Skrifgedeelte: Mt 7:21-29 Teks wat tref: v21
Mt 7: 21 – ……” Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. ”
Vanaf Mt 7:21 begin Jesus met die slotgedagtes van sy Bergpredikasie. Die vermaning waarmee Hy reeds in Mt 7:13 begin het, word nou herhaal. Dit is God se bedoeling dat niemand uitgesluit sal word nie. Met die verwysing in v22 na daardie dag beklemtoon Jesus dat elke mense sal reageer op die onderrig waarmee Hy in die bergprediksie besig is. Daar sal ʼn dag aanbreek wanneer die gelowiges se optrede getoets word. God se erfgename word opgeroep om met dade bewys te lewer dat hulle aan Hom gehoorsaam is.
My geloof is oneindig meer as lippediens. Destyds het die skynheiliges geglo dat God hul gebede sal verhoor as hulle sy Naam twee maal gebruik. Hulle probeer ook daarop aanspraak maak dat God hul optrede raaksien en daarom soek hulle erkenning in die samelewing. Daar het wedywering ontstaan oor wie in Jesus se Naam gepreek het, bose geeste uitgedryf het en wonders gedoen het.
Hiermee wou hulle God beïndruk en vir hulleself ʼn ereposisie verwerf. Van ons Here Jesus Christus se mees verdoemende woorde volg nou: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van my af, julle wat die wet van God oortree.” Later waarsku Jesus in Mt 24:24 dat daar vals christusse en vals profete na vore sal kom. Elkeen wat die wet van God oortree sal nooit die koninkryk van die hemel beërwe nie. Vir God se uitverkorenes het Christus aan ons Here se geregtigheid om die sonde te straf voldoen, sodat ons vrye toegang kan hê.
Maar dan beteken dit nie dat ons nou selftevrede mag raak nie. Laastens verduidelik Jesus watter gesindheid en optrede God van sy kinders verlang. Die verwysing in Mt 7:24 dat elkeen wat hierdie woorde van Hom hoor verwys na die onderrig waarmee Hy reeds in Mt 5:2 begin het. Teenoor die valse gerustheid waarna Jesus in die vorige verse verwys het, verwag Hy nou ʼn lewe van toegewyde afhanklikheid aan God. Ons lewe op aarde voor God word vergelyk met die bouwerk wat ʼn verstandige man aangepak het. Met hierdie kosbare beeld word ons vertroos en vermaan. Dit is algemeen bekend dat bouwerk op ʼn vaste fondament gedoen sal word. Hierdie fondament is Christus. Met inagneming van moontlike storms en ongure weer, sterk winde en vloedwaters word die gebroke wêreld waarin ons woon aangedui. Ons ken elkeen die aanslae van die Satan en die aanvalle van die wêreld wat ons daagliks beleef en trotseer. Leef dan voorbereid en slaan ag op Jesus se waarskuwing.
God neem nie noodwendig altyd elke storm in my lewe weg nie, maar Hy stuur sy Heilige Gees sodat die bouwerk op rots gedoen word. As winde van verandering en vloedgolwe van die seer van die wêreld ons meesleur en wil oorweldig, kan ons by God skuil. God laat vaar nooit die werke van Sy hande nie.
Ons lewe voor God is die bouwerk in sy Koninkryk. In Mt 5-7 het Christus die mense geleer wat God van ons verwag. Met die aanhoor hiervan was die skare verbaas oor sy onderrig, “want Hy het hulle geleer soos ʼn man met gesag.”
Mag Christus se woorde jou raak met elke besluit wat jy maak.
Dors vir meer:
Jes 66:1,2
Gebed
Here, dankie dat U my ken. Dankie dat U my deur Christus se woorde leer. Dankie dat U my deur die Heilige Gees bewaar. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply