Skrifgedeelte: Johannes 17. Teks wat tref: v3
“En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste wate God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. “

Jesus bid op die vooraand van die kruisiging tot Sy Vader en vir die dissipels. ‘n Besonderse gebed wat ook die Hoëpriesterlike gebed genoem word- in die skadu van die kruis, tree Jesus priesterlik in vir Homself, die dissipels en vir almal wat nog tot geloof sal kom. Die gebed gaan in besonder oor Christus se verheerliking- ‘n gebed van oorwinning en heerlikheid.
Hierdie gebed se begin handel oor die ewige lewe. Wat is die ewige lewe? Is dit ‘n doel waarnatoe ons werk- ‘n prys wat ons ontvang? Is die ewige lewe ‘n bestemming waarnatoe ons reis?
In vers 3 noem Christus die ewige lewe: dat ons die enige waaragtige God en Jesus Christus wat gestuur is kan ken. Die inhoud van die ewige lewe is om God te ken- nie net te weet van God nie maar kennis wat ons net kry deur die geloof wat in ons gewerk word deur die Heilige Gees. Christus het na die aarde gekom, mens geword, gestuur deur die Vader, om vir ons die Vader bekend te stel. Johannes vat dit vir ons mooi saam in 1 Johannes 5:20 “ En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons die verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. “
Deur die Heilige Gees ontvang ons die geloof om tot hierdie kennis te kan kom. Ons moenie aan die ewige lewe dink as ‘n bestemming of eindproduk wat ons ontvang nie. Christus is die ewige lewe. Die ewige lewe is om nou al vir God te ken- te ken as die enigste ware God soos wat Hy homself bekend maak in sy Woord. Ons weet dat Christus vir ons gesterf het, dat ons aan God behoort en nou God waarklik mag ken. Daarom leef ons nou reeds hierdie kennis uit, deel ons in die ewige lewe en gaan eendag met die wederkoms God ten volle ken.

Dors vir meer:
1 Johannes 5:18-21

Gebed
Dankie Here dat ons U mag ken. Mag ons meer en meer groei in ons kennis van U, lei ons so deur U Woord en Gees. Amen

Danie Potgieter
0722729631