Skrifgedeelte: Mt 5:38-48 Teks wat tref: v48
Na die gedeelte in Mt 5:33-37 waar Jesus ons teen die handhawing van dubbele standaarde waarsku, volg daar nou ʼn moeilike opdrag. Aanvanklik het Jesus almal se aandag met die aanhaling uit Eks 21:24: “ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand.” Dit beteken dat my belange beskerm word en dat ek vergoed sal word vir enige verliese wat ek mag beleef. Hierdie opdrag moet in die lig van die regstelsel van die Ou Testament gesien word. Dit is ook al die vyfde les waar ons Jesus se toepassing van die Wet hoor.
Die doel van die regstelsel in die Ou Testament het verseker dat daar beheer oor moontlike verliese moet wees. Dit het voorkom dat daar aggressie en geweld sou ontstaan as iemand benadeel sou word. Op slinkse wyse het die skrifgeleerdes en Fariseërs die beginsel verdraai. Wanneer Jesus opdrag gee dat ons ons nie teen ʼn kwaadwillige mens moet verset nie, maak Hy nie die wetgewing ongedaan nie. As Seun van God is Jesus by uitstek daar om juis reg en geregtigheid te openbaar. Hy is regverdig omdat Hy geen sonde het nie.
Dit is in die mens se aard om te vergeld. Dit sal ook nooit anders kan wees nie. As iemand my belange sou benadeel sal ek dadelik reageer en instinktief optree om te beskerm. Nog veel meer as dit oor die behoud en beskerming van lewe gaan. Besittings kan vervang word, maar ʼn lewe nooit nie.
As Jesus dan beveel dat die ander wang gedraai moet word klink dit asof Hy opdrag gee dat daar maar verlief geneem word as ek verlies ervaar. Hierdie moeilike opdrag beteken nie dat ek alles maar gelate sal aanvaar nie. Met die Bergpredikasie gee Jesus onderrig sodat ons die bedoeling van die Wet verstaan. Dit vervang nie die opdragte nie, maar beklemtoon die betekenis daarvan. Dit bly die bedoeling dat ons lewe en besittings kan beskerm.
Ons word toenemend deur die optrede van anargiste, moordenaars en korrupte besluite benadeel. Plaasmoorde en gewelddadige barbaarse optrede vervul ons met weersin.
In die hantering hiervan herinner Jesus ons wat sy liefde beteken. In ons optrede word ons besluite geneem na diepgaande worsteling en gebed. Ons bid dat die Heilige Gees ons sal lei om so volmaak soos ons hemelse Vader te wees.
Intussen dra ons die families en gesinne wat slagoffers van geweld is aan die sorg van ons Vader op. Ons volhard in gebed. En wanneer die leiers versaak om die veiligheid en rustige bestaan van landsburgers te verseker, moet ons die leierskap toon om met die liefde van Christus ʼn verskil te maak. Hiervoor is baie wysheid nodig.
Ons tree daarom met versigtigheid en die liefde van Christus op, en word getroos dat Hy meer as ʼn oog vir ʼn oog vra, maar ʼn Lewe vir ʼn lewe gegee het. Sy Lewe vir my lewe.
Dors vir meer:
Eks 21: 12-36
Gebed
Here, ons beleef intense spanning en word daagliks onderwerp aan die sinnelose en wreedaardige optrede van mense wat geen respek vir lewe en orde toon nie. Leer ons om so op te tree dat daar vrede en orde kom. Vertroos elkeen in hul leed en nood deur die Heilige Gees wat in ons woon. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply