Dagstukkies 03 – 07 Augustus 2020
In Spreuke kry ons kry wyse raad vir ons huwelik, werksituasie, opvoeding, humeur, skinder, eerlikheid en ander. Hiermee die laaste dagstuk in hierdie reeks. Hierna gaan ons verder lees van die koningskap van Salomo en die toepassing van wysheid wanneer ons lewensvraagstukke hanteer.
Dagstuk 03 Augustus 2020 – Dien die Here
Skrifgedeelte: Spreuke 31: 1-31 Teks wat tref: v1,30
Aan die einde van ʼn reeks dagstukkies uit Spreuke sou mens wonder wat ʼn treffende en toepaslike slot sou wees. Dalk ʼn enkele vers of Spreuk wat ek elke dag kan saamneem. Iets van besondere betekenis vir ʼn situasie waarin ek my dalk bevind. Of ʼn Spreuk met ʼn boodskap van hoop. Ons gaan na die woorde van koning Lemuel luister. Hy het die voorskrifte van sy moeder ontvang. (v1)
Hy is ʼn redelike onbekende koning. Sy naam kom slegs 2 keer in die Bybel voor en beteken – “vir God”. Hy vat talle van die voorafgaande Spreuke vanaf vers 10 pragtig saam. Spreuke 31 het ʼn paar toepassings moontlikhede. Dit beskryf die deugde van ʼn knap vrou. Beeldskoon, pragtig, statig en skatryk. Elkeen sal graag so lewensmaat wil hê. Die ideale droomvrou. Troumateriaal sê ek jou.
Maar tog gaan dit hier oor meer as dit. Daar bestaan ʼn noue band tussen Lemuel en sy Moeder. Vanaf vers 10-31 word in die oorspronklike taal die 22 letters van die Hebreeuse alfabet gebruik. Dit beteken dat die skrywer poog om ʼn volledige lys te gee. Met die beskrywing van die ideale vrou se karaktereienskappe is dit duidelik dat sy die koppe laat draai met haar skoonheid. Sy kan feitlik enige iets doen en is invloedryk.
Daar is ʼn ander bedoeling. Elke mens is te uniek geskape dat daar ʼn paar stereotipes moet wees. Dit is logies dat ons nie ʼn soort universele beeld mag skep nie. Nie elke vrou is soos die vrou in Spreuke 31 nie. Daar word dikwels in Spreuke na “Wysheid” as ʼn vrou verwys. Die inhoud van Spreuke leer ons van ʼn doelgerigte lewe waarmee ons God eer. Wysheid word met ʼn vrou gepersonifiseer.
Spreuke leer mans en vroue oor ʼn lewe wat God verheerlik. Daarom moet ons almal die karaktertrekke van Spreuke 31 vertoon:
V10 – Ons is KOSBAAR in die Here se oë. Baie meer as edelstene. So kosbaar dat Jesus Christus met sy lewe vir my betaal het.
V11,12 – Ons moet BETROUBAAR wees. – Ander mense moet op my kan steun.
V13 – Wees HARDWERKEND – verwerk produkte en bring kos in deur vroeg op te staan.
Dan word die belangrikste eienskap in vers 30 genoem. Daar is baie dinge wat ophou bestaan en uiteindelik tot niet gaan. Die vrou wat die Here DIEN, moet geprys word. Van alles wat ons doen is my verhouding met die Here die belangrikste. Lees weer Spreuke 1:7: “ Kennis begin met die dien van die Here.” Spreuke eindig met die duidelike opdrag om die Here te dien. Henry Mathew het gesê: “Gebruik hierdie Bybelboek as ʼn spieël waarin jy jou verhouding met die Here meet.”
Jesus Christus het ons met God versoen sodat ek aan God se opdragte kan voldoen.
Dien die Here met jou hele lewe!
Dors vir meer:
Openb 21:9-27
Gebed
Here, dankie vir U oneindige liefde. Dankie dat die Heilige Gees my leer hoe om elke dag te lewe. Rig my woorde, dade en gedagtes op ons Here Jesus Christus om my te lei en te bewaar. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply