Psalm 47
Fokusvers. Psalm 47:10.
Hoe klink dit wanneer ʼn nuwe leier aangekondig word of wanneer ʼn oorwinning behaal is? Dink daaraan as die nuwe leiers by die skool aangekondig word of wanneer die Springbokspan die wêreldbeker gewen het. Daar is uitroepe van blydskap, ʼn groot gejuig van die skare en musiek word gespeel.
So word vir ons in Psalm 47 ‘n troonbestyging beskryf. Nie die van ‘n mens wat koning gemaak word nie, maar die Here wat Koning is. Die Groot Koning oor die hele aarde, die aarde en alles daarop behoort aan die Here. Die Here is Koning oor die hele aarde en al sy bewoners, ook oor die heidennasies. Maak nie saak hoe dinge op aarde lyk en wat mense se planne is nie, die Here regeer!
Verder is nie moeilik om te sien dat hierdie Psalm op Christus en sy hemelvaart wys nie. Christus het gekom om as mens onder ons te woon, maar Hy het die dood oorwin. Aan Hom is gegee alle mag, in die hemel en op aarde (Matteus 28:18). Hy het opgevaar en Hy is verhef en sit aan die regterhand van God waar Hy as Koning regeer. Verhewe is Hy!
Hy keer terug na die aarde as Koning, elkeen gaan voor Sy troon moet buig en dit bely.
In die wêreld sien ons hoe mense self wil koning wees oor hulle lewens. Die ongeluk van hierdie sondige heerskappy is dat die mens nie ’n koning is nie, maar ’n slaaf. ’n Slaaf van sy eie sondige begeertes want hy doen onwillekeurig wat sy sondige hart hom voorsê om te doen. Daarom is dit vir ons die allerbeste dat ons vrygemaak is van die duisternis, en nou lewe in die koninkryk van die Lig!
Wat is ons reaksie op die Koningskap van die Here? Ons enigste Verlosser en Saligmaker is Koning van die leërskare. Deur Christus regeer die Vader alle dinge.
Laat ons jubel en juig tot eer van God die grote Koning! Laat ons dit uitroep en getuig sodat die hele aarde ons blydskap kan hoor.
Dors vir meer:
Matteus 28:16-20 en Openbaring 19:11-21.
Gebed
Here die Allerhoogste. Ons wil jubel en juig want aan U kom al die eerbied toe. Ons wil U loof met psalms want U is Koning oor die hele aarde en hemel. Mag ons weer besef maar alles is aan U onderworpe.
Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply