Skrifgedeelte: Markus 11:1-11 Teks wat tref: v7.

In hierdie gedeelte sien ons weereens dat die Paasfees gebeure nie net toeval was nie. Christus stuur twee van sy dissipels om ‘n jong donkie te gaan haal waarop niemand nog ooit gery het nie. So word die profesie van Sagaria vervul (Sagaria 9:9 en 14:4). Jesus stuur die dissipels vanuit die voorkennis dat alles reg is vir sy intog en met ‘n koninklike besittingsreg – die donkie moet gegee word vir die Here Koning.

Met die intog word bevestig dat Christus die verwagte Seun van Dawid is, die Messias, die Koning wat sou kom! Verder bevestig die intog op die donkie dat Christus se koningskap nie net ‘n aardse ryk is nie, wat die Romeine verslaan nie, maar ‘n ewige hemelse heerskappy. Hy bring vrede vir die gelowiges!

Die dissipels besef die betekenis van wat nou gaan gebeur en plaas opgewonde hul klere as ‘n saal op die donkie. Hulle en die mense gaan nog verder- klere en takkies groenigheid word op die grond neergesit sodat die donkie nie op die grond trap nie. Die opgewonde skare hef die “Hosanna” aan uit Ps. 118:25–26. “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Die skare sien die herstel van die koningskap van Dawid – daar is groot vreugde! Maar dit is dieselfde skare wat later die week uitroep om Hom te kruisig.

Die tweede uitroep is: “Hosanna in die hoogste hemele!” – dank dat die Here heil en bystand gestuur deur die Messias. Hoe wonderlik kan ons nie hierdie Hosanna ook vir die Here toeroep nie. Anders as die volk staan ons nie teleurgesteld omdat Christus nie die Romeinse juk kom afgooi het nie, maar vir ons die juk van die sonde vernietig het. ‘n Verlossing wat nie net tydelik is nie, maar ewig. Laat ons hierdie Paastyd weer raaksien hoekom die Here vir ons Jerusalem ingegaan het, sodat ons die ewig saam met Hom in die nuwe Jerusalem kan bly.

Dors vir meer:
Psalm 118

Gebed
Hosanna- Prys U Here! Dankie dat Christus vir ons gekom het en Jerusalem ingegaan het , in ons plek die lyding geneem het. Ons is waarlik geseën deur U! Amen

Danie Potgieter
0722729631