Skrifgedeelte: Mt 7:13-20 Teks wat tref: v13
Mt 7:13 – ……” Gaan deur die nou poort in.”
Vanaf Mt 7:13 gee Jesus ʼn aantal algemene riglyne waarvolgens die burgers van sy Koninkryk moet leef. Dit is ʼn gepaste samevatting van die hele bergpredikasie wat reeds in Mt 5 begin het. Jesus is steeds besig om vir ons te leer wat dit beteken om van God afhanklik te wees en fokus laastens op ʼn aantal toepassings. Na die aanhoor van Sy woorde word ons gelei om keuses te maak.
God se kinders leef radikaal anders as die Skrifgeleerdes en skynheiliges waarteen Jesus herhaaldelik gewaarsku het. Almal het Jesus se onderrig gehoor en moet nou daarop reageer. Jesus konfronteer ons nou en verwag ʼn antwoord van jou. Baie mense luister maar net na Jesus se boodskap en stap onaangeraak verder aan. Die keuse waartoe Jesus ons gelei het raak jou eindbestemming. God wil verseker dat Sy kinders die koninkryk van die hemel beërwe (Mt 5:3)
Vandaar Jesus se dringende waarskuwing dat ons deur die nou poort moet ingaan. Die pad daarheen is moeilik en nie almal bereik daardie bestemming nie. Inteendeel beklemtoon Jesus dat hulle wat dit kry, maar min is. Hiermee spoor Hy ons aan om te volhard en doelgerig volgens God se Woord te lewe. Dit verg groot inspanning en opoffering en daar sal struikelblokke wees. Om Jesus te volg vra ʼn radikaal ander leefwyse.
Dit is ʼn keuse om nie maar net saam met die stroom te beweeg en oral gemaklik in te skakel nie. As kind van God is jy anders en sal dit in jou lewensweë duidelik sigbaar wees. Dit sal beteken dat mense soms spottend en verkleinerend na jou optrede en besluite sal verwys. Wees verseker dat jy in die spervuur van aanvalle sal wees as jy die belange van God se Koninkryk verdedig. Staan op as die Here se Naam gelaster word. Reageer as wetgewing God se eer aantas.
As Christene is ons geroep om sigbaar te wees. In ʼn verwarde wêreld sal daar vals profete wees wat die mense mislei. Dit is die Satan se belangrikste werk. Op ons reis na die nou poort sal hulle in skaapsklere na ons toe kom maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” Deurdat die mens se optrede sigbaar is, word dit moontlik om hul motiewe te beoordeel. Druiwe groei nie aan ʼn doringstruik en vye aan dissels nie.
Met hierdie waarskuwing leer Jesus ons om seker te maak dat ons op die nou pad bly. Ons word ook vertroos dat die slegte bome uitgekap en in die vuur gegooi sal word. Ons word vir ons reis versterk as ek weet dat Jesus die pad na sy Vaderhuis met sy verlossingswerk aan die kruis vir ons voorberei het.
Op watter pad loop jy vandag?
Dors vir meer:
Heb 12:1-3
Gebed
Here, daar is soveel besluite wat ek daagliks moet neem. Maak my oë oop sodat ek U Woord my padkaart sal maak. Dankie dat U my nooit alleen laat. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply