Author: Karen de Lange (Page 11 of 33)

Dagstuk Woensdag 14 April 2021. “Hoe kry jy geregtigheid? – Galasiërs 2:15-20

Galasiërs 2:15-20
Teks wat tref: Galasiërs 2:16.
Wat beteken geregtigheid? Dit is nie ʼn woord wat ons vandag sommer gebruik nie. Geregtigheid is wanneer iets weer volkome herstel is- die volle betaling is gegee. Alles wat nodig is om die verhouding te herstel, is gegee.
Geregtigheid is nie dieselfde as vryspraak nie. In ʼn hof kan iemand vrygespreek word van oortredings, maar die geregtigheid het nie plaasgevind nie. Dit is ook nie dieselfde as daar vir ʼn persoon amnestie gegee word nie, kom ons vergeet daarvan en gaan dan net aan.
Daarom is dit vir ons baie maklik om hierdie gedeelte te verstaan. Deur die wet te onderhou sal daar nooit vir ons geregtigheid wees nie. Indien jy een gebod oortree het, maar jy hou vir die res van jou lewe al die ander gebooie , kan dit nie vir jou die geregtigheid gee nie.
Hoe kry ons dan die geregtigheid?
Dit is net moontlik deur die geloof in Jesus Christus. Christus is die enigste een wat hierdie geregtigheid vir ons bewerkstellig het. In ons plek het Christus die wet volkome onderhou en volkome betaal vir al ons sondes. Daarom is daar vir ons geregtigheid en vryspraak.
Martin Luther praat hier van “vreemde geregtigheid”. Hy noem dat dit nie in pas nie, dit maak nie sin nie. Hoe kan God vir ons as sondaars soveel genade skenk?
Hoe wonderlik is ons nie net sondaars wie se sonde vergewe is nie, maar inderdaad regverdiges en word nou as kinders van God gereken.

Dors vir meer:
Psalm 50
Gebed
Dankie Here vir U groot liefde dat U ons nou regverdig noem, al verdien ons dit nie. Lei my vandag om U en my naaste lief te hê.
Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk 12 April 2021 – God kyk nie na ‘n mens se uiterlike nie. – Skrifgedeelte: Galasiers 2.

Skrifgedeelte: Galasiers 2.

Teks wat tref: vers 6.

Maar van die wat in aansien was —wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie; God neem die persoon van die mens nie aan nie —hulle dan wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie.

Paulus het twee groot uitdagings gehad met die dwaalleraars in Galasiërs. Die eerste is dat hulle die vryheid wat daar is in Jesus Christus se sterwe in opstand is, wou verdraai om persone weer te bind aan die letterlike uitvoering van die wet. ‘n Groot kwessie hier was veral die besnydenis.

Die tweede uitdagings was dat die dwaalleraars die persoon wat die evangelie verkondig op die voorgrond plaas. So kry ons dit ook vandag. Hoeveel persone se bediening draai rondom hulle name en hulle foto’s? Pasop dat ons ook nie ‘n aanhanger van die persoon is, en nie van die evangelie nie. So kry ons dat persone begin om inhoud te oordeel deur wie die persoon is wat dit geskryf het- Johannes Calvyn, Totius du Toit, John MacArthur of Ravi Zacharias om net voorbeelde te noem. Dit gaan dan nie oor die inhoud van die evangelie nie, maar die persone wat die evangelie verkondig.

So moet ons ook versigtig wees dat ons ook nie gemeentes opsoek oor die persoon wat die prediker is nie. Of een predikant bo die ander plaas nie. Luister na die evangelie boodskap en beoordeel altyd aan die hand van die Woord.

