Skrifgedeelte: 1 Sam 13:14 en 1 Sam 16:1-13      Teks wat tref:  1 Sam 13:14

1 Sam 13:14 – “……… die Here sal vir Hom ʼn man na sy hart soek”

Dawid ontvang die voorreg om ʼn man na God se hart te wees in tye waar die meerderheid van die volk van die Here af wegdraai. Onder die seuns van Isai sien die Here iemand wat Hy koning kan maak.(1 Sam 13:14)   Meteens verander Dawid se omstandighede radikaal.  Terwyl Samuel gedink het dat die Here vir Eliab as koning sou salf vanweë sy buitengewone lengte en voorkoms en hy daarna boonop nog sewe van Isai se ander seuns voor oë kry, versoek hy dat Isai die jongste seun laat haal.  Teenoor die broers wat vername werk verrig en aansien gehad het, word bloot net vertel dat Dawid skape oppas.

Hy beveel Isai om vir Dawid van die veld te laat haal en merk eers toe op dat Dawid ʼn rooi gelaatskleur gehad het, mooi oë en ʼn goeie voorkoms. Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hy.”  Die Here het reeds in 1 Sam 13:14 geweet wie Hy as regeerder oor sy volk wil aanstel. So is God besig om sy Plan uit te voer en gebruik Hy mense daarvoor.  Dit is deur God beskik dat Dawid koning sou word.  Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike. 

Die posisie wat ek beklee en die omstandighede waarin ek my bevind, is nooit deur my eie toedoen of eie voortreflikhede nie, maar net alleen op grond van God  se genade en liefde.  Die Here beskik oor alles.  Hy kies wie Hy waar wil gebruik en Hy rus elkeen toe met die nodige gawes om alles volgens sy wil te laat verloop.  Hiervoor het die Here sy Gees gestuur om van dié dag dat Dawid gesalf is, kragtig in hom te werk. 

Dawid onderskei homself as digter van meer as sewentig Psalms, as veldwagter, dapper vegter en behaal groot suksesse as koning van die Here se volk.  Maar as mens het Dawid ook tekortkominge gehad en dikwels swak en verkeerde besluite geneem.  Hy stel sy eie belange voor die van God.  Tog lei die Here hom dan telkens om berou te toon en na Hom terug  te draai.  Al was Dawid ʼn man na God se hart, het hy ook soms verdwaal.  Maar elke keer het die Here hom kom haal.  Aan die kruis het Christus vir ons tekortkominge betaal. 

Met die volgende aantal oordenkings wil ons uit die Psalms leer hoe die man na God se hart, ons lewens en omstandighede aanspreek.

Dors vir meer:

Lk 18:15-17

Gebed

Here, dankie dat U my in U diens gebruik ten spyte van al my tekortkominge. Dankie dat Jesus Christus my van die dood en ondergang gered het. Dankie dat U my kies. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235