Psalm 89:19-38.
Teksvers: Psalm 89:36-37.

Etan besing in baie mooi poësie en digterlike kuns die verbond wat die Here met Dawid gesluit het, die verbond wat deur die profete Samuel en Natan aan Dawid bekend gemaak is.
Hieruit sien ons weer duidelik dat dit nie toeval was dat Dawid koning geword het nie. Hy het nie vir homself die koningskap by Saul afgeneem nie. Nee, die Here het hom geroep en gesalf tot koning. Die Here het vir Dawid die oorwinnings gegee en vir hom die koningskap in die plek van Saul gegee.
Nie net gee die Here vir Dawid die koningskap nie, maar ook vir sy nageslag- ʼn koningskap wat vir altyd gaan wees.

Dawid se koninkryk was ’n skaduwee van die koninkryk van God wat in Jesus Christus sou kom. Die belofte van ’n persoon uit die nageslag van Dawid wat vir altyd op die troon van God se volk sal sit, word vervul in Jesus Christus. Hy word in die Dawidstad Bethlehem gebore, kom vanuit die stam Juda en die stamlyn van Dawid. So word in die eerste hoofstuk van Matteus vir ons bevestig dat die Here hierdie belofte aan Dawid vervul is- beter as wat die volk ooit kon verwag het.

Hierdie psalm wys ons opnuut op die Here Jesus Christus se heerskappy as Koning. As gelowiges kan ons in hierdie wêreld met al sy onregverdigheid en ongelykheid net getroos word wanneer ons opnuut besef wat dit beteken dat Christus Koning is. Sy Koningskap is blywend en duur van geslag tot geslag- dit is ʼn ewige koningskap.
Die liefdesdade en trou van die Here het vir ons tot vervulling gekom in Jesus Christus- ons beleef dit nog steeds duidelik deur die ewige verlossing wat daar vir ons is.
Dit is in Jesus Christus, deur die werk van die Heilige Gees, wat ons weet dat niks ons van die liefde van God kan skei nie omdat God self Hom aan ons gebind het (Romeine 8:39, Efesiërs 1:13-14). Dit is in Jesus Christus wat ons die waarborg het van ’n ewige koninkryk wat kom, waar Hy met regverdigheid gaan regeer.
Dit is ’n toekomstige koninkryk, maar ons kan nou reeds die seën daarvan beleef en die beginsels uitleef, deur te weet hoe afhanklik ons van God is, deur te honger en te dors na wat reg is, deur vredemakers en barmhartig te wees (Matteus 5:3, 6 en 9 soos ons verlede week gekyk het).
Leef vandag in volle oorgawe as ʼn burger in die Here se koninkryk. Daarom moet jou optrede hierdie week ook pas by burgers van die Here se koninkryk: by jou huis, by jou werk, op jou sosiale media en ook wanneer jy alleen is.

Dors vir meer:
2 Samuel 7:18-28 en Matteus 1.

Gebed
Here Almagtige en Allerhoogste. Dankie dat ons weer kan besef dat U koninkskap vir ewig en altyd is. Help ons om vandag allereers U koninkryk te soek. Dankie dat U ons seën in oorvloed en dra deur U liefdesdade en trou!
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.