Dors vir meer:
Jakobus 2:1-13

Gebed
Getroue Vader. Help my om nie na persone te kyk nie, hoeveel aansien hulle het nie, maar altyd te luister na U evangelie boodskap. Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk Vrydag 9 April 2021. Die Here werk ver en wyd deur mense. – Galasiërs 1:11-21

Galasiërs 1:11-21
Teks wat tref: Galasiërs 1:23-24

In hierdie gedeelte gee Paulus ʼn verklaring oor hoekom hy deur God as apostel geroep is en aangestel is en nie deur mense nie.
In hierdie gedeelte sien ons dan veral hoe die Here deur mense werk.
Die Here werk op maniere wat ons self dink nie moontlik is nie.

Die Here het vir Paulus geroep, hom voorgekeur oppad na Damuskus en sy lewe drasties verander. Paulus het fanaties die kerk van die Here probeer volg en uitroei. Hy het vasgehou aan die Joodse leer.
Maar die Here het nog voor sy geboorte Hom afgesonder en deur die genade van die Here is Paulus geroep. Vir Paulus het die Here die taak gegee om die evangelie aan die heidin nasies te gaan verkondig.
Na ʼn paar jaar later keer Paulus terug en begin dan die evangelie te verkondig.
Wat is die reaksie van die gemeente hierop?

Hulle eer die Here. Let wel, hulle eer nie Paulus nie, maar die Here wat so op ʼn besonderse wyse deur mense werk.
So roep die Here jou ook, maak nie saak wat jou agtergrond is of die pad is wat jou lewe geneem het nie.
Die Here wil en kan jou gebruik sodat ander Sy naam kan grootmaak, Hom kan verheerlik!

Verheerlik die Here!

Amen.

Dors vir meer:
Handelinge 8
Gebed
Dankie Here dat U ons wil gebruik om die evangelie te verkondig sodat U verheerlik kan word.
Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 7 April 2021. Daar is geen ander evangelie nie – Galasiërs 1:6-10

Galasiërs 1:6-10
Teks wat tref: Galasiërs 1:7

Vandag se boodskap is ʼn boodskap van aanmoediging om te bly by die evangelie van Jesus Christus alleen- ʼn bemoediging. Dit is ook duidelik ʼn boodskap van vermaning om jou weer tot jou sinne te bring indien jy besig is om ʼn ander evangelie aan te hang.
Wat is ʼn ander evangelie? Enige boodskap wat die hart van God se verlossing , God het alles verniet gegee aantas. Dit kan in die vorm wees van evangelie plus nog iets wat ek moet doen. So is dit in die geval van die gemeente van Galasiërs. Hulle het die boodskap gekry dat daar slegs verlossing is deur Christus wat Homself vir ons sondes gegee het. Nou leer dwaalleraars ʼn valse evangelie- ʼn verdraaiing dat hul nogstanss die wet moet volg om verlos te word.

Paulus is verstom hoe maklik die Galasiërs ʼn verdraaide evangelie aanhang. Wees versigtig vir praatjies wat anders klink as die evangelie boodskap soos wat ons dit kry in God se Woord. Vervloek is die een wat ʼn ander boodskap bring- al is dit ʼn engel vanuit die hemel. Hoekom?
Want dit is geen geringe saak nie. In die eerste plek tas dit eer en openbaring van God aan. ʼn Verdraaide evangelie bring ʼn ander boodskap van wie God is en van hoe Hy Homself aan ons bekend maak. In die tweede plek gaan dit oor ʼn saak van lewe en dood. Dit is hartseer om te sien hoe persone alles in die stryd werp om ʼn verdraaide evangelie na te volg, maar dit het geen nut nie. Hulle lewe is op die spel.

Dit is net die evangelie van die Here Jesus Christus het wat mense vanuit hierdie wêreld se boosheid en donkerte kom red om gemeenskap met Hom en sy Vader te hê, soos hy in vers 4 sê.
Mag ons woede teenoor die valse evangelie wees, maar ons vreugde in die ware evangelie soveel groter!

Bly by die evangelie van Jesus Christus, daar is geen ander nie!

Amen.

Dors vir meer:
1 Timoteus 3:10-17

Gebed 🙏
Dankie Here dat U aan ons die evangelie gegee het . Bewaar en lei ons om nooit ʼn ander evangelie te volg nie.
Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 5 April 2021. “Verlos uit hierdie bose wêreld.”

