Galasiërs 1:1-5
Teks wat tref: Galasiërs 1:4

Vir die res van April staan ons stil by die brief aan die Galasiërs.

Paulus begin dan hierdie brief met die aanhef en seëngroet soos sy gebruik is in sy briewe. Hy maak egter ʼn lang byvoeging vanweë die probleme wat die gemeente van Galasiërs beleef het. Paulus noem dat hy nie ʼn apostel is vanweë mense nie (ander predikers het sy apostelskap verdag gemaak), maar deur Jesus Christus en God die Vader gestuur. Let hoe mooi verkondig Paulus ook hier dat Christus uit die dood opgewek is. So kan ons op klein plekke en maniere vir persone getuig dat Christus uit die dood opgestaan het. Kyk bietjie hoe jy vandag in die manier wat jy dalk jou epos of telefoon oproepe begin en afsluit ʼn getuienis kan lewer oor wie God is.

Gister het ons weer die opwekking van Jesus Christus uit die dood herdenk. Deur Christus se opstanding is daar getuig dat die werk volbring is. Een verklaarder noem die opwekking die kwitansie wat uitgereik is- dit is volbring, volledig klaar betaal. Christus het die volle straf gedra en die volle betaling gebring. Niks meer is nodig vir betaling nie, ons skuld is klaar betaal.

Hoekom kan ons vrede en genade vanaf die Here ontvang? Nie omdat ons dit verdien of iets gee en doen daarvoor nie, maar omdat Christus Homself vir ons sondes gegee het, uitgered van hierdie goddelose/bose wêreld waaraan ons deel gehad het. Let op die woord uitred- Ons kan nie onsself hieruit gekry het nie, God het uitgered.

God het alles gedoen- daarom kan ons nie anders as om af sluit met die lofprysing: Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid!
Amen.

Dors vir meer:
Openbaring 1:1-6

Gebed
Dankie Here dat ons opnuut hoor maar ons is net uit genade gered. Dankie dat ons nou in U vrede kan leef omdat Christus uit die dood opgewek is.
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.