hoekom leef hul met hoop? Want wie in Jesus Christus glo het hoop. En waar hoop is, daar is lewe! En wie op Hom bly hoop, sal lewe, gelukkig en salig, vir ewig.
Daarom is daar nie net vir ons hoop waar lewe is nie, maar omdat ons hoop (glo), is daar vir ons die ewige lewe. Hierdie hoop maak dat ons nou reeds anders lewe- lewe met ʼn vreugde omdat ons deel het aan die ewige lewe!

Mag ons ten spyte van verdrukking en vervolging lewe as persone wat ander ons kom vra oor die hoop wat in ons lewe! Is jy gereed om vir elkeen ʼn antwoord te gee?

Gebed.
Here ons Here. Dankie dat ek kan hoop op die dinge wat ek nog nie kan sien nie en kan volkome kan vertrou dat al U beloftes waar is. Versterk my deur U Heilige Gees dat ek vol hoop mag leef! Amen

Dors vir meer:
Romeine 15:1-13.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 21 Julie 2021- Hoop op God! (2) – Skrifgedeelte: Psalm 42.

Skrifgedeelte: Psalm 42.
Vers wat tref, vers 6. “Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom weer loof vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring. ”

Hoop op God! Dalk is dit net hierdie 3 woorde wat jy vandag weer nodig het om te hoor.
Die psalmdigter van Psalm 42 is op ʼn manier besig om vir homself te preek. Dit gaan nie goed met hom nie, die omstandighede om hom is moeilik. Hy kan nie by die tempel van die Here uitkom nie. Hy voel afgesny van sy lewensbron. Maar dan preek hy vir homself: Hoekom is ek so onrustig? Hoekom word ek so opgeëet deur die spanning van my omstandighede? My binneste is onrustig, soos ʼn wildsbok wat smag na water, smag ek na God.
Net 3 woorde wat ver bo die omstandighede uitstaan: Hoop op God!
Hoop vandag weer op God. Jesus Christus het vir ons die verlossing gebring sodat ons in Sy teenwoordigheid kan wees. Die Heilige Gees is in ons harte uitgestort sodat ons God se liefde en teenwoordigheid altyd kan beleef. Wanneer ons siel in ons onrustig is, dan keer ons weer na die Here en sy Woord en word herinner ons hoop is in God wat die bronwel van lewe en hoop is.

Psalm 42:3 (Totius).
O my siel, waarom onrustig?
En wat buig jy jou in my?
Waarom in Gods lof onlustig
as die vyand jou bestry?
Menigmaal het Hy jou druk
laat verwissel in geluk.
Hoop op God, in Hom weer rustig!
In sy lof sal ‘k my verlustig.

Gebed.
Ons hemelse Vader. Waarom is my siel so onrustig? Lei my om weer op U te hoop!
Amen

Dors vir meer:
Hebreërs 6:13-20.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 19 Julie 2021- Verbly jul in die hoop! (1) – Skrifgedeelte: Romeine 5:1-11.

Skrifgedeelte: Romeine 5:1-11.
Vers wat tref, vers 2. “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.”

Die Bybelse hoop is ʼn vaste sekerheid en ʼn gretige afwagting op dit wat gaan kom!
Dit is in kontras met twyfel, onsekerheid en vrees.

In hierdie gedeelte word ons weer herinner aan die blye sekerheid wat daar vir ons is dat God sy genade aan ons bewys het. Dit is onvervreembaar- niemand kan dit van ons af wegneem nie.

Dink vandag opnuut na oor hierdie wonder: Ek deel in God se heerlikheid. Hy het alles gegee en gedoen sodat ek kan deel in Sy genade. Dit is ʼn vreugde wat ons verstand amper te bowe gaan. EK bly in verwondering staan oor hierdie groot voorreg!

Die wêreld is vol onsekerheid, swaarkry en vrees, maar daar is geen omstandighede wat hierdie blywende vreugde van ons kan wegneem nie. Inteendeel, ons swaarkry laat ons met nog meer hoop uitsien na wat op ons wag.
God self is die grond vir ons blye sekerheid en die Heilige Gees bevestig dit vir ons.

Gebed.
Here baie dankie dat ons deel in U heerlikheid. Dankie dat U dit alles skenk uit genade deur U geliefde Seun Jesus Christus. Lei ons vandag deur U Heilige Gees om met blywende vreugde op U te hoop.
Amen

Dors vir meer:
Hebreërs 11:1-3.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

« Older posts Newer posts »