Skrifgedeelte: Psalm 42.
Vers wat tref, vers 6. “Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom weer loof vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring. ”

Hoop op God! Dalk is dit net hierdie 3 woorde wat jy vandag weer nodig het om te hoor.
Die psalmdigter van Psalm 42 is op ʼn manier besig om vir homself te preek. Dit gaan nie goed met hom nie, die omstandighede om hom is moeilik. Hy kan nie by die tempel van die Here uitkom nie. Hy voel afgesny van sy lewensbron. Maar dan preek hy vir homself: Hoekom is ek so onrustig? Hoekom word ek so opgeëet deur die spanning van my omstandighede? My binneste is onrustig, soos ʼn wildsbok wat smag na water, smag ek na God.
Net 3 woorde wat ver bo die omstandighede uitstaan: Hoop op God!
Hoop vandag weer op God. Jesus Christus het vir ons die verlossing gebring sodat ons in Sy teenwoordigheid kan wees. Die Heilige Gees is in ons harte uitgestort sodat ons God se liefde en teenwoordigheid altyd kan beleef. Wanneer ons siel in ons onrustig is, dan keer ons weer na die Here en sy Woord en word herinner ons hoop is in God wat die bronwel van lewe en hoop is.

Psalm 42:3 (Totius).
O my siel, waarom onrustig?
En wat buig jy jou in my?
Waarom in Gods lof onlustig
as die vyand jou bestry?
Menigmaal het Hy jou druk
laat verwissel in geluk.
Hoop op God, in Hom weer rustig!
In sy lof sal ‘k my verlustig.

Gebed.
Ons hemelse Vader. Waarom is my siel so onrustig? Lei my om weer op U te hoop!
Amen

Dors vir meer:
Hebreërs 6:13-20.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei