Skrifgedeelte: Mt 5:17-20                         Teks wat tref: v19b

Na maande se Inperking bring die nuwe maatreëls in Vlak 1 ‘n heerlike uitkoms en tegelyk ook ander uitdagings.  Die lewenswedloop was vir baie soms ‘n hindernisbaan.  En ons is nou in die laaste pylvak van die jaar om al hierdie gebeure te hanteer.

Na Jesus se Bergrede in Mt 5:1-12 wat as een van die kragtigste preke in die ganse geskiedenis van die wêreld aangedui word, gaan Hy voort om mense te leer. In Mt 5:13-15 noem Hy God se kinders die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.  Daarna kry ons opdragte vir ons lewe in die laaste pylvak.

Dit is opvallend dat Jesus nie nuwe reëls aankondig nie.  Dit beteken dat die speelveld van ons lewe steeds dieselfde is.  . Daar is wel ander faktore wat ons in ag moet neem.  ʼn Goeie rugbykaptein evalueer die speelveld deur die wind, son en spelpatroon van die ander span te verstaan. En dan neem hy besluite.  

Eerstens konfronteer Jesus ons met die harde feite. Ons word voorberei dat die stryd hard sal wees.  Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat daar een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.  As Jesus na die wet verwys bedoel Hy dat ons God se Plan daarin vind.  Die wet leer ons hoe om voor God en ons naaste te leef.

Dan volg daar ook ʼn belofte vir elkeen wat die reëls nakom. Hulle word hoog geag in die koninkryk van die hemel.  ʼn Span wat graag ʼn wedstryd wil wen moet hart en siel en ten volle toegewyd deelneem. Ons moet met oorgawe leef en ons getrouheid moet meer wees as blote deelname.  Destyds het die skrifgeleerdes en Fariseërs voorgegee dat hulle onaantasbaar is.  Wie getrou is kan seker wees van die oorwinning.  Die res sal nie in die koninkryk van die hemel ingaan nie. 

Om in die pylvak te leef en voluit deel te neem sal harde oefening en baie voorbereiding vra.  Atlete word aan ʼn proses van goeie kondisionering onderwerp om wedstrydfiks te wees.  Vanaf Mt 5:21 gaan Jesus wat alles van mense weet ons voorberei vir die stryd. 

Ons kan knoei en kul, maar die Here weet alles. Jesus leer ons weer van die reëls vir elke aspek van ons lewe – versoening, kuisheid, vergelding en liefde.

In die volgende dae lees ons verder in Mt 5. Ons word ook deur die Heilige Gees versterk en bemoedig om te volhard. 

Dors vir meer:

Eks 20:1-17

Gebed

Here, dankie dat U ons elke oomblik vashou en bewaar. Dankie dat ons nooit alleen is nie.  Leer ons om te volhard en stuur U Gees om ons daagliks te help met ons oefenprogram in die pylvak waar ons nou is.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235