Skrifgedeelte:
1 Sam 17:31-47                       

Teks wat tref: v 45

1 Sam 17:45 – “……. maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige.”

Met die volgende aantal oordenkings ontmoet ons Dawid as die man na God se hart. Ons leer sy hart in uiterste omstandighede ken. Soms gebruik hy die swaard en ander kere die pen. Met konstante oorlogvoering was Dawid besig om die Israeliete te verdedig. Ander kere word ons meegevoer deur sy gedigte vol van die mooiste poësie wat ooit geskryf is.

Pas nadat Samuel vir Dawid as koning gesalf het, volg sy eerste openbare optrede. Van skaapwagter na vegter.  Vol bravade moedig hy vir Saul aan om nie moedeloos te word nie.  Moontlik was hy voortvarend en heldhaftig. Maar as skaapwagter het die Here hom reeds voorberei om talle gevare te trotseer.  Hy bely dat die Here hom al uit die kloue van die beer en leeu gered het. Soms wonder ek waarom ek myself in sekere omstandighede bevind.  Dawid sou nooit kon dink dat hy koning sou word nie maar is in deur die leerskool van skaapwagter voorberei vir ʼn veel groter taak.  Gebruik daarom die situasie waarin jy jou bevind ten volle en gryp elke geleentheid aan om jou te bekwaam. 

Dawid se bravade is nie vanuit homself nie, maar veel eerder ʼn nederige gehoorsaamheid waarin hy die eer van die Here alleen soek.  Hy wys die wapenrusting van Saul van die hand want hy was nie daaraan gewoond nie.  Hiermee stel hy ook sy vertroue in die Here.  Hy het ‘n lewende verhouding met God gehad. Hy het God in alles geken. Sy harnas was sy vertroue in die Here.  Hy is so seker dat God hom weer sal red dat hy as’t ware die Here se Naam op die spel plaas.  Hy is die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel.  Dit beteken dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy vir die Israeliete die oorwinning skenk.

Ons is daagliks in ʼn stryd teen ʼn oormag vyande gewikkel. Goliat het smalend en neerhalend na God en Dawid verwys.  Die wêreld minag God vandag steeds al hoe meer. Ons natuurlike reaksie is om instinktief te reageer en op ons eie krag staat te maak.  Ons omring ons ook spreekwoordelik met mensgemaakte uitrustings en skuil agter ons eie harnas en bronshelms.

Vir die man na God se hart was dit genoeg om op die Here te vertrou.  Vir ons het Christus elke struikelblok oorwin. Pak daarom elke teleurstelling, vrees en wanhoop met die geloofsoortuiging aan dat die Here die oorwinning sal skenk. 

Dors vir meer
Jes 41:13-20

Gebed
Here, dankie vir die talle kere dat U my bewaar het. Leer my om my mensgemaakte harnas en bronshelm te verwyder en my met U Heilige Gees te beklee. Amen

Petrus van Blerk
Sel: 0824560235