Skrifgedeelte:  Mt 6:25-35      Teks wat tref: v25

Mt 6:25   – “Moet julle nie bekommer oor julle lewe nie.”

Met die volgende aantal dagstukkies lees ons van die optrede van diere wat ons weer nuwe hoop gee. Die belangrikheid van diere in die Bybel is reeds in Genesis duidelik met die skeppingsverhaal. Te midde van ons bestaande nood verskuif Jesus ons fokus na die wilde voëls.  In ander bekende gedeeltes word na die arend (Jes 40:31) verwys terwyl die duif wat Noag (Gn 11:9-12) uitstuur om te bepaal of daar droë grond is, sy hoop op oorlewing bevestig. 

Die onrus, geweld en onlangse plundery saam met die seer van Covid bring oneindige bekommernis. Dit word letterlik ʼn stryd om oorlewing oor dit wat ek sal aantrek of eet.  Die aanskoue van die vernietiging van lewensnoodsaaklike strukture en die konvooie trokke wat voedsel aanry sal nie maklik vergeet word nie.   

Terwyl Jesus die nood van die mens ken, verwys Hy na die optrede van die wilde voëls.  Groot swerms voëls was vir die Jode ook nie onbekend nie.  Inteendeel was dit deel van hulle alledaagse bestaan.  Ons het so verstrik geraak met ons omstandighede dat ons ook nie meer kennis neem van die voëls wat elke dag in die hemelruim sweef en in ons tuine kom nesmaak nie. Hulle is maar net daar. Wanneer laas het jy die getjirp van ʼn voël gewaar?

Die wilde voëls is deel van God se skepping en Jesus se verwysing daarna leer ons wat dit beteken om moed te skep en aan te hou om te hoop.  Dit lyk amper asof die voëls ʼn sorgelose bestaan het.  Hulle doen niks nie. Hulle maak nie in skure bymekaar nie. Hulle oes nie.  En tog is daar steeds elke dag groot swerms wat oral versamel. Boonop sweef die voëls vry rond asof daar geen bekommernisse is nie.  Soms smag ons ook daarna om so vry soos ʼn voël te wees. Om net vir ʼn oomblik van die eindelose gejaag te ontsnap. Om letterlik van die wanhoop na ʼn plek van hoop te vlieg.

Jesus wys eers daarop dat dit die mens nie beskore is nie. Inteendeel skets Hy ʼn nog donkerder prentjie. Geen bekommernis kan my lewe verander nie.  Op moed verloor se vlakte is die beste plek om hoop te kry. Hier kom maak Christus jou vry.

Met die verwysing na die prag en praal van Salomo beklemtoon Jesus my posisie. Jy is vir God baie meer werd. Daarvoor het Jesus aan die kruis gesterf en ook opgestaan. Jou hemelse Vader sorg vir jou. Sonder dat ek daaraan dink weet Hy wat ek nodig het. Ek is vir Hom oneindig kosbaar.  Nes die voëls het ek niks om aan te bied nie.  Net Christus sorg vir my!

Dors vir meer:

Mt 10:26-31

Gebed

Here, dankie dat U elke dag vir my sorg. Leer my om altyd na U wil te vra.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Ek en Ds Danie neem beurte met die skryf van dagstukkies. Dit is saam met preke en ander inligting ook beskikbaar op GK Rietvallei se webblad (www.gkrietvallei.co.za). Groete Petrus