Skrifgedeelte: Rm 11:33 -12:8                                           Teks wat tref: Rm 12:2

Rm 12:2 – “……….maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”

Die eerste 11 hoofstukke van Romeine beskryf  ʼn verhoor wat afspeel waarin Paulus ons leer dat almal vandag soortgelyke omstandighede beleef.  Die mens se sondeskuld word beskrywe. Deur Christus kom daar verlossing. Aan die einde van Hoofstuk 11 kyk hy terug en oorweldig God se goedheid en onnaspeurlike weë hom. Hy eindig met ʼn lofprysing.

In hierdie lofprysing verkondig die Heilige Gees dat alles wat ek het van God af kom. Dat daar geen grense vir God se liefde en genade is nie. Dat God die rede vir ons bestaan is. Dat alle dinge uit Hom, tot Hom en deur Hom is.

Op grond hiervan vra God lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Christus is die fondament van alles. Omdat Christus my so liefhet dat Hy sy lewe vir my afgelê het, wil ek gehoorsaam aan God lewe. In die laaste hoofstukke van die Brief aan die Romeine gee God opdragte en beginsels vir ons lewenspraktyk as kinders van Hom.

Die opdrag in Rm 12:1 is radikaal, ingrypend en drasties. Om jouself vir Hom te offer is wat God van jou vra.!!!  Dit beteken dat ons ons  liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer —  dit is julle redelike godsdiens.  God verlang toegewyde optrede en daadwerklike opoffering. 

Dit is net Christus wat ons situasie verander.  Verandering kom deur die werk van die Gees. ’n Wet kan jou nie verander nie, net ’n verhouding met God waarin die Gees ons lei om nee te sê vir die sonde en ja te sê vir God.  En die verandering begin met ons denke.  Ons moet anders dink oor die sondige wêreld (12.2)  Ons moet anders dink oor onsself en nie meer dink van onsself as wat ons behoort nie (12:3).  Ons moet met  beskeidenheid optree.

Die verandering van ons denke beïnvloed alles wat ons doen en beleef.  Luister na die praktiese riglyne in vers 6-8.   Ons profesie moet op ons geloofsbelydenis gegrond wees.  (12:6). Ons gawes moet sonder bybedoelings wees (12:8). Ons leierskap moet met toewyding wees (12:8). Ons hulp aan ander moet met blymoedigheid wees (12:8).

Op grond van die groot ontferming van God waarvoor Christus aan die kruis gesterwe het gaan ek vandag my denke vernuwe en alles aanpak volgens God se opdrag.

Dors vir meer:

Heb 12:1-3

Gebed

Here, U weë bly onnaspeurlik en U liefde onbegryplik. Dankie dat U my denke verander. Leer my om U liefde elke dag uit te leef. Amen

Petrus van Blerk

0824560235