Galasiërs 1:1-5
Teks wat tref: Galasiërs 1:4

Vir die res van April staan ons stil by die brief aan die Galasiërs.

Paulus begin dan hierdie brief met die aanhef en seëngroet soos sy gebruik is in sy briewe. Hy maak egter ʼn lang byvoeging vanweë die probleme wat die gemeente van Galasiërs beleef het. Paulus noem dat hy nie ʼn apostel is vanweë mense nie (ander predikers het sy apostelskap verdag gemaak), maar deur Jesus Christus en God die Vader gestuur. Let hoe mooi verkondig Paulus ook hier dat Christus uit die dood opgewek is. So kan ons op klein plekke en maniere vir persone getuig dat Christus uit die dood opgestaan het. Kyk bietjie hoe jy vandag in die manier wat jy dalk jou epos of telefoon oproepe begin en afsluit ʼn getuienis kan lewer oor wie God is.

Gister het ons weer die opwekking van Jesus Christus uit die dood herdenk. Deur Christus se opstanding is daar getuig dat die werk volbring is. Een verklaarder noem die opwekking die kwitansie wat uitgereik is- dit is volbring, volledig klaar betaal. Christus het die volle straf gedra en die volle betaling gebring. Niks meer is nodig vir betaling nie, ons skuld is klaar betaal.

Hoekom kan ons vrede en genade vanaf die Here ontvang? Nie omdat ons dit verdien of iets gee en doen daarvoor nie, maar omdat Christus Homself vir ons sondes gegee het, uitgered van hierdie goddelose/bose wêreld waaraan ons deel gehad het. Let op die woord uitred- Ons kan nie onsself hieruit gekry het nie, God het uitgered.

God het alles gedoen- daarom kan ons nie anders as om af sluit met die lofprysing: Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid!
Amen.

Dors vir meer:
Openbaring 1:1-6

Gebed
Dankie Here dat ons opnuut hoor maar ons is net uit genade gered. Dankie dat ons nou in U vrede kan leef omdat Christus uit die dood opgewek is.
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk 31 Maart 2021 – Wat is die ewige lewe? – Johannes 17

Skrifgedeelte: Johannes 17. Teks wat tref: v3
“En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste wate God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. “

Jesus bid op die vooraand van die kruisiging tot Sy Vader en vir die dissipels. ‘n Besonderse gebed wat ook die Hoëpriesterlike gebed genoem word- in die skadu van die kruis, tree Jesus priesterlik in vir Homself, die dissipels en vir almal wat nog tot geloof sal kom. Die gebed gaan in besonder oor Christus se verheerliking- ‘n gebed van oorwinning en heerlikheid.
Hierdie gebed se begin handel oor die ewige lewe. Wat is die ewige lewe? Is dit ‘n doel waarnatoe ons werk- ‘n prys wat ons ontvang? Is die ewige lewe ‘n bestemming waarnatoe ons reis?
In vers 3 noem Christus die ewige lewe: dat ons die enige waaragtige God en Jesus Christus wat gestuur is kan ken. Die inhoud van die ewige lewe is om God te ken- nie net te weet van God nie maar kennis wat ons net kry deur die geloof wat in ons gewerk word deur die Heilige Gees. Christus het na die aarde gekom, mens geword, gestuur deur die Vader, om vir ons die Vader bekend te stel. Johannes vat dit vir ons mooi saam in 1 Johannes 5:20 “ En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons die verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. “
Deur die Heilige Gees ontvang ons die geloof om tot hierdie kennis te kan kom. Ons moenie aan die ewige lewe dink as ‘n bestemming of eindproduk wat ons ontvang nie. Christus is die ewige lewe. Die ewige lewe is om nou al vir God te ken- te ken as die enigste ware God soos wat Hy homself bekend maak in sy Woord. Ons weet dat Christus vir ons gesterf het, dat ons aan God behoort en nou God waarklik mag ken. Daarom leef ons nou reeds hierdie kennis uit, deel ons in die ewige lewe en gaan eendag met die wederkoms God ten volle ken.

