Skrifgedeelte: Mt 7:7-12 Teks wat tref: v11b
Mt 7:11 – ……”hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”
Na die verdoemende woorde van Jesus in die vorige vers dat die honde dit wat heilig is sal verskeur en die varke dit met hulle pote sal vertrap, is daar geen groter troos dat hulp naby is nie. Ons hoef net te vra, te soek en te klop. Die taalgebruik dui ook aan dat daar onmiddellike uitkoms sal wees. Dit is niemand anders as die Seun van God wat met die nodige gesag hierdie belofte gee. In watter situasie ek my ook al mag bevind, sal die Here deur sy Heilige Gees my nooit alleen laat nie.
Ons ontmoet Jesus hier waar Hy drie keer die versekering gee dat ons nooit in vrees en bewing hoef te lewe nie. Hyself is my Reisgenoot. Sou Jesus se woorde hier dan beteken dat ek letterlik enige iets kan vra en dat ek dit outomaties sal kry? Is dit dan nou moontlik om al my versoeke by die Here af te laai en siedaar kry en net wat ek mag begeer?
Beslis nie. Vir die behoorlike verstaan van die Bybel geld die beginsel dat ons die konteks waarbinne ʼn gedeelte geskryf is sal begryp. Indien dit waar is dat God vir my alles wat ek begeer sal gee, bestaan die gevaar dat ek dan op enige iets aanspraak mag maak. Al sou dit teen God se wil gaan. In wese is die mens as gevolg van ons sondige aard ingestel op ons eie begeertes en behoeftes. Daar bestaan inderdaad grense vir dit wat ek mag vra. In sy Wet het God die grense vasgestel. Daarom kan ek nie verwag om iets te kry wat in stryd is met God se Wil nie.
Dit is juis ʼn bewys van God se genade dat Hy ons versoeke temper om te verseker dat ons sy opdrag om Hom bo alles en ons naaste soos onsself lief te hê sal uitvoer. Met Jesus se verdere verduideliking in vers 9 leer ons die konteks waarbinne ons die gedeelte moet verstaan. Net so onvanpas en ongehoord dit sou wees om ʼn klip in die plek van brood of ʼn slang in de plek van ʼn vis aan iemand in nood te gee, sou dit wees as God bloot net enige versoek sou toestaan. Omdat Hy ons lief het, sal Hy juis seker maak dat ons beste belang gedien word. Met die verwysing na ons Vader wat in die hemel is dui Jesus God se Almag en Soewereiniteit aan. As Skepper en Onderhouer regeer en bestuur Hy die skepping so dat daar harmonie en vrede sal wees.
Dit is genade dat God so ons welwese verseker. Dit is ook genade dat God ons uitnooi om te vra, te soek en te klop. Dit gee ons vrymoedigheid om in elke situasie waarin ek my mag bevind tot Hom te nader. As Vader, wat goed is, weet Hy wat vir my die beste is. As ons binne hierdie liefdesverhouding wat God gee funksioneer, verstaan ek dat God ons gebede verhoor deur te verseker dat sy Wil geskied en dat Hy ons bo alles versorg en bewaar.
Met ʼn laaste verwysing in vers 12 dui Jesus die gesindheid aan waarmee ons moet vra. Ek moet aan die belange van my naaste dink. “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.”
Gebedsverhoring beteken nie dat ek alles wat ek begeer sal ontvang nie, maar dat die Here vir my sal gee wat vir my die beste is. Moet nooit ophou om te vra, te soek en te klop nie.
Dors vir meer:
Kol 3:1-17
Gebed
Here, dankie dat ons met vrymoedigheid tot U mag nader. Dankie dat U weet wat ons elke dag nodig het. Lei my dat ek U liefde sal uitdra . Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply