Author: Karen de Lange (Page 18 of 33)

Dagstuk 23 Oktober 2020 – Maak oop jou oë

Skrifgedeelte: Mt 6:22-24                           Teks wat tref: v23b

Mt 6:23- …. “As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”

Jesus verplaas nou die aandag weg van ons harte na ons oë.  Nadat Hy in die vorige verse ons  op die waarde van skatte laat fokus het, volg daar nou ʼn ernstige  vermaning. Dit sluit nou aan by die  waardevolle skat wat jy in jou hart bewaar.  Jesus waarsku hier teen dinge wat ons verblind.  Dit is skielik nie meer die gedrag van die skynheiliges wat onder skoot kom nie, want Jesus konfronteer die gelowiges direk. “As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. “ (Mt 6:23)

Jesus wil God se volgelinge retrospeksie laat doen.  Hierdie gedeelte vra ʼn ondersoek na die dinge waarmee ek my besig hou.  As iets aan die lig gekom het, beteken dit dat die waarheid seëvier. Die gebruik van lig as simbool van die waarheid word nou verder verduidelik.  Dit is so maklik dat die mens in sy strewe na rykdom so verblind word dat daar nie meer perspektief gehou word nie.  In Lk 11:34-36 word hierdie dwaasheid vergelyk met iemand wat ‘n lamp opsteek en dit onder ʼn emmer gaan wegsteek.  Dit help ook nie om te redeneer dat dit wat die oog nie sien nie, die hart nie seermaak nie. Hierdie verontskuldiging word deur Jesus afgekeur. Die liggaam reageer negatief as die oog sleg is.   Dit lei tot duisternis en ʼn lewe sonder God.  Dit het rampspoedige gevolge. Donker dui hier op die belewenis van absolute  godverlatenheid.  Met duisternis word die mens se sondige bestaan aangetoon.  Daar bestaan geen middeweg nie.  As mens sou ons dikwels nog kompromieë wil aangaan. 

Met ʼn verdere verduideliking word dit deur Jesus afgewys.  As gevolg van die sonde en die mens se oordrewe hunkering om altyd net te wen, konfronteer Jesus sy volgelinge. Hy weet hoe maklik ons afskeep  en maar alte graag die prominente plekke inneem.  Dan gebeur dit maklik dat jy of die een belangriker ag en die ander een afskeep.  Daar waar jou oog fokus op God verloor tree Mammon na vore.  Hierdie benaming is gebruik vir aardse besittings, geld en rykdom. Kortom sluit dit alles wat my volle aandag van God aftrek in.

Ons word gelei om sekere keuses te maak.  Luister na Jesus se dringende wekroep dat ons ons oë moet oopmaak. Laat jou lig so skyn dat jy ʼn lamp vir iemand anders op die pad is. 

Dors vir meer:

Ps 123 en Lk 11:34-36

Gebed

Here, dankie vir U Woord as ʼn Lamp op ons pad.  Dankie dat Christus ons van die duisternis bevry het. Stuur U Gees om ons pad daagliks te verlig.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 22 Oktober 2020 – Gaan bêre dit in die kluis.

Skrifgedeelte: Mt 6:19-21                        Teks wat tref: v21

Mt 6:21-….”Waar jou skat is, daar sal jou hart wees.”

In sy wese is die mens ʼn versamelaar en word daar gewoonlik streng maatreëls getref om kosbare skatte veilig te hou. 

Die huidige astronomiese misdaadsyfers, vlaag van geweld, aanvalle en korrupsie noodsaak elke landsburger om oor ons eiendom,  besittings en kosbare lewe te waak.  Hoe hoër die waarde van die skatte, hoe groter is die risiko.

