Skrifgedeelte: Romeine 5:1-11                         Teks wat tref: v1

Rm 5:1 – “Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.”

Paulus se Brief aan die Romeine vertoon baie ooreenkomste met die verloop van ʼn hofsaak.  Vanaf hoofstuk 5 lewer die regter uitspraak. Hierdie beslissing is bepalend vir alles wat nog voorlê. Daar is aangetoon dat die mens bo alle redelike twyfel nie as regverdig beskou kan word nie. (Rom 3:10)  Almal verwag dat die Regter die doodsvonnis gaan aankondig.  In plaas van die verwagte en byna logiese doodsvonnis beklemtoon Paulus dat daar nou vrede tussen God en die mense is.                                                                             

Meteens verdwyn die somber en donker verlede met ʼn blik op die toekoms. Vrede beteken die afwesigheid van alles wat die mens van God vervreem het. Deur Jesus Christus het ons nou weer hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.  Ons kan die toekoms tegemoet stap met die sekerheid dat ek nie meer in vyandskap met God leef nie. 

God skenk aan ons sy ondeurgrondelike liefde. God het ons vrygespreek en skenk aan ons vrede, vrye toegang en ewige vreugde.  Die vreugde is so kosbaar dat dit drie maal herhaal word. In vers 2, 3 en 11 beskryf Paulus hierdie opgewondenheid met die woordjie “verheug” wat absolute vreugde en opgewondenheid  by ons bewerk.  Dit lei tot hoop en ons word daardeur bemoedig om getrou te bly. 

Met ons oog op die toekoms gerig beleef ons wel steeds elke dag swaarkry, ontberings, verdrukking en lyde. Dit is soos ʼn louteringsproses. Ons word deur die Heilige Gees gelei om ʼn bepaalde leefstyl te openbaar. In swaarkry moet ons volhard.  Deur volharding groei ons geloof en dit kweek hoop.  Die Heilige Gees stort God se liefde en vreugde in ons harte uit.  Daarom verdwyn die donker somber verlede telkens wanneer ons só aan die toekoms dink.

In die eerste elf verse van Romeine 5 wys die Heilige Gees ons op al die voordele wat die gelowige nou reeds geniet omdat hy deur die geloof in Christus geregverdig is. Wanneer ʼn mens in die Here en in sy werke roem, verheerlik jy die Here.

Ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. Dit is om met sekerheid en uitbundige vreugde uit te sien na die dag wanneer jy die heerlikheid van God kan sien en self in die heerlikheid kan deel.

Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 

Dors vir meer:

Psalm 98

Gebed

Here, ek wil U met my hele hart prys. Ek wil  van u magtige reddingsdade vertel.  U naam wil ek besing, o Allerhoogste.  Dankie vir die vrede en vreugde wat U aan ons skenk. Amen

Petrus van Blerk

0824560235