Dors vir meer:
1 Johannes 5:18-21

Gebed
Dankie Here dat ons U mag ken. Mag ons meer en meer groei in ons kennis van U, lei ons so deur U Woord en Gees. Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 29 Maart 2021 – Die intog van Jesus in Jerusalem. – Markus 11:1-11

Skrifgedeelte: Markus 11:1-11 Teks wat tref: v7.

In hierdie gedeelte sien ons weereens dat die Paasfees gebeure nie net toeval was nie. Christus stuur twee van sy dissipels om ‘n jong donkie te gaan haal waarop niemand nog ooit gery het nie. So word die profesie van Sagaria vervul (Sagaria 9:9 en 14:4). Jesus stuur die dissipels vanuit die voorkennis dat alles reg is vir sy intog en met ‘n koninklike besittingsreg – die donkie moet gegee word vir die Here Koning.

Met die intog word bevestig dat Christus die verwagte Seun van Dawid is, die Messias, die Koning wat sou kom! Verder bevestig die intog op die donkie dat Christus se koningskap nie net ‘n aardse ryk is nie, wat die Romeine verslaan nie, maar ‘n ewige hemelse heerskappy. Hy bring vrede vir die gelowiges!

Die dissipels besef die betekenis van wat nou gaan gebeur en plaas opgewonde hul klere as ‘n saal op die donkie. Hulle en die mense gaan nog verder- klere en takkies groenigheid word op die grond neergesit sodat die donkie nie op die grond trap nie. Die opgewonde skare hef die “Hosanna” aan uit Ps. 118:25–26. “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Die skare sien die herstel van die koningskap van Dawid – daar is groot vreugde! Maar dit is dieselfde skare wat later die week uitroep om Hom te kruisig.

Die tweede uitroep is: “Hosanna in die hoogste hemele!” – dank dat die Here heil en bystand gestuur deur die Messias. Hoe wonderlik kan ons nie hierdie Hosanna ook vir die Here toeroep nie. Anders as die volk staan ons nie teleurgesteld omdat Christus nie die Romeinse juk kom afgooi het nie, maar vir ons die juk van die sonde vernietig het. ‘n Verlossing wat nie net tydelik is nie, maar ewig. Laat ons hierdie Paastyd weer raaksien hoekom die Here vir ons Jerusalem ingegaan het, sodat ons die ewig saam met Hom in die nuwe Jerusalem kan bly.

Dors vir meer:
Psalm 118

Gebed
Hosanna- Prys U Here! Dankie dat Christus vir ons gekom het en Jerusalem ingegaan het , in ons plek die lyding geneem het. Ons is waarlik geseën deur U! Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 26 Maart 2021 – Beskerm jou belegging – 2 Kor 10:1-10

Skrifgedeelte: 2 Kor 10:1-10      Teks wat tref: 2 Kor 10:4

2 Kor 10:4  – “Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig.”

Aan die einde van 2 Korintiërs 9 dank Paulus God vir sy onuitspreeklike gawe. Met Christus in my hart, loop my hart oor van dankbaarheid en ontvang ek die grootste belegging ooit. In 2 Kor 10 volg daar riglyne om te verseker dat hierdie skat veilig en behoue bly.  Eers verdedig Paulus sy gesag as apostel waarna hy wys op die standvastigheid vir elkeen wat aan Christus toegewyd leef.

Ons oorkom die gebeure wat veroorsaak dat gelowiges meegesleur en deur die wêreld ingesluk word deur my doelwitte, vyande en wapens as Christen te ken. Ons moet leer om ons oog op Christus te vestig. Met hierdie doelwit voor oë moet ek aan Christus verbonde lewe.  Op grond hiervan leef ek in ʼn besonder verhouding met Christus waar Hy my vlekkeloos bewaar. My lewenswandel getuig van onverdeelde en suiwer toewyding aan Hom.