Om Jesus se opdrag in Mt 6: 19 te verstaan moet ons die konteks waarbinne dit geskied begryp.  In die vorige verse het Jesus duidelik aangetoon dat die mens selfgesentreerd leef en meestal net aan homself dink.  Die skynheiliges wou alle aandag op hul sogenaamde voorbeeldige gedrag vestig. Daarom basuin  hulle dit uit wanneer hul armes help (6:2), gebruik hulle ʼn stortvloed van woorde as hulle bid (6:7) en loop hulle met lang gesigte rond as hulle vas (6:16)

As Jesus die opdrag gee dat ons nie skatte op aarde bymekaar moet maak nie, raak Hy een van die mens se diepste wroeginge aan.  Die skatte waarna verwys word dui op baie meer as blote materiële besittings.  Ons heg baie waarde aan aardse besittings en die dinge wat ons op aarde bymekaar gemaak het, is gewoonlik van groot waarde.  Allereers vergeet ons dat alles van God kom en dat dit wat ek ontvang het net maar genade is.  Met hierdie opdrag wil Jesus ons op die dinge wat belangrik vir ons lewe is laat fokus. 

Die skatte op aarde het geen permanente waarde nie.  Ons weet maar alte goed hoe maklik mot en roes dit verniel en was al heel moontlik die slagoffer van misdadige optrede.  Dit is nie Jesus se bedoeling dat ek niks mag besit nie.  Inteendeel is dit juis ons opdrag om my besittings, kennis en gawes aan te wend om my naaste se welstand en belange te bevorder.  Jesus waarsku dat ek met die regte gesindheid sal optree en dat liefde my optrede sal bepaal. 

Dit is belangriker om skatte te versamel waarvan die waarde nooit sal verminder nie. Aardse skatte is onderworpe aan gunstige rentekoerse, effekte beurse en behoorlike bestuur.  Daarteenoor word hemelse skatte deur Christus bewaar.  Boonop skenk Hy dit aan ons.  Die kosbaarste skat wat alle ander dinge in waarde ver oortref, is dat ons deur Christus van die dood bevry is.  Dat ek mag deel hê aan die ewige lewe en God se nabyheid kan ervaar. 

Wanneer ek weer die waarde hiervan bereken, sal my hart op geen ander plek kan wees nie. 

Dors vir meer:

Rm 8:31-39

Gebed

Here, dankie dat daar niks is wat my van U liefde kan skei nie. Lei  my om te weet dat alles wat ek ontvang het net uit U hand kom.  Heilige Gees, dankie dat ons teen mot, roes en misdadigers beskerm word.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 21 Oktober 2020 – Wat eet ons vanaand?

Skrifgedeelte: Mt 6:16-18                         Teks wat tref: v18

Mt 6:18 – …….. “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

Met die gebed in die vorige verse het Jesus ons in sy Vader se teenwoordigheid gebring.  Daar is ek veilig. Daar is ek rustig. Daar ontvang ek God se beloning. Ek is so kosbaar vir die Here dat Hy besorgd is oor selfs elke ete.  Iets so gewoon as my eetgewoontes is deel van God se versorging van sy kinders. 

Met ʼn verdere afkeurende verwysing na die optrede van die skynheiliges, leer Jesus ons wat dit beteken om opreg en eerlik te wees.  Hy is steeds besig om ons voor te berei om as burgers van sy koninkryk te leef.  Dit raak ons siel, liggaam en gees.  Soos die digter in Psalm 139 skryf is God met al my weë bekend.  My sit, staan of waarheen ek gaan is in Sy hande.  Ook die manier waarop ek voedsel en versorging van Hom ontvang. 

Dit was ʼn redelike algemene gebruik om vir ʼn tydperk te vas. Dit is ook in die Ou Testament vir die Here se volk voorgeskryf.  Daar is geglo dat die afwesigheid van voedsel jou aan die Here se getroue en onverdiende versorging sou herinner.  Dit kon ook help met ʼn reinigingsproses vir die liggaam.  Dit was ʼn tyd van afsondering van alles om jouself aan die Here te wy. Die skynheiliges het die bedoeling verkeerd verstaan en verdraai. Weereens het hulle die Here se opdrag misken.  Christus het hulle by twee vorige kere al daarop gewys dat God die bedoeling van ons harte raaksien en beoordeel. 

Pleks daarvan dat hulle nader aan God lewe, fokus die skynheiliges op hulleself deur hulle gesigte te mismaak.   Daarmee laat hulle die blydskap en dankbaarheid om deur God gevoed en versorg te word, verdwyn.  Letterlik lyk dit amper of hulle hul neuse optrek vir die kos wat voorgesit word. 

Jesus leer ons die ware betekenis van vas. Wanneer jy jou hare en gesig was, dui dit daarop dat jy jou deeglik voorberei om moontlik saam met iemand aan tafel aan te sit.  Dan word die maaltyd ʼn feestelike byeenkoms.  Christus  gebruik dikwels die beeld van ‘n maaltyd om ons verhouding  met God te beskryf.  Daar is geen groter beloning as om saam met God aan die tafel van die uitverkorenes te kan sit nie. 

Met hierdie gedeelte wys Jesus vir ons baie duidelik watter gedrag by God se kinders pas. Of jy nou sit, staan, loop of eet  – doen dit tot God se eer.  In Lukas 5:33-39 leer Jesus ons meer oor die gesindheid wanneer ek vas. 

Ons sien uit na die Bruilofsmaal van die Lam van God waarmee Christus ons volkome gered en gevoed het. 

Dors vir meer:

Lk 5:33-39

Gebed

Here, dankie dat U ons van elke dag se brood voorsien. Dankie dat ons U versorging in alles kan sien.  Lei my deur U Gees om na die Bruilofsmaal uit te sien.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 20 Oktober 2020 – Ons Vader weet alles

Skrifgedeelte: Mt 6:5-15                         Teks wat tref: v8b

Mt 6:8-…..” want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”

Nadat Jesus nog ʼn keer die skynheilige optrede van die Fariseërs en skrifgeleerdes afgewys het, gee Hy aandag aan ons verhouding met sy Vader.  Deur gebed beleef ons die nouste en intiemste oomblikke saam met God.  Teenoor die optrede van ander stel Jesus dit nou duidelik wat belangrik is.  Ons moet nie fokus op wat ander mense kan raaksien nie. Jesus beklemtoon dat ons Vader my sien.

Dit beteken dat God van elke aspek van my bestaan weet. Ons Here ken ons hartseer, vreugde, woorde, gedagtes en wense. Nog voordat ek iets sê, en lank voordat enige gedagte by my opgekom het, weet God dit reeds.  Die skynheilige gebede op die straathoeke en die stortvloed van woorde wat mense soms gebruik het geen waarde nie. Dit is ʼn harde veroordeling wanneer Jesus dit afwys. Wanneer jy jou verbeel dat jy belangrik is of dat jou gebede God sal beïnvloed, sal jy gee beloning ontvang nie.

Die aantal woorde van my gebed is ook nie vir God belangrik nie.  God wat ons harte ken en met ons weë bekend is wil nie en kan nie beïndruk word met ons eiegeregtigheid nie. Ons Vader verlang ʼn opregte hart en nederige gesindheid.  Met ons gebedslewe moet dit duidelik word dat ek my vertroue volkome in die Here stel.  Mt 6:8-…..” want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”

Die gesindheid waarmee ek bid is vir die Here belangriker as die woorde wat ek gebruik.  My gebed weerspieël iets van die mate waarin ek in afhanklikheid van God leef.  Waar Jesus in Mt 5:1-12 die karaktertrekke van die kinders van God beskryf het,  is dit treffend dat Hy juis nou in die bergpredikasie aandag gee aan gebed.  Gebed is daarom nie die nakoming van wettiese reëls of openbare optrede nie, maar eg deel van my daaglikse lewe.  Deur na jou kamer te gaan en die deur toe te maak verseker dat jy in stilte oomblikke saam met God kan verkeer.  Vir Hom is dit die belangrikste.  Nie wat ander mense dink of watter opinies ander mense van jou het nie. 

Hierna leer Jesus ons watter woorde wel belangrik is.  My gebed begin en eindig met God se Koninkryk.  In aansluiting by die seënbedes waarmee die bergpredikasie begin het, en waar Jesus ons geleer het wat dit beteken om erfgename van God se Koninkryk te wees, fokus die Onse Vader op God se Almag, Wil, Naam en Koninkryk.  Daarna kry ons behoeftes aandag en sluit die gebed af met die bede dat God al die eer kry. 

Ons Here Jesus Christus se lewe is die grootste bewys daarvan dat ons Vader alles weet wat ons nodig het. In daardie vertroue kon Hy die Kruis oorwin en sit Hy nou saam met die Heilige Gees aan God se regterhand om steeds vir ons te bid. 

Laat dit die gesindheid bepaal waarmee ons bid.

Dors vir meer:

Ef 1:15-23

Gebed

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat

u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die

aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef ons ons skulde,

soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie,

maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die

krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 19 Oktober 2020 – Is jy links of regs?

Skrifgedeelte: Mt 6:1-4                        Teks wat tref: v3b

Mt 6:3 – ……” moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie.”

Jesus is steeds besig om vir ons te leer wat dit beteken om van God afhanklik te wees en deel te hê aan sy Koninkryk. Hy skram nie daarvan weg om moeilike vraagstukke aan te spreek nie.  Teenoor die gebruike wat die godsdienstige leiers die mense opgelê het bring Jesus se onderrig ʼn nuwe bedeling wat die samelewing drasties verander.  Wel wetende dat die mens se optrede dikwels die goedkeuring van ander soek en dat dit ʼn sekere aansien kan bewerk, waarsku Hy dat ons niks mag doen om deur die mense raakgesien te word nie.

Sodanige optrede word afgewys en daar sal boonop geen beloning van ons Vader in die hemel ontvang word nie.  Dit is so teenstrydig met ons verwagtinge.  Ons ontvang graag erkenning wanneer ons aan iemand goed doen. Ons hoor dikwels dat die verloop van gebeure en die gunstige afloop van ʼn situasie te danke is aan die hulp van iemand besonders.  Ons hoor van ʼn ruim skenking wat gemaak is, van die donateurs wat geweldig beïndruk was met die sukses wat behaal is danksy die tydige hulpverlening en van die tyd wat afgestaan is om ʼn doelwit te bereik. 

Sonder om te veralgemeen gebruik Jesus ʼn voorbeeld………. “as jy die armes help, moet dit nie uitbasuin nie.”  Hiermee lê Hy ʼn beginsel vas.  Dit is skynheilige optrede om die lof van mense te verkry.  Daarna leer Hy ons watter optrede sy liefde die beste sal dra.  As ek aan iemand sou goed doen en weet dat ek nie van hulle lof sal ontvang nie, is dit gewoonlik maklik om na die wêreld te draai om lof te verwerf.  Dit was meestal die geval dat die ontvanger van ʼn weldaad nooit in staat sal wees om dieselfde te kan terug gee nie. 

Dit is Jesus se bedoeling dat ons nie wêreldse standaarde sal toepas nie maar dat ons  optrede eerder deur liefde gedryf sal word.  Dit sluit nou aan by Jesus se preek in Mt 5:2-12 oor die mense wat werklik gelukkig is.  Hulle leef, doen en gee anders.

Jesus vra hier tegelyk dat ons vrygewig en eerlik sal wees. Om net met een hand te gee beteken letterlik dat die ander hand nie die maat en hoeveelheid kan beheer of bepaal nie.  In ʼn Westerse wêreld waarin wins, aandele, suksesvolle sakebestuur, groei en die beskerming van bates dikwels voorop geplaas word, beveel Jesus die teendeel. 

Hy vra ons harte veel meer as ons hande.  Dit is radikale optrede.  Dit vra moed en dapperheid om in volle vertroue te gee en te weet dat die Here sal beloon.  Om met die linkerhand te gee sonder dat die regterhand daarvan weet,  getuig van oorgawe. 

Terwyl ons die risiko van sodanige optrede weeg, voorsien Jesus ʼn waarborg.  In die sakewêreld sal ʼn waarborg my van verlies vrywaar. Nou kom God en Hy sien wat verborge is.  Daarvoor sal Hy jou beloon.  Waak daarteen om boek te hou van die hulp, op finansiële en elke ander terrein, en vertrou God om jou te beloon.

Toe Christus aan die kruis gesterf het en die dood oorwin het,  is die grootste offer gebring om my te red.  As Christus alles sou opskryf en meet sal ek geen kans staan om te leef nie.  Met sy oopgetrekte hande ontvang ek die grootste beloning.

Gaan bewys hierdie liefde en gee so dat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie!  Gee met jou hart.

Dors vir meer:

2 Kor 6: 1-13

Gebed

Here, dankie dat ons elke dag soveel liefde en genade ontvang. Leer my om my hande oop te vou sodat ek vrygewig kan gee. Dankie dat U ook my hande oopmaak sodat ek U genade ontvang.  Dankie dat U my hart ken. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk Donderdag 15 Oktober 2020- Hou die Here sy beloftes?

Psalm 89:39-53.
Teksvers: Psalm 89:49

Is die Here betroubaar? Hou die Here sy beloftes? Hierdie laaste deel van Psalm 89 klink amper asof dit nie inpas by die eerste deel van die psalm nie. Hoe kan die digter van die trou en liefdesdade van die Here sing en dan vir die Here vra waar is sy trou en liefde? Vir die digter lyk dit of hierdie verbond van ʼn ewige koningskap vir Dawid nie meer in vervulling is nie.

Die digter praat reguit met die Here, anders as wat jy verwag iemand teenoor die Here moet praat. As’t ware word die Here beskuldig dat Hy onbetroubaar is.
Het jy dalk al ook so gevoel in jou lewe? Jy sien nie raak waar die Here is in jou situasie nie. Mag ek dan met die Here worstel? Ons kan met die Here worstel en ons vrae en bekommernisse na Hom bring. Dit beteken nie omdat ons vrae en uitdagings beleef dat ons nie meer in die Here glo nie.

Deur ons vrae besef ons opnuut weer hoe klein is die mens en hoe groot is die Here. Opnuut besef ons deur worsteling en beproewings dat ons net tot die Here kan nader vir uitkoms. Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat homself kan red uit die mag van die doderyk?

Hierin besef ons opnuut die Here se trou en liefde. As ons om ons kyk dan sien ons ʼn boodskap van wanhoop en agteruitgang, veral in die koerantopskrifte. Maar die Here is ons hoop in nood.
Die Here is betroubaar in sy verbondsbeloftes. Uit die geslag van Dawid gee Hy die Messias. God wys sy trou en liefde in Jesus Christus as Koning. ʼn Koning wat nie deur mense erken is nie, gespot en geslaan is sodat Hy aan die kruis sterf. In Jesus Christus se kruisdood sien ons veral die liefde en trou van die Here vir ons. Hy neem die weg wat ons nie kon neem nie.

Daarom kan ons agter Christus aanstap. Hy het vir ons die ewige rus gegee, die herstel van ons sonde – ons kan jubel en juig en ons dankbaarheid uitleef!
Hierdie Psalm leer ons om te kalmeer en gee vir ons die hoop dat God se standvastige liefde en trou in sy Seun nooit sal verbygaan nie!

Die Here is betroubaar, tot in ewigheid.

Dors vir meer:
Jesaja 55:1-11 en Job 40.

Gebed
Here die enigste Here! Dankie dat ons al ons vrae en die dinge waaroor ons twyfel en worstel ook nie U kan bring. Maak ons U wil bekend en gee vir ons die geloofsvertroue om in ons twyfel nog steeds te besef wie U is en dat U betroubaar is.
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 14 Oktober 2020-Die Koning wat altyd regeer.

Psalm 89:19-38.
Teksvers: Psalm 89:36-37.

Etan besing in baie mooi poësie en digterlike kuns die verbond wat die Here met Dawid gesluit het, die verbond wat deur die profete Samuel en Natan aan Dawid bekend gemaak is.
Hieruit sien ons weer duidelik dat dit nie toeval was dat Dawid koning geword het nie. Hy het nie vir homself die koningskap by Saul afgeneem nie. Nee, die Here het hom geroep en gesalf tot koning. Die Here het vir Dawid die oorwinnings gegee en vir hom die koningskap in die plek van Saul gegee.
Nie net gee die Here vir Dawid die koningskap nie, maar ook vir sy nageslag- ʼn koningskap wat vir altyd gaan wees.

Dawid se koninkryk was ’n skaduwee van die koninkryk van God wat in Jesus Christus sou kom. Die belofte van ’n persoon uit die nageslag van Dawid wat vir altyd op die troon van God se volk sal sit, word vervul in Jesus Christus. Hy word in die Dawidstad Bethlehem gebore, kom vanuit die stam Juda en die stamlyn van Dawid. So word in die eerste hoofstuk van Matteus vir ons bevestig dat die Here hierdie belofte aan Dawid vervul is- beter as wat die volk ooit kon verwag het.

Hierdie psalm wys ons opnuut op die Here Jesus Christus se heerskappy as Koning. As gelowiges kan ons in hierdie wêreld met al sy onregverdigheid en ongelykheid net getroos word wanneer ons opnuut besef wat dit beteken dat Christus Koning is. Sy Koningskap is blywend en duur van geslag tot geslag- dit is ʼn ewige koningskap.
Die liefdesdade en trou van die Here het vir ons tot vervulling gekom in Jesus Christus- ons beleef dit nog steeds duidelik deur die ewige verlossing wat daar vir ons is.
Dit is in Jesus Christus, deur die werk van die Heilige Gees, wat ons weet dat niks ons van die liefde van God kan skei nie omdat God self Hom aan ons gebind het (Romeine 8:39, Efesiërs 1:13-14). Dit is in Jesus Christus wat ons die waarborg het van ’n ewige koninkryk wat kom, waar Hy met regverdigheid gaan regeer.
Dit is ’n toekomstige koninkryk, maar ons kan nou reeds die seën daarvan beleef en die beginsels uitleef, deur te weet hoe afhanklik ons van God is, deur te honger en te dors na wat reg is, deur vredemakers en barmhartig te wees (Matteus 5:3, 6 en 9 soos ons verlede week gekyk het).
Leef vandag in volle oorgawe as ʼn burger in die Here se koninkryk. Daarom moet jou optrede hierdie week ook pas by burgers van die Here se koninkryk: by jou huis, by jou werk, op jou sosiale media en ook wanneer jy alleen is.

Dors vir meer:
2 Samuel 7:18-28 en Matteus 1.

Gebed
Here Almagtige en Allerhoogste. Dankie dat ons weer kan besef dat U koninkskap vir ewig en altyd is. Help ons om vandag allereers U koninkryk te soek. Dankie dat U ons seën in oorvloed en dra deur U liefdesdade en trou!
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 13 Oktober 2020 – Die troon bo alle trone

Psalm 89:1-18.
Teksvers: Psalm 89:7

Etan die digter besing die liefdesdade en trou van die Here! In besonder besing hy die belofte wat die Here gemaak het aan Dawid deur ʼn nageslag op sy troon te verseker.
Voor Etan verder sing, kan hy nie anders as om eers die Here se troon te besing nie.
Hy begin met die hemel en die hemelinge wat die Here se wondermag en trou besing. Baie keer as ons aan die hemel dink, dink ons net aan die Here, maar so is die hemel ook vol van die hemelinge wat die Here geskep. Nie een van die hemelinge kan met die Here vergelyk word nie. As hulle voor die Here verskyn besef hul ook die Here is die Almagtige God. Hulle het vir hom heilige ontsag en vrees Hom.

Verder word die Here se mag oor die aarde ook besing. Hy het mag en beheer oor die onstuimige see, selfs die seemonster Rahab (ook spotnaam vir Egipte) is niks in vergelyking met die Here nie. Die hemel en die aarde behoort aan Hom!
Die Here het die aarde en al die berge geskape. Alles getuig van die Here se sterk mag en krag. Dink ʼn oomblik aan die grootste berg wat jy al geklim het of die rofste seestorm wat jy al beleef het. Die Here het dit alles gemaak en is selfs nog groter in krag en mag.

Anders as mense se trone wat baie keer gebou is op onreg en omkoop en moord is die Here se troon gebou op geregtigheid en reg, liefde en trou.
Dit gaan daarom baie goed met ons omdat ons tot die Here kan jubel en kan lewe in sy lig. Deur Jesus Christus se kruisdood wil ons nie wegvlug van die lig en ons sonde in die donker probeer wegsteek nie. Ons prys die Here deur te leef in die Lig!
Ons roem nie in ons self of enige iets anders, as om in die krag en sterkte van die Here te roem nie, moontlik gemaak deur die Heilige Gees wat kragtig in ons werk.

Dors vir meer:
Psalm 11 en Openbaring 4

Gebed
Dankie Here dat U troon verhewe is bo enige ander troon. Dankie dat ons voor U troon kan nader om U te eer en te vra dat U ons sal aansien in U genade, omdat Jesus Christus vir ons die oorwinning gegee het. Lei ons vandag deur U Heilige Gees.
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 12 Oktober 2020 -Die Here se trou en liefdesdade!

Psalm 89:1-3.
Teksvers: Psalm 89:2-3
Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte.
Ek sê: “U liefde en u trou wankel nooit, dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde.”

Hierdie week kyk ons meer in diepte na Psalm 89. Hierdie psalm kan jy nie vinnig in een dagstukkie weergee nie.
Wat leer die Here ons in hierdie eerste 3 verse?
In die opskrif van die psalm sien ons al iets anders. Dit word ongelukkig nie so deurgegee in die 83 Vertaling nie. Die 53 vertaling begin dat hierdie ʼn “onderwysing” is. ʼn Psalm wat nie net geskryf is om die Here te loof en te prys nie, maar om die volk ook iets te leer, om hulle te onderrig. Psalm 89 moet daarom ook so gelees word dat dit ʼn psalm vol wysheid is.
Dit is onbekend wie presies Etan die Esragiet is wat hier genoem word, dit is heel moontlik een van die vier wyse manne waar daar na verwys word in 1 Kon. 4:31, of dalk ʼn ander Etan wat later geleef het.

Die oproep van die psalm is dat jy altyd sal sing van die Here se liefdesdade en sy trou verkondig aan die volgende geslagte.
Die digter wys dan deur die res van die psalm hoekom die Here se liefde (Hebreeus enkelvoud) en trou altyd stand sal hou. Nie net op die aarde nie, maar ook in die hemel.
Wat beteken die Here se liefdesdae en trou? Die Hebreeuse woord wat vir liefdesdade gebruik word, is nie so maklik om te vertaal nie. Kyk gerus na ander vertalings, party sal praat van die goedertierenhede of goedheid van die Here. Hierdie Hebreeuse woord word altyd gebruik in ʼn persoonlike konteks, twee partye wat mekaar ken. Hoe wonderlik is dit dat ons in ʼn persoonlike verhouding met die Here kan leef en kan deel in sy goedheid!
Verder word daar getuig van die Here se trou. Die Hebreeus woord vir trou kom van die woord wat krag beteken. Ander vertalings gebruik die woord waarheid. Dit het vir ons die betekenis dat daar krag lê in die Here se beloftes, dit is waarheid en net soos die Here bly dit altyd dieselde.

Van watter liefdesdade en trou wil jy vandag sing van die Here? Wil jy dit ook vertel en bekend maak aan die komende geslagte? Leer jy jou kinders of jou kleinkinders van die goedheid en trou van die Here?

Kom ons kyk môre verder na die trou en liefde van die Here vanuit Psalm 89.

Dors vir meer:
Psalm 92 en Klaagliedere 3:22-24.

Gebed
Dankie Here dat ons U trou en liefde ook weer vandag kan beleef. Dankie dat ons dit kan uitjubel en vertel vir almal, ook vir die komende geslagte. Dra ons ook hierdie week deur U trou en liefde
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk 09 Oktober 2020 – Om die ander wang te draai……..

Skrifgedeelte: Mt 5:38-48                        Teks wat tref: v48

Na die gedeelte in Mt 5:33-37 waar Jesus ons teen die handhawing van dubbele standaarde waarsku, volg daar nou ʼn moeilike opdrag. Aanvanklik het Jesus almal se aandag met die aanhaling uit Eks 21:24: “ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand.” Dit beteken dat my belange beskerm word en dat ek vergoed sal word vir enige verliese wat ek mag beleef. Hierdie opdrag moet in die lig van die regstelsel van die Ou Testament gesien word.  Dit is ook al die vyfde les waar ons Jesus se toepassing van die Wet hoor. 

Die doel van die regstelsel in die Ou Testament het verseker dat daar beheer oor moontlike verliese moet wees.  Dit het voorkom dat daar aggressie en geweld sou ontstaan as iemand benadeel sou word.  Op slinkse wyse het die skrifgeleerdes en Fariseërs die beginsel verdraai.  Wanneer Jesus opdrag gee dat ons ons nie teen ʼn kwaadwillige mens moet verset nie, maak Hy nie die wetgewing ongedaan nie.  As Seun van God is Jesus by uitstek daar om juis reg en geregtigheid te openbaar. Hy is regverdig omdat Hy geen sonde het nie. 

Dit is in die mens se aard om te vergeld.  Dit sal ook nooit anders kan wees nie.  As iemand my belange sou benadeel sal ek dadelik reageer en instinktief optree om te beskerm. Nog veel meer as dit oor die behoud en beskerming van lewe gaan.  Besittings kan vervang word, maar ʼn lewe nooit nie. 

As Jesus dan beveel dat die ander wang gedraai moet word klink dit asof Hy opdrag gee dat daar maar verlief geneem word as ek verlies ervaar.  Hierdie moeilike opdrag beteken nie dat ek alles maar gelate sal aanvaar nie.  Met die Bergpredikasie gee Jesus onderrig sodat ons die bedoeling van die Wet verstaan.  Dit vervang nie die opdragte nie, maar beklemtoon die betekenis daarvan.  Dit bly die bedoeling dat ons lewe en besittings kan beskerm. 

Ons word toenemend deur die optrede van anargiste, moordenaars en korrupte besluite benadeel. Plaasmoorde en gewelddadige barbaarse optrede vervul ons met weersin.

In die hantering hiervan herinner Jesus ons wat sy liefde beteken. In ons optrede word ons besluite geneem na diepgaande worsteling en gebed.  Ons bid dat die Heilige Gees ons sal lei om so volmaak soos ons hemelse Vader te wees. 

Intussen dra ons die families en gesinne wat slagoffers van geweld is aan die sorg van ons Vader op.  Ons volhard in gebed.  En wanneer die leiers versaak om die veiligheid en rustige bestaan van landsburgers te verseker, moet ons die leierskap toon om met die liefde van Christus ʼn verskil te maak. Hiervoor is baie wysheid nodig.

Ons tree daarom met versigtigheid en die liefde van Christus op, en word getroos dat Hy meer as ʼn oog vir ʼn oog vra, maar ʼn Lewe vir ʼn lewe gegee het. Sy Lewe vir my lewe.

Dors vir meer:

Eks 21: 12-36

Gebed

Here, ons beleef intense spanning en word daagliks onderwerp aan die sinnelose en wreedaardige optrede van mense wat geen respek vir lewe en orde toon nie.  Leer ons om so  op te tree dat daar vrede en orde kom.  Vertroos elkeen in hul leed en nood deur die Heilige Gees wat in ons woon. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

« Older posts Newer posts »