Skrifgedeelte: Galasiers 2.

Teks wat tref: vers 6.

Maar van die wat in aansien was —wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie; God neem die persoon van die mens nie aan nie —hulle dan wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie.

Paulus het twee groot uitdagings gehad met die dwaalleraars in Galasiërs. Die eerste is dat hulle die vryheid wat daar is in Jesus Christus se sterwe in opstand is, wou verdraai om persone weer te bind aan die letterlike uitvoering van die wet. ‘n Groot kwessie hier was veral die besnydenis.

Die tweede uitdagings was dat die dwaalleraars die persoon wat die evangelie verkondig op die voorgrond plaas. So kry ons dit ook vandag. Hoeveel persone se bediening draai rondom hulle name en hulle foto’s? Pasop dat ons ook nie ‘n aanhanger van die persoon is, en nie van die evangelie nie. So kry ons dat persone begin om inhoud te oordeel deur wie die persoon is wat dit geskryf het- Johannes Calvyn, Totius du Toit, John MacArthur of Ravi Zacharias om net voorbeelde te noem. Dit gaan dan nie oor die inhoud van die evangelie nie, maar die persone wat die evangelie verkondig.

So moet ons ook versigtig wees dat ons ook nie gemeentes opsoek oor die persoon wat die prediker is nie. Of een predikant bo die ander plaas nie. Luister na die evangelie boodskap en beoordeel altyd aan die hand van die Woord.

Dors vir meer:
Jakobus 2:1-13

Gebed
Getroue Vader. Help my om nie na persone te kyk nie, hoeveel aansien hulle het nie, maar altyd te luister na U evangelie boodskap. Amen

Danie Potgieter
0722729631