Skrifgedeelte: 1 Kon 3: 2-15                        Teks wat tref: v5,9

In Spreuke het ons geleer dat wysheid begin met die dien van die Here. Baie van daardie Spreuke is deur Salomo opgeteken en is vandag nog steeds van onskatbare waarde. Hierna gaan ons verder lees van die koningskap van Salomo en die toepassing van wysheid wanneer ons lewensvraagstukke hanteer. 

Koning Salomo was een van die mees invloedryke konings van die volk Israel. Tydens sy regering word ʼn tempel vir die Here opgerig, beleef die volk voorspoed en ontvang hy besoeke van ander hooggeplaaste wêreldbekendes.  Die koningin van Skeba merk na ʼn besoek op dat die helfte van Salomo se wysheid haar nie van vertel is nie.

Dit begin met ʼn droom waarin die Here aan Salomo verskyn het terwyl hy na Gibeon gegaan het om daar te offer.  Nadat Dawid opdrag gegee het dat Salomo heerser van Israel en Juda moet wees (1Kon 1:35), beleef Salomo talle onstuimighede. Eindelik kry hy ʼn stewige houvas op die koningskap.  Hy gee gehoor aan sy vader Dawid se opdrag deur alles te doen wat vir hom voorgeskryf is. Salomo het die waarde van gehoorsaamheid besef. Mag dit ons ook aanspoor om so te leef. 

Toe die Here aan Salomo verskyn en vir hom vra wat Hy vir hom moet gee, betoon Salomo die nodige eerbied en respek. Hy buig voor God en erken dat alles wat hy ontvang het van die Here kom.  Sy koningskap is aan God te danke.  Hy vertrou volkome op die Here.  Hy stel homself onder God se gesag.  Hy bely ook sy eie tekortkominge wanneer hy erken dat hy nog jonk en onervare was en oor ʼn groot volk moet regeer.

Wat sou jy vra as jy enige iets kan kry? Die ark van die Here (simbool van God se teenwoordigheid) het by Gibeon gestaan.  Salomo het juis daarheen gegaan om hom vir sy verdere koningskap voor te berei. Hy vra die Here vir die dinge wat hy nodig het om sy werk te doen. Ons begeer dikwels dat die Here my van ʼn situasie sal onttrek of my omstandighede sal verander.  Dit is dan juis vir daardie dinge wat ons sal vra?

Met sy keuse vra Salomo dat hy aan die Here gehoorsaam wil wees. Daarmee sal hy oor die volk regeer wat God uitgekies het.  Hy werk waar die Here hom plaas.  Hy tree doelgerig op en dui noukeurig aan presies wat hy nodig het.  Sy keuse is gerig op diens aan die Here. Dan word hy beloon met veel meer as wat hy ooit kon dink.  Hy ontvang ook wysheid, insig en rykdom in oorvloed soos niemand voor hom gehad het nie of na hom sal hê nie.  Salomo se insig in regsake word later oral bekend.

Met sy hele lewe is Christus aan God gehoorsaam. Hy openbaar sy insig wanneer Hy die vrae van wetgeleerdes wat Hom wil verkleineer beantwoord en hul valsheid en selfsugtigheid ontbloot. 

Vra vir God om vir jou die dinge te gee wat jy in jou dienswerk in sy Koninkryk nodig het

Dors vir meer:

Mk 12:13-17

Gebed

Here, leer my om die plekke waar U my wil gebruik raak te sien.  Help my om aan U gehoorsaam te wees. Dankie dat U die wêreld deur U Seun se wysheid en insig verander. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235