Skrifgedeelte: Romeine 5:1-11.
Vers wat tref, vers 2. “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.”

Die Bybelse hoop is ʼn vaste sekerheid en ʼn gretige afwagting op dit wat gaan kom!
Dit is in kontras met twyfel, onsekerheid en vrees.

In hierdie gedeelte word ons weer herinner aan die blye sekerheid wat daar vir ons is dat God sy genade aan ons bewys het. Dit is onvervreembaar- niemand kan dit van ons af wegneem nie.

Dink vandag opnuut na oor hierdie wonder: Ek deel in God se heerlikheid. Hy het alles gegee en gedoen sodat ek kan deel in Sy genade. Dit is ʼn vreugde wat ons verstand amper te bowe gaan. EK bly in verwondering staan oor hierdie groot voorreg!

Die wêreld is vol onsekerheid, swaarkry en vrees, maar daar is geen omstandighede wat hierdie blywende vreugde van ons kan wegneem nie. Inteendeel, ons swaarkry laat ons met nog meer hoop uitsien na wat op ons wag.
God self is die grond vir ons blye sekerheid en die Heilige Gees bevestig dit vir ons.

Gebed.
Here baie dankie dat ons deel in U heerlikheid. Dankie dat U dit alles skenk uit genade deur U geliefde Seun Jesus Christus. Lei ons vandag deur U Heilige Gees om met blywende vreugde op U te hoop.
Amen

Dors vir meer:
Hebreërs 11:1-3.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei