Skrifgedeelte: Spreuke 30:1-5 en 24-28 Teks wat tref v5
Spreuke 30:5 – “Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm die wat by Hom skuil.”
Met meer as 8.9 miljoen beskikbare toepassings (Apps) vir gebruik op selfone, moet ons saam met Agur in Spreuke 30 steeds erken dat ons nog nie al die wysheid bekom het nie. Ons staan verstom voor die Here se grootheid en besef opnuut ons eie nietigheid. Ons bely saam met Agur dat elke belofte van God betroubaar is en vind troos daarin dat die Here dié wat by Hom skuil beskerm.
In Spreuke 30:24 word getalle gebruik om iets hiervan te verstaan – “Daar is vier goed in die wêreld wat klein is maar buitengewone wysheid het.” Ons leer by die miere, dassies, sprinkane en geitjie wat dit beteken om die Here te volg. Kom ons noem dit toepassings (Apps) vir ons geloofslewe.
Die miere is nie sterk nie en tog sit hulle in die somer vir hulle kos weg. Hierdie optrede getuig van wysheid om altyd voorbereid te leef en gereed te wees vir moeilike omstandighede wat later mag voorkom. Ons moet deeglik beplan. Ons moet voorsorg tref.
Die dassies het nie veel krag nie en tog maak hulle hul tuis teen die kranse. Hulle vermag die ontmoontlike om hul eie veiligheid te verseker en te skuil waar ander diere hulle lewens nie kan bedreig nie. Ons moet seker maak dat ons ʼn skuilplek teen gevare het.
Die sprinkane het nie ʼn koning nie en tog trek die hele swerm in formasie. Deur saam te groepeer en ʼn hegte eenheid te vorm, verseker die sprinkane dat hulle nie gestuit sal word as hulle in massas beweeg nie.
Die geitjie kan jy met die hand vang en tog kry jy hom in koninklike paleise. Hy is oral tuis en beweeg waar hy wil.
Elkeen van hierdie diertjies beskik oor buitengewone wysheid. Met elkeen se unieke eienskappe en optrede verseker hulle hul voortbestaan. Met hierdie voorbeelde uit die diereryk leer ons om daagliks te sorg dat ons geestelik voorbereid is (miere), te sorg dat ons geloof bewaar word (dassies), mekaar te ondersteun en saam te staan (sprinkane) en soos die geitjie ons uniekheid in Christus te vertoon.
In Christus is elke belofte van God waar. Hy beskerm die wat by Hom skuil.
Dors vir meer:
Spreuke 6: 1-15
Gebed
Here, ek erken my eie gebreke en tekortkominge. Dankie dat U my elke dag leer om voorbereid, waaksaam en doelgerig te leef. Amen
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235
Leave a Reply