Skrifgedeelte: Mt 6:16-18 Teks wat tref: v18
Mt 6:18 – …….. “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
Met die gebed in die vorige verse het Jesus ons in sy Vader se teenwoordigheid gebring. Daar is ek veilig. Daar is ek rustig. Daar ontvang ek God se beloning. Ek is so kosbaar vir die Here dat Hy besorgd is oor selfs elke ete. Iets so gewoon as my eetgewoontes is deel van God se versorging van sy kinders.
Met ʼn verdere afkeurende verwysing na die optrede van die skynheiliges, leer Jesus ons wat dit beteken om opreg en eerlik te wees. Hy is steeds besig om ons voor te berei om as burgers van sy koninkryk te leef. Dit raak ons siel, liggaam en gees. Soos die digter in Psalm 139 skryf is God met al my weë bekend. My sit, staan of waarheen ek gaan is in Sy hande. Ook die manier waarop ek voedsel en versorging van Hom ontvang.
Dit was ʼn redelike algemene gebruik om vir ʼn tydperk te vas. Dit is ook in die Ou Testament vir die Here se volk voorgeskryf. Daar is geglo dat die afwesigheid van voedsel jou aan die Here se getroue en onverdiende versorging sou herinner. Dit kon ook help met ʼn reinigingsproses vir die liggaam. Dit was ʼn tyd van afsondering van alles om jouself aan die Here te wy. Die skynheiliges het die bedoeling verkeerd verstaan en verdraai. Weereens het hulle die Here se opdrag misken. Christus het hulle by twee vorige kere al daarop gewys dat God die bedoeling van ons harte raaksien en beoordeel.
Pleks daarvan dat hulle nader aan God lewe, fokus die skynheiliges op hulleself deur hulle gesigte te mismaak. Daarmee laat hulle die blydskap en dankbaarheid om deur God gevoed en versorg te word, verdwyn. Letterlik lyk dit amper of hulle hul neuse optrek vir die kos wat voorgesit word.
Jesus leer ons die ware betekenis van vas. Wanneer jy jou hare en gesig was, dui dit daarop dat jy jou deeglik voorberei om moontlik saam met iemand aan tafel aan te sit. Dan word die maaltyd ʼn feestelike byeenkoms. Christus gebruik dikwels die beeld van ‘n maaltyd om ons verhouding met God te beskryf. Daar is geen groter beloning as om saam met God aan die tafel van die uitverkorenes te kan sit nie.
Met hierdie gedeelte wys Jesus vir ons baie duidelik watter gedrag by God se kinders pas. Of jy nou sit, staan, loop of eet – doen dit tot God se eer. In Lukas 5:33-39 leer Jesus ons meer oor die gesindheid wanneer ek vas.
Ons sien uit na die Bruilofsmaal van die Lam van God waarmee Christus ons volkome gered en gevoed het.
Dors vir meer:
Lk 5:33-39
Gebed
Here, dankie dat U ons van elke dag se brood voorsien. Dankie dat ons U versorging in alles kan sien. Lei my deur U Gees om na die Bruilofsmaal uit te sien. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply