Skrifgedeelte: Mt 6:1-4                        Teks wat tref: v3b

Mt 6:3 – ……” moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie.”

Jesus is steeds besig om vir ons te leer wat dit beteken om van God afhanklik te wees en deel te hê aan sy Koninkryk. Hy skram nie daarvan weg om moeilike vraagstukke aan te spreek nie.  Teenoor die gebruike wat die godsdienstige leiers die mense opgelê het bring Jesus se onderrig ʼn nuwe bedeling wat die samelewing drasties verander.  Wel wetende dat die mens se optrede dikwels die goedkeuring van ander soek en dat dit ʼn sekere aansien kan bewerk, waarsku Hy dat ons niks mag doen om deur die mense raakgesien te word nie.

Sodanige optrede word afgewys en daar sal boonop geen beloning van ons Vader in die hemel ontvang word nie.  Dit is so teenstrydig met ons verwagtinge.  Ons ontvang graag erkenning wanneer ons aan iemand goed doen. Ons hoor dikwels dat die verloop van gebeure en die gunstige afloop van ʼn situasie te danke is aan die hulp van iemand besonders.  Ons hoor van ʼn ruim skenking wat gemaak is, van die donateurs wat geweldig beïndruk was met die sukses wat behaal is danksy die tydige hulpverlening en van die tyd wat afgestaan is om ʼn doelwit te bereik. 

Sonder om te veralgemeen gebruik Jesus ʼn voorbeeld………. “as jy die armes help, moet dit nie uitbasuin nie.”  Hiermee lê Hy ʼn beginsel vas.  Dit is skynheilige optrede om die lof van mense te verkry.  Daarna leer Hy ons watter optrede sy liefde die beste sal dra.  As ek aan iemand sou goed doen en weet dat ek nie van hulle lof sal ontvang nie, is dit gewoonlik maklik om na die wêreld te draai om lof te verwerf.  Dit was meestal die geval dat die ontvanger van ʼn weldaad nooit in staat sal wees om dieselfde te kan terug gee nie. 

Dit is Jesus se bedoeling dat ons nie wêreldse standaarde sal toepas nie maar dat ons  optrede eerder deur liefde gedryf sal word.  Dit sluit nou aan by Jesus se preek in Mt 5:2-12 oor die mense wat werklik gelukkig is.  Hulle leef, doen en gee anders.

Jesus vra hier tegelyk dat ons vrygewig en eerlik sal wees. Om net met een hand te gee beteken letterlik dat die ander hand nie die maat en hoeveelheid kan beheer of bepaal nie.  In ʼn Westerse wêreld waarin wins, aandele, suksesvolle sakebestuur, groei en die beskerming van bates dikwels voorop geplaas word, beveel Jesus die teendeel. 

Hy vra ons harte veel meer as ons hande.  Dit is radikale optrede.  Dit vra moed en dapperheid om in volle vertroue te gee en te weet dat die Here sal beloon.  Om met die linkerhand te gee sonder dat die regterhand daarvan weet,  getuig van oorgawe. 

Terwyl ons die risiko van sodanige optrede weeg, voorsien Jesus ʼn waarborg.  In die sakewêreld sal ʼn waarborg my van verlies vrywaar. Nou kom God en Hy sien wat verborge is.  Daarvoor sal Hy jou beloon.  Waak daarteen om boek te hou van die hulp, op finansiële en elke ander terrein, en vertrou God om jou te beloon.

Toe Christus aan die kruis gesterf het en die dood oorwin het,  is die grootste offer gebring om my te red.  As Christus alles sou opskryf en meet sal ek geen kans staan om te leef nie.  Met sy oopgetrekte hande ontvang ek die grootste beloning.

Gaan bewys hierdie liefde en gee so dat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie!  Gee met jou hart.

Dors vir meer:

2 Kor 6: 1-13

Gebed

Here, dankie dat ons elke dag soveel liefde en genade ontvang. Leer my om my hande oop te vou sodat ek vrygewig kan gee. Dankie dat U ook my hande oopmaak sodat ek U genade ontvang.  Dankie dat U my hart ken. Amen

Petrus van Blerk

0824560235