Skrifgedeelte: Mt 6:5-15 Teks wat tref: v8b
Mt 6:8-…..” want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”
Nadat Jesus nog ʼn keer die skynheilige optrede van die Fariseërs en skrifgeleerdes afgewys het, gee Hy aandag aan ons verhouding met sy Vader. Deur gebed beleef ons die nouste en intiemste oomblikke saam met God. Teenoor die optrede van ander stel Jesus dit nou duidelik wat belangrik is. Ons moet nie fokus op wat ander mense kan raaksien nie. Jesus beklemtoon dat ons Vader my sien.
Dit beteken dat God van elke aspek van my bestaan weet. Ons Here ken ons hartseer, vreugde, woorde, gedagtes en wense. Nog voordat ek iets sê, en lank voordat enige gedagte by my opgekom het, weet God dit reeds. Die skynheilige gebede op die straathoeke en die stortvloed van woorde wat mense soms gebruik het geen waarde nie. Dit is ʼn harde veroordeling wanneer Jesus dit afwys. Wanneer jy jou verbeel dat jy belangrik is of dat jou gebede God sal beïnvloed, sal jy gee beloning ontvang nie.
Die aantal woorde van my gebed is ook nie vir God belangrik nie. God wat ons harte ken en met ons weë bekend is wil nie en kan nie beïndruk word met ons eiegeregtigheid nie. Ons Vader verlang ʼn opregte hart en nederige gesindheid. Met ons gebedslewe moet dit duidelik word dat ek my vertroue volkome in die Here stel. Mt 6:8-…..” want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”
Die gesindheid waarmee ek bid is vir die Here belangriker as die woorde wat ek gebruik. My gebed weerspieël iets van die mate waarin ek in afhanklikheid van God leef. Waar Jesus in Mt 5:1-12 die karaktertrekke van die kinders van God beskryf het, is dit treffend dat Hy juis nou in die bergpredikasie aandag gee aan gebed. Gebed is daarom nie die nakoming van wettiese reëls of openbare optrede nie, maar eg deel van my daaglikse lewe. Deur na jou kamer te gaan en die deur toe te maak verseker dat jy in stilte oomblikke saam met God kan verkeer. Vir Hom is dit die belangrikste. Nie wat ander mense dink of watter opinies ander mense van jou het nie.
Hierna leer Jesus ons watter woorde wel belangrik is. My gebed begin en eindig met God se Koninkryk. In aansluiting by die seënbedes waarmee die bergpredikasie begin het, en waar Jesus ons geleer het wat dit beteken om erfgename van God se Koninkryk te wees, fokus die Onse Vader op God se Almag, Wil, Naam en Koninkryk. Daarna kry ons behoeftes aandag en sluit die gebed af met die bede dat God al die eer kry.
Ons Here Jesus Christus se lewe is die grootste bewys daarvan dat ons Vader alles weet wat ons nodig het. In daardie vertroue kon Hy die Kruis oorwin en sit Hy nou saam met die Heilige Gees aan God se regterhand om steeds vir ons te bid.
Laat dit die gesindheid bepaal waarmee ons bid.
Dors vir meer:
Ef 1:15-23
Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat
u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die
aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef ons ons skulde,
soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die
krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply