Skrifgedeelte: Mt 5:21-26 Teks wat tref: v23,24
Nadat Jesus in die vorige verse die valsheid van die skrifgeleerdes en die Fariseërs veroordeel het, leer Hy die erfgename van God se koninkryk verder oor optrede wat by hul pas. Dit alles begin by die geseëndes wat anders leef en doen. Hulle ken die Tien Gebooie: “ Jy mag nie doodslaan nie.” Sulke optrede het gevolge. Dit laat jou voor die regbank kom. Onmiddellik lees ons verder. Die gedeelte is nie van toepassing op my nie! Immers, ek pleeg nie moord nie.
Elkeen wat vir sy broer kwaad is en elkeen wat sy broer uitskel vir ʼn gek of idioot is strafbaar met die helse vuur. Dit is ʼn harde veroordeling.. Met die woorde – “Maar Ek sê vir julle” het Jesus dadelik sy gesag aangetoon. Elke uitspraak na hierdie woorde is gewigtig.
Om vir iemand te sê dat hy of sy nie so onnosel moet wees nie, of wat sommer op enige manier snedig en verkleinerend op tree, is net so skuldig as iemand wat moord pleeg. Jesus waarsku hier teen ons eiegeregtigheid. Elke mens is deur God geskape en as ek my naaste uitskel vir ʼn gek of hom ʼn idioot noem, ontken ek dat God die mens na sy beeld geskape het. As gevolg van die sonde gebeur dit dat ek soms gefrustreerd is met my naaste se optrede. As iemand nie volgens my standaarde funksioneer sal ek maklik en soms onnadenkend snedige opmerkings maak. Met sulke optrede beledig jy God indirek. Wees versigtig met jou woorde en uitsprake.
Na Jesus se waarskuwing en opdrag leer Hy ons wat die regte optrede moet wees: “Gaan maak eers vrede met jou broer.” Met hierdie beginsel sluit Jesus nie net my woorde in nie, en geld dit vir alles wat ek doen. As ek “iets” teen my naaste het dui dit ook op gedagtes, woorde, dade en begeertes. Jesus se waarskuwing vereis positiewe optrede. As jy fouteer het, gaan maak reg. Jesus waarsku ons ook om nie soos die skrifgeleerdes en Fariseërs op te tree nie. Moenie skynheilig wees nie. Dit is maklik om voor te gee dat jy vroom lewe, maar God weet alles.
Die gebruik om offers na die altaar te bring, was deel van die volk se aanbidding. Nou leer Jesus ons om nie dubbele standaarde te stel nie. Wat jy tuis doen en wat jy in die openbaar by die altaar doen, moet altyd wys dat jy aan Hom gehoorsaam is. As jy gaan vrede maak is daar harmonie in jou verhouding met God. As mense mekaar minder as dwase uitkryt, en minder snedige opmerkings maak en minder met woorde, dade en gedagtes moord pleeg, ontstaan daar vrede. Met ʼn laaste opdrag leer Jesus ons om betyds tot ʼn skikking te kom as daar met ʼn regsaak begin word. Dit beteken nie dat ek die goue middeweg moet probeer volg nie, maar dat ek veel eerder moet seker maak dat my optrede altyd volgens God se Woord gerig is.
Met net een sagte antwoord en met net ʼn enkele positiewe opmerking kan ons die wêreld help verander. Wees vredemakers.
Met wie gaan jy vandag vrede maak?
Dors vir meer:
1 Jh 3:11-17
Gebed
Here, plaas vandag ʼn wag voor my mond sodat ek niemand met my woorde sal vermoor nie. Lei my deur die Heilige Gees om misverstande en onreg met my naaste uit die weg te ruim. Dankie dat Jesus Christus vrede vir ons gebring het. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply