Skrifgedeelte: Romeine 3:9-26 Teks wat tref: v10,22
Rm 3:10 – “Daar is nie een wat regverdig is nie. …………….”
Mense se opinies is nogal belangrik. Ek hoor graag dat mense wat oor my praat, mooi dinge van my sal sê. Niemand sal ooit ʼn getuigskrif skryf waarin die persoon waaroor dit gaan as inherent sleg beskryf word nie. Paulus gebruik harde woorde om ons toestand te beskryf. Dit geld vir almal sonder uitsondering. Woorde wat ons nie graag wil hoor nie. Met die aanhalings uit Psalm 14 gee Romeine 3 nie ‘n goeie en gunstige beskrywing van die mens nie.
Die afstootlike optrede van die mense vervul ons met weersin – afgedwaal, ontaard, kele is ʼn oop graf, tonge wat bedrieg, giftige woorde en vergieting van bloed. Ons sien oral die spore van verwoesting. Ons beleef dat mense nie vir God ontsag het nie. Die mens is totaal verdorwe. Daar is geen mens wat onskuldig en vlekkeloos voor God is nie. En as ʼn mens nie onskuldig voor die Here is nie, is jy skuldig voor Hom. Daar is nie ʼn ander moontlikheid nie.
Hierdie waarheid laat ons besef hoe verlore ons werklik is. Dit laat ons sonder hoop en vreugde. Die somber beeld dwing my om te luister na God se beoordeling van die mens. Elkeen word geroep om te antwoord op die vraag wat God van my dink? Na hierdie harde veroordeling luister ons nou verder wat God vanaf vers 21 vir my doen.
God openbaar sy liefde deur my te verlos uit hierdie ellendige posisie en my uit die greep van die Satan te bevry. En omdat God ewig regverdig en waaragtig is, vernietig Hy die
sonde deur die sterwe en opstanding van sy Seun Jesus Christus. Ons deel in hierdie vreugde wanneer ons ons vertroue op Christus stel. God het Hom as offer gegee wat versoening bewerk het vir die wat glo. Elkeen wat hierdie vryspraak hoor word bemoedig. Teenoor die verdoemende woorde waarmee Paulus die mens se toestand aan die begin van Romeine 3 beskryf het, breek daar nou hoop aan. God se genade is veel groter en laat ons deel in die heerlikheid van Hom. Christus beheers nou my optrede en Hy skenk nuwe lewe.
As daar nou weer ʼn getuigskrif van my gegee word, sien God nie my sondige bestaan raak nie. Christus getuig dat ek vrygespreek is. Mense se opinies is nogal belangrik. Ek hoor graag dat mense wat oor my praat, mooi dinge van my sal sê.
Dit is veel belangriker dat jy vandag hoor wat God van jou sê!
Dors vir meer:
Openbaring 21:1-8
Gebed
Here, terwyl ons daagliks oorgelewer is aan die onreg en gevolge van die sonde gebeur dit maklik dat ons hoop verloor. Ons smag daarna om van die ellende verlos te word. Dankie dat U my beoordeel op grond van die verlossingswerk van Christus. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply