Skrifgedeelte: Spreuke 25:1-28                         Teks wat tref: v1,28

Die menslike wil staan teenoor God se eer en dit gebeur maklik dat ek dink dat my eie gedagtes reg is.  In die bundel Spreuke van Hiskia word daar wyshede  gegee en word daar slegs binne die beskerming van ʼn “muur” rondom my verseker dat ek in die grense leef wat God gestel het. 

Spreuke 25 vra een van die moeilikste dinge. Dit sny tot op die been oop. Hier word gepraat oor dit wat ek nie self graag wil hoor nie. Die Here wil weet hoe jou lewe vandag lyk?  Daar is sekere dinge wat bekend is en dan daardie dinge wat verborge is. Om dit te bepaal begin ons by vers 2:“ die eer van God lê in wat Hy verborge hou….” Dit beteken dat daar dinge is wat nie bekend is nie. Amper onverklaarbaar want dit is te hoog en te diep vir ons menslike verstand. Hier ontmoet ons die Almagtige God met eerbied en ontsag. Dit laat ons in aanbidding op ons knieë neerval.

Ons verstaan eers wat dit regtig beteken as ons in die res van hoofstuk 25 gelei word om ons lewens te ondersoek. Die een enkele ding waarmee ons die meeste sukkel het net twee letters: “EK” – Ons sluit die Here se maklik uit. Met selfbeheersing kry God die eer.

Die Here smelt my lewe in ʼn reinigingsproses om die slegte uit die silwer te haal. Daarna volg ʼn skeidingsproses waarmee die slegte gewoontes ( misbruik van mag, geld en posisie) verwyder word.   Ons aanstellerigheid  (hoogmoedigheid, skynheiligheid en valsheid) moet verwyder word sodat ek aan Hom die eer gee. Die Gees leer ons van selfbeheersing deur verkeerde gesindhede af te breek.   Met hierdie optrede leer Spreuke my om God te eer.

In vers 28 word dieselfde vraag net bietjie anders gestel. Deur watter muur word jou lewe begrens en beskerm? Al die beelde in die voorafgaande verse gee vir ons duidelike grense en riglyne. As jy jou lewe so beheer kry God al die eer.  In die stryd teen die eie EK is selfbeheersing aller noodsaaklik.  Ek is my eie grootste vyand. Dit is waarom vers 28 selfbeheersing so hoog ag.  Edmund Hillary, die eerste mens wat Mount Everest kon oorwin, het opgemerk dat dit nie die berg is wat jy oorwin nie, maar jouself.

Daar is baie dinge wat verborge is. Trouens soos Spreuke 25:1 sê: “Die eer van God lê in dit wat Hy verborge hou.”  Maar wat nodig is het Hy bekend gemaak.  In Christus word God se liefde sigbaar.  Met sy lewe kom staan Christus letterlik rondom my.  Deur die Gees word ek beskerm en beskut. 

In my lewe is daar baie dinge bekend. Maar ek steek ook liewer sekere dinge weg. Daardie dinge wat my laat wankel.  Soos die stad sonder mure. Iemand met selfbeheersing leef binne die grense wat God gestel het.

Leef binne die mure van daardie stad!

Dors vir meer:

Gal 5:22-26 en 2 Pt 1:3-15

Gebed

Here, U weet hoe dikwels my swak oordeel groot smart en skade veroorsaak. Leer my om van my eie ek af te sien en lei my deur U Gees om binne die mure wat U gestel het te leef.   Dankie dat U my met soveel liefde omring. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235