Solank daar geen struikelblokke bestaan is dit maklik om hierdie doelwitte na te streef. Maar as ons realisties is, moet ek bedag wees op die struikelblokke.  Ek moet deeglik met my vyand rekening hou. Die Heidelbergse Kategismus (Leerboek van die Christelike geloof)  noem elke gelowige se vyande:  – die wêreld, die Satan en die eie ek. Die gebrokenheid waarin ek leef en die omstandighede wat my dikwels wil onderkry is hiervan genoegsame bewys.

Om staande te bly gee Christus aan sy kerk wapens.  In die eerste plek is dit ‘n persoonlike verhouding met Hom. My hulp lê nie by mense nie maar by Christus as vaste vesting (2 Kor 10:4) Daarby ontvang ek  die herderlike versorging van ampsdraers en medegelowiges.  Toewyding aan Christus bring standvastigheid.  Daar bestaan geen middeweg nie.

Met die sterwe en opstanding van Christus het ek die versekering en vrymoedigheid om in die Here te roem en my op Hom te beroep om my te beskerm. 

Dors vir meer:

Openb 2: 18-29

Gebed

Here, baie dankie dat U my veilig hou en beskerm.  Leer my om op U te vertrou en om in die Here te roem. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 24 Maart 2021 – ʼn Goeie belegging – 2 Kor 9:1-15

Skrifgedeelte: 2 Kor 9:1-15      Teks wat tref: 2 Kor 9:6-8

2 Kor 9:6  – “Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.”

In 2 Kor 9 sluit Paulus die gedeelte oor ʼn oop hart, ʼn oop kop en ʼn oop gemoed af. Hy sê dat dit oorbodig is om aan die gemeente oor hulpverlening te skryf.  Hy vermeld hulle ywer en bereidwilligheid en prys God vir hul dankbare gesindheid.

Dan volg daar in 2 Kor 9:6 wyse raad. Met ʼn voorbeeld uit die boerderybedryf gee Paulus raad vir ʼn goeie belegging.  Die hedendaagse lewensversekerings maatskappye sou hierdie raad as ʼn belegging met ʼn goeie en selfs gewaarborgde  opbrengs beskryf.  “ ….. wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.”

‘n Boer wat sy land voorberei het, wil saai.  En as hy die saad gesaai het, glo hy dat daar uiteindelik ‘n oes sal wees.  Watter boer sal saad koop en dit in die grond saai as hy nie gló dat daar ‘n oes kan wees nie?  Anders sal hy nie eers die moeite doen om te saai nie. Ons geloof in God en hoe ons die Here se  betrokkenheid in ons lewens ervaar, werk op soortgelyke wyse.  Enige iemand kan tog verstaan dat dit onmoontlik is om ‘n groot oes te verwag as jy te min saad gesaai het. Die teenoorgestelde is natuurlik ook net so waar.

Hierna word hierdie beeld op ons geloofslewe toegepas.  Die proses begin in ons hart. “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het” (2 Kor 9:7)  Die hart is die setel van my lewe. Dit is my innerlike menswees en stel my diepste wese ten toon.  Dit het te doen met wie ek is en hoe ek optree. Dit gaan oor hoe ek dink en wat ek voel.  My hart kan nie op twee plekke gelyktydig wees nie. Waar my skat is …..  daar is my hart ……  As iets vir my waardevol is, beskerm ek dit.  

Alvorens ek ʼn belegging kan maak, moet ek die nodige middele tot my beskikking hê: En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Kor 9:8)  Uit eie krag kan ons nie ‘n ware offer van dankbaarheid aan die Here bring nie. God gee vir my alles wat nodig is.

As ek onder leiding van die Heilige Gees myself aan die Here gee, saai ek volop. Dan doen ek alles met volle oorgawe, want ek weet alles behoort aan die Here. Aan elkeen wat met blymoedigheid en uit dankbaarheid volop saai, gee die Here alles in oorvloed.  Net hulle wat op God vertrou kan volop saai.  Die boer saai in geloof en vertrou dat die oes sal volg.  Hoe meer ek gee, hoe meer ontvang ek uit God se hand.

