Skrifgedeelte: Lk 17:20-37 Teks wat tref: Lk 17:34,35
Lk 17 34,35 – “. …… die een sal saam geneem word en die ander een agtergelaat word”
Jesus het sy dissipels met gelykenisse geleer wat dit beteken om Hom te volg. (Lk 9) Hy waarsku ook later in Lk 20:9-19 dat sy volgelinge openlik vervolg sal word. Al die gebeure het ʼn bepaalde gevolg – …… “die een sal saam geneem word en die ander een agtergelaat word.” .
Die Fariseërs wil weet wanneer die koninkryk van God kom. Hulle besef nie dat God se koninkryk daar is waar Hy regeer. Dit is nie gebonde aan ʼn spesifieke tyd of plek nie. Jesus moet eers baie ly en deur mense verwerp word. Daarna sal Hy skielik en merkbaar soos ʼn weerligstraal verskyn. Hiermee verwys Jesus na sy wederkoms wanneer Hy sal oordeel. Dit sal onverwags en sigbaar vir almal wees.
Intussen sal die mense maar soos gewoonlik eet, drink en in die huwelik tree. Daar bestaan geen dringendheid om voorbereid te leef nie. Met twee voorbeelde uit die Ou Testament (Noag en Lot) spoor Jesus die mense aan om gereed te maak en Hom te volg. Volgelinge van Hom moet dringend en daadwerklik optree en met woord en daad wys dat hulle Hom volg. Jou leefwyse en keuses het ʼn direkte gevolg met betrekking tot jou eindbestemming: “die een sal saam geneem word en die ander een agtergelaat word.”
Met hierdie harde woorde leer Jesus ons dat daar geweldige vereistes vir sy volgelinge gestel word. Ons moet elke oomblik gereed wees. Party sal op die dakstoep sit en ander sal op die land werksaam wees. Maak seker dat jy altyd gereed is as die Seun van die mens verskyn. Besin of jy nou op die plek is waar jy die Here kan ontmoet?
Op daardie dag sal twee mense op een bed slaap en een sal saamgeneem word. Twee vroue sal koring maal en een sal saamgeneem word. Hiermee het Jesus aangetoon dat daar geen plek is waar ons sy oordeel met sy verskyning kan ontvlug nie. Maak seker dat jy altyd gereed is. Die dissipels verstaan steeds nie die dringendheid daarvan om Jesus reg te volg nie wanneer hulle Hom vra waar dit sal gebeur nie. Aasvoëls wat bymekaarkom is ʼn besliste aanduiding dat daar aas is. Dit is ʼn feit. So seker is dit dat Jesus weer sal kom.
Hoe jy die Here volg het ʼn bepaalde en definitiewe gevolg!
Dors vir meer:
Ps 25
Gebed
Here, ons is omring deur soveel nood en swaarkry. Daarby worstel ek daagliks om staande te bly en teen die sonde te stry. Stuur U Gees om my vir U koms voor te berei. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply