Skrifgedeelte: Romeine 4:1-12                      Teks wat tref: v3

Rm 4:3 – “Äbraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

Paulus se Brief aan die Romeine vertoon baie ooreenkomste met die verloop van ʼn hofsaak.  In die eerste sewe hoofstukke word ons posisie voor God met ʼn klagstaat vergelyk.  In Romeine 3:10  hoor die mens dat daar nie een is wat regverdig is nie. Die meeste hoorders was vertroud met die geskiedenis van hul stamvader Abraham.  Met verwysing na Abraham lei Paulus hul om ‘n les uit die verlede te leer.

Wanneer Paulus van Abraham se regverdiging deur die geloof getuig, beklemtoon  hy die groot genade van God. Dit is dieselfde genade wat die Here ook aan elkeen bewys wat nou in Jesus Christus glo. Deur hieraan te dink word ons in ons eie lewens deur die Gees gelei om dit vandag te gebruik wanneer ons oor ons posisie voor God besin. 

In Abraham se optrede leer ons watter dinge vir ons geloofslewe belangrik is.  Ons ontvang geloof as deel van God se genade. Ons word herinner aan al God se beloftes. Ware geloof fokus op die heerlikheid van God. En ons kan in ons daaglikse stryd slegs staande bly deur te steun op die krag van God.

Hieruit is dit duidelik dat die mens homself nooit sal kan red nie.  Die mens het geen verweer as die klagstaat van ons oortreding aan die Regter oorhandig word nie.  Die werklikheid is dat geen mens in staat is om die wet volmaak te gehoorsaam nie. Die mens wat dink dat hy met goeie gedrag en gehoorsaamheid aan die wet aanspraak kan maak op verlossing, is besig om sy skuld te vermeerder. In die eerste vyftien verse van Romeine 4 sien ons dat Abraham nie geregverdig is omdat hy besny is of omdat hy die wet gehoorsaam het nie.

Deur aan die verlede te dink word ons gelei om op God se beloftes te vertrou. Abraham se naam word verander toe die Here aan hom ʼn nageslag skenk.  Op hoë ouderdom word ʼn kind vir Sarai gebore. Abraham se geloof word versterk en beloon.   Uit hierdie nageslag is Christus volgens God se bevel en belofte gebore.

Omdat Abraham deur sy geloof in God versterk is, was hy vas oortuig dat God in staat is om te doen wat Hy beloof het. Hy is Almagtig. So versterk God se optrede in die verlede ons geloof in die hede. Vertrou op die Here terwyl ons daagliks die stryd aanpak en teen die sonde stry.   Die Here maak self sy beloftes waar.

Dors vir meer:

Heb 11:1-12

Gebed

Here, baie dankie vir soveel bewyse van U genade en liefde in die verlede.  Dit gee ons moed vir die hede sodat ons steeds op U kan vertrou vir die toekoms. Amen

Petrus van Blerk

0824560235