Skriflesing: Openbaring 22:6-21.
Vers wat tref: 7 & 14
7Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.”
14“Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.
Die laaste twee seënbedes kry ons in die heel laaste hoofstuk van Openbaring. Telkemale word die herinnering gegee dat Jesus Christus gou kom!
Wat moet ons as gelowiges se reaksie hierop wees? Moet ons soos van die mense in Tessalonika nou net agteroor sit en die tyd verby wens? Nee, ons moet nou juis te meer vashou aan die woord van die Here. Net soos die eerste seënbede moet ons die woord van Here, hoor, bewaar en dit uitleef!
Christus het in Markus 13:7 aan sy dissipels genoem dat oorloë en gerigte van oorloë nie hulle moet verskrik nie.
Laat ons daarom met volhardende oorgawe hierdie profesie van Christus se koms onthou, gehoorsaam en uitleef. Christus se koms is vir ons ʼn werklikheid en ʼn troos groter as enige omstandighede om ons.
Die laaste seëngebed sluit aan by Openbaring 7:14. Hier is wys dit weer baie mooi uit dat ons net deur die bloed van die Lam skoongewas word en as gelowiges die verlossing deur die Heilige Gees aangryp.
Slegs deur die kruisdood en opstanding van die Lam kry ons nou die reg (volmag) binne te kan gaan en van die boom van die lewe eet. Met ander woorde, God gee ons die reg om die ewige lewe te ontvang. Die dwaalleraars, die bedrieërs, onsedelikes, moordenaars, afgodsdienaars, leuenaars moet buite staan en het nie die reg ontvang om in te gaan nie.
Hou aan om uit te roep: Kom Here Jesus, kom gou!
Gebed
Ons hemelse Vader! Dankie dat ons waarlik geseënd is deur deel te hê aan die verlossing van Jesus Christus. Lei en bewaar ons asseblief deur U Heilige Gees sodat ons gereed kan wees vir die koms van Jesus Christus.
Amen.
Dors vir meer:
2 Petrus 3
Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei
Leave a Reply