As Christus in my hart is, loop my hart oor van dankbaarheid en ontvang ek die grootste belegging ooit.

Dors vir meer:

Heb 11:1-10

Gebed

Here, baie dankie dat U soveel genade in oorvloed aan my skenk.   Help my om met vertroue volop te saai.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 22 Maart 2021 – Net genoeg?

Skrifgedeelte: 2 Kor 8:1-15      Teks wat tref: 2 Kor 8:5,15

2 Kor 8:5  – “……. want eers het hulle hulself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.”

Korinte was destyds ʼn baie florerende handelstad en die inwoners het gereeld met mekaar meegeding om die hoogste prys vir hul produkte te kry. Ons vergelyk dikwels ons omstandigede met die van ander en gebruik dit as maatstaf vir ons gedrag en optrede teenoor God en ons naaste.  Dit blyk of Paulus dieselfde in 2 Kor 8:1 doen. Hy hou die gemeentes in Masedonië as voorbeeld aan die Korintiërs voor.  Maar dit is nie hulle gedrag wat hy as voorbeeld gebruik nie.  Hy fokus op die genade wat hul van God ontvang het. 

Waar Paulus reeds in 2 Kor 6 die beginsel neergelê het dat gelowiges hulle harte vir mekaar wyd moet oopmaak, vestig 2 Kor 8 ons aandag op die praktiese uitvoering hiervan. Ons noem dit die Christelike vrygewigheid.  Desnieteenstaande druk, vervolging, beproewing, armoede en swaarkry, was die gemeentes in Masedonië ryk in hulle vrygewigheid en oorvloedig in hul blydskap.  Hulle geniet God se guns in elke opsig.

Ons meet rykdom en voorspoed dikwels in terme van aardse besittings en genietinge. Ons vergeet hoeveel vreugde God skenk sodat ons blydskap kan hê. Lees weer vers 7 om te begryp hoeveel ons in oorvloed ontvang: “geloof, die gawe om ons woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer vir mekaar en liefde.”

Daarom is die hoeveelheid en mate van dit wat ek aan ander gee, ondergeskik aan die verhouding waarbinne ek met God lewe.  Nou gebruik Paulus Christus se optrede as voorbeeld wanneer ons vergelykings wil tref.  Christus het ter wille van ons arm geword sodat ons deur sy armoede ryk kan word.  Sonder Christus is ons die armsaligste mense denkbaar.  Dit wat God wil moet ons maatstaf word.  Die voorbeeld van die Masedoniërs is hoogstens prysenswaardig en dien as aansporing vir ons elkeen.  Ons moet met dieselfde ywer en entoesiasme as Christus liefdeswerk verrig. 

Hierdie liefdeswerk sluit alles in.  Daarom spoor Paulus die gemeente in 2 Kor 8:12 aan dat die goeie wil daar moet wees.  Dit is juis hierdie gawes wat God aanneem. In stede daarvan om berekeninge te maak oor hoeveel ek moet gee, moet ons na God se maatstaf luister.  Hy verwag nie van my wat ek nie het nie. God is regverdig en sy opdrag beteken nie dat ek ʼn wêreldse model moet navolg nie.  Die Christelike vrygewigheid moet niemand bevoordeel nog benadeel nie.  Om my hart oop te maak beteken dat my hulpverlening en offervaardigheid almal gelykmatig sal bevoordeel. “So het die met baie nie te veel en die met net ʼn bietjie, nie te min gehad nie. (2 Kor 8:15)”

In Christus is ons almal oorvloedig ryk. Leef gewillig en ywerig om God se liefdeswerk te doen.

Dors vir meer:

Ps 84

Gebed

Here, baie dankie dat ek soveel genade en liefde ontvang. Lei my deur U Heilige Gees om my hart wyd oop te maak en U liefde te verkondig. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

« Older posts Newer posts »