Skrifgedeelte: Deut 32:1-12 Teks wat tref: Deut 32:11b,12
Deut 32:11b,12 – “…… soos ʼn arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei.”
In Deut 32:1 roep Moses twee getuies wanneer hy praat. Die hemel en die aarde moet na sy woorde luister. Hy wil die Naam van die Here roem. Hiervoor gebruik hy die reënwater, dou en sagte reëns as beelde om God se omvangryke sorg te beskryf. Hy beleef God as die Rots.
Maar net daarna moet hy erken dat Israel ontrou aan die Here is. Hy noem hulle ʼn dwase volk, vals en korrup, en nie geskik vir die Here se diens nie. Alhoewel hulle niks verdien het nie, kom omhels die Here tog nog sy volk. God vertroetel hulle en versorg hulle soos die appel van sy oog. Dit beantwoord die tergendste vraag van die mens: “Is daar nog hoop?”
Ek beleef soms letterlik dat ek uit my nes geskop word. Omstandighede veroorsaak dat en nie meer in my gemaksone kan leef nie. Veranderde lewensomstandighede en gevolge van Covid en onrus laat ons onveilig, verlate en verlore voel.
Aanvanklik klink dit wreed dat die arend sy kleintjies uit die nes skop. Tog is dit die enigste manier om te verseker dat die kleintjies sal leer om te vlieg. Terwyl hulle na benede tuimel, sprei hul instinktief hul vlerke. Die val word afgeweer wanneer die vlerke geoefen is om te kan vlieg. In hierdie hele proses fladder die arend beskermend bokant hulle om te kyk waar en wanneer dit nodig is om weer onder hulle in te beweeg en sy vlerke oop te sprei om hulle te vang voordat hulle die grond tref.
Die verloop van die lewe sal ons dikwels uit ons veilige nes kom skop. In onseker tye en gedurende oomblikke waar ek voel dat ek afwaarts tuimel en my teen die grond te pletter gaan val, kom dra God ons op sy vlerke. Hiervoor gebruik Hy ouers om kinders verantwoordelikheid te leer en hoop in onseker tye te gee. Hy gebruik mense rondom my om te ondersteun en te keer as ek val.
Is daar nog hoop? – Ja, in Christus is ek van die lewe verseker.
Dors vir meer:
Sag 8:1-15
Gebed
Here, dankie dat U my opvang wanneer dit voel dat alles in duie stort. Dankie dat U my elke dag soos die sagte dou kom verkwik en nuwe hoop bring. Amen
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235
Ek en Ds Danie neem beurte met die skryf van dagstukkies. Dit is saam met preke en ander inligting ook beskikbaar op GK Rietvallei se webblad (www.gkrietvallei.co.za). Groete Petrus
Leave a Reply