Skrifgedeelte: Mt 7:1-6                       Teks wat tref: v5

Mt 7:5 – ……” Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien ……”

In die laaste gedeelte van Jesus se bergpredikasie begin Matteus 7 met die toepassing van Jesus se onderrig. Ons lees dit teen die agtergrond van Matteus 5 waar die betekenis van ons burgerskap van God se koninkryk beskryf is.  Daarna het ons geleer wat die implikasie hiervan is deurdat ons ʼn verskil in die wêreld moet maak deur sout en lig te wees.  In ʼn wêreld en samelewing gebeur dit maklik dat elkeen na die beste van ons vermoëns probeer oorleef.  In hierdie proses sal mense nie skroom om op ʼn ander te trap om hul eie belange te bevorder nie. Al sou dit dubbele standaarde vra, verontskuldigings beteken en huigelagtige optrede verg.

Dit is gewoonlik baie maklik om die foute en tekortkominge van ander uit te wys sodat my eie optrede geregverdig kan word.  Ons hoor dikwels in gesprekke dat ander mense so of so maak en is ons vinnig om daarop te reageer.  Niemand wil in ʼn swak lig gestel word nie.  My optrede teenoor ander moet altyd aan die beginsel van regverdigheid voldoen.  Jesus se verduideliking hieroor is baie eenvoudig en prakties.  As jy iets sou koop en vir een kilogram daarvan betaal, verwag jy om een kilogram te ontvang. 

Maar dit gaan oor veel meer as handeldryf en ekonomiese eerlikheid.  In my optrede moet ek altyd daarmee rekening hou dat God alles wat ek doen raaksien.  Hy is Alomteenwoordig en Hy verwag dat Sy standaarde gehandhaaf word.  Ons hoor soms die volgende gesegde: “Moenie maak soos ek maak nie, maar maak soos ek sê.”  So asof daar twee stelle reëls bestaan. Solank ek net nie benadeel word nie, is ek maar tevrede. As jy aan die “uitdeel kant” staan maak seker dat jy aan die “ontvang kant” dieselfde sal kry.

Ons mag redeneer dat hierdie dubbele standaarde nie regtig bestaan nie.  Met die beeld van die splinter in jou broer se oog wys Jesus die mens se ware kleure.  Ons is maar so geneig om die fout by ander te vind, dat die balk in ons eie oog ons blind maak om regverdig op te tree.  Hiermee leer Jesus ons om gereeld selfondersoek te doen. 

Niemand sal iets wat baie kosbaar is vir die honde en varke gooi om te verskeur en te vertrap nie.  Jesus waarsku ons dat die handhawing van dubbele standaarde en die selfverontskuldigende optrede presies hierop neerkom.  Om regverdig en met edel inbors te leef is so kosbaar dat Jesus daarvoor die woord heilig gebruik.  Destyds is honde en varke as onrein beskou.

Met Jesus se afwysing van inkonsekwente optrede besef ons opnuut hoe groot die prys was wat vir ons verlossing betaal is. As God volgens ons standaarde sou meet was daar vir ons geen hoop nie. Deur God se genade is die balk uit ons oog verwyder sodat ons die werklikheid van ons verlossing kan raaksien.

Dors vir meer:

Mt 22:34-40

Gebed

Here, weerhou my daarvan om selfsugtig op te tree.  Leer my om versigtig te oordeel en met my optrede teenoor ander U liefde uit te dra.  Verwyder die balk uit my oog sodat ek opreg mag lewe.  Beskerm ons teen die wêreld wat wil verskeur en vertrap. Amen

Petrus van Blerk

0824560235