Skrifgedeelte: 1 Petrus 3:13-22.
Vers wat tref, vers 15. “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”

Ons ken die uitdrukking: Waar daar lewe is, is daar hoop. Hoop dat ʼn persoon wat siek is, gesond kan word. Hoop dat die nuwe dag nuwe geleenthede kan bring.
So lees ons dan dat Petrus die lesers wat deur baie moeilike omstandighede gaan herinner dat ander wel die hoop wat in hulle leef raaksien.
Hoekom staan hulle uit bo ander? Hulle leef met hoop! Verder moet hulle altyd gereed wees om vir iemand ʼn antwoord te gee oor die hoop wat in hulle leef.

Maar hoekom leef hul met hoop? Want wie in Jesus Christus glo het hoop. En waar hoop is, daar is lewe! En wie op Hom bly hoop, sal lewe, gelukkig en salig, vir ewig.
Daarom is daar nie net vir ons hoop waar lewe is nie, maar omdat ons hoop (glo), is daar vir ons die ewige lewe. Hierdie hoop maak dat ons nou reeds anders lewe- lewe met ʼn vreugde omdat ons deel het aan die ewige lewe!

Mag ons ten spyte van verdrukking en vervolging lewe as persone wat ander ons kom vra oor die hoop wat in ons lewe! Is jy gereed om vir elkeen ʼn antwoord te gee?

Gebed.
Here ons Here. Dankie dat ek kan hoop op die dinge wat ek nog nie kan sien nie en kan volkome kan vertrou dat al U beloftes waar is. Versterk my deur U Heilige Gees dat ek vol hoop mag leef! Amen

Dors vir meer:
Romeine 15:1-13.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei