Skrifgedeelte: Mt 5: 27-32                       Teks wat tref: v30

Na Jesus se waarskuwing aan die einde van Mt 5:26 dat daar aan geregtigheid voldoen moet word, gee Hy ʼn verdere toepassing oor wat dit beteken om aan die Wet te voldoen. Die Fariseërs het talle reëls en regulasies rakende egbreuk ingestel. Jesus leer dat gehoorsaamheid reeds in ons hart begin. Dit beteken dat Hy ons hele lewe in ʼn verhouding met Hom stel soos Paulus in 2 Kor 3:6 skryf: “ons is bedienaars van ʼn nuwe verbond, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.”

Christus het ons gesindheid verander en gee die beginsels waarbinne ons moet leef. Die drastiese optrede om jou oog uit te haal en jou hand af te kap as dit jou laat struikel is belangrik sodat jou hele liggaam nie in die hel beland nie. Jesus hou rekening met die mens se sondige aard. Omdat Hy die mens se hart ken, weet Hy wat die gevolge van die sonde is.  Dit raak ons hele lewe. In die vorige verse het Hy opdragte gegee sodat ons versoenend en in liefde kan optree. Nou hoor ons wat dit beteken om kuis te lewe.  Dit begin met die ingesteldheid van jou hart. 

Met Jesus se opdrag leer Hy ons ook om te verstaan dat Hy ons van sonde red en verlos. Deur bewus te wees van ons sondige aard word ons Here se genade sigbaar. Met elkeen van die Tien Gebooie word ons van ons sondige bestaan bewus. Ons stry daarteen met die afkap en weggooi van die ledemate wat ons laat struikel, maar Christus het die finale oorwinning geskenk sodat sy kinders nie verlore sal gaan nie. 

In dieselfde lig moet ons dan nou ook egskeiding en elke ander oortreding van die sewende gebod om nie egbreuk te pleeg nie  beoordeel en verstaan.  Die gebrokenheid van die mens het ʼn impak op elke lewensterrein. Dit is Christus wat die sonde weg geneem het sodat ons in ʼn verhouding met God kan staan.  Terwyl ons hierdie geweldige liefde nie kan verstaan nie, mag ons daarom nooit ander veroordeel nie, maar eerder biddend saam met mekaar worstel.

As ons Mt 6:31 saam met Mt 19 lees waar Jesus onderrig gee oor egskeiding, word dit duidelik dat die Fariseërs Jesus wou toets. Dan wys Hy vir hulle wat God se bedoeling is en veroordeel Hy die hardheid van hulle harte. 

In elke situasie waarin ek my mag bevind, en in die hantering van die opdrag om kuis te lewe en God te gehoorsaam, besef ons maar net weer ons gebrokenheid. Dit is alleen net God se liefde en Christus se genade wat ons met die inwoning van die Heilige Gees dra. 

Dors vir meer:

Mt 19:1-12

Gebed

Here, dankie dat U my hart ken en my bewaar. Dankie dat U liefde my dra. Lei ons deur U Gees om gehoorsaam te wees. Amen

Petrus van Blerk

0824560235