Skrifgedeelte: Mt 6:19-21 Teks wat tref: v21
Mt 6:21-….”Waar jou skat is, daar sal jou hart wees.”
In sy wese is die mens ʼn versamelaar en word daar gewoonlik streng maatreëls getref om kosbare skatte veilig te hou.
Die huidige astronomiese misdaadsyfers, vlaag van geweld, aanvalle en korrupsie noodsaak elke landsburger om oor ons eiendom, besittings en kosbare lewe te waak. Hoe hoër die waarde van die skatte, hoe groter is die risiko.
Om Jesus se opdrag in Mt 6: 19 te verstaan moet ons die konteks waarbinne dit geskied begryp. In die vorige verse het Jesus duidelik aangetoon dat die mens selfgesentreerd leef en meestal net aan homself dink. Die skynheiliges wou alle aandag op hul sogenaamde voorbeeldige gedrag vestig. Daarom basuin hulle dit uit wanneer hul armes help (6:2), gebruik hulle ʼn stortvloed van woorde as hulle bid (6:7) en loop hulle met lang gesigte rond as hulle vas (6:16)
As Jesus die opdrag gee dat ons nie skatte op aarde bymekaar moet maak nie, raak Hy een van die mens se diepste wroeginge aan. Die skatte waarna verwys word dui op baie meer as blote materiële besittings. Ons heg baie waarde aan aardse besittings en die dinge wat ons op aarde bymekaar gemaak het, is gewoonlik van groot waarde. Allereers vergeet ons dat alles van God kom en dat dit wat ek ontvang het net maar genade is. Met hierdie opdrag wil Jesus ons op die dinge wat belangrik vir ons lewe is laat fokus.
Die skatte op aarde het geen permanente waarde nie. Ons weet maar alte goed hoe maklik mot en roes dit verniel en was al heel moontlik die slagoffer van misdadige optrede. Dit is nie Jesus se bedoeling dat ek niks mag besit nie. Inteendeel is dit juis ons opdrag om my besittings, kennis en gawes aan te wend om my naaste se welstand en belange te bevorder. Jesus waarsku dat ek met die regte gesindheid sal optree en dat liefde my optrede sal bepaal.
Dit is belangriker om skatte te versamel waarvan die waarde nooit sal verminder nie. Aardse skatte is onderworpe aan gunstige rentekoerse, effekte beurse en behoorlike bestuur. Daarteenoor word hemelse skatte deur Christus bewaar. Boonop skenk Hy dit aan ons. Die kosbaarste skat wat alle ander dinge in waarde ver oortref, is dat ons deur Christus van die dood bevry is. Dat ek mag deel hê aan die ewige lewe en God se nabyheid kan ervaar.
Wanneer ek weer die waarde hiervan bereken, sal my hart op geen ander plek kan wees nie.
Dors vir meer:
Rm 8:31-39
Gebed
Here, dankie dat daar niks is wat my van U liefde kan skei nie. Lei my om te weet dat alles wat ek ontvang het net uit U hand kom. Heilige Gees, dankie dat ons teen mot, roes en misdadigers beskerm word. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply