Skrifgedeelte: 1 Kon 3: 16-28                      Teks wat tref: v28

Koning Salomo was een van die mees invloedryke konings van die volk Israel. Hy het bekendheid verwerf toe die Here in ʼn droom aan hom verskyn het en Salomo gekies het om aan die Here gehoorsaam te wees. (1 Kon 3:5,9). Hiervoor beloon God hom deur aan hom wysheid, insig en rykdom te skenk.  Op ʼn keer moet hy hierdie wysheid en insig gebruik om uitspraak te lewer in ʼn saak waar lewe of dood ter sprake is. 

Reeds in Salomo se tyd is dat hartseer dat prostitute al naby die volk se aanbiddingsplekke hul dienste saam met die aanbidding van afgode aangebied het. Nietemin word Salomo se insig vereis om regspraak te lewer.  Die koningin van Skeba het Salomo se wysheid besing.  Hier wend twee vroue hul na hom.  Inderdaad ʼn vreemde en komplekse situasie. Maar God se wil geld vir almal op elke plek, ongeag jou stand, posisie of rykdom.

Hierdie is ʼn toets vir Salomo se insig.  Ons kan aflei dat die twee vroue moontlik vriendinne was. Hulle woon in dieselfde huis en binne drie dae na mekaar word ʼn baba vir elkeen gebore.  Daar word vertel dat hulle alleen in die huis was. Niemand anders nie, net hul  twee.  Dit beteken dat daar geen ander ooggetuies was wat in hierdie saak kon getuig nie.  Onder normale omstandighede sou die getuienis van ander hierdie saak vergemaklik. 

Die vroue verskyn voor die koning en stry met mekaar.  Beskuldigings word heen en weer rondgeslinger.  Elkeen het ʼn teenargument gereed. Dit is die een se woord teen dié van die ander. Die een se hart krimp ineen en die ander een eis wraak.  In afwagting om hul saak te wen staan die vroue gereed terwyl Salomo by homself redeneer.  Hiermee bewys Salomo sy insig.  Hy gaan nie oorhaastig ʼn besluit neem nie. In die beoordeling van sake moet ons ook leer om geduldig alles te oorweeg. Ouers ken hierdie situasie maar al te goed as hul ʼn geskil tussen kinders moet oplos. 

Dan gee Salomo ʼn vreemde opdrag.  “Bring vir my ʼn swaard!”  By die reeds bestaande hartseer beveel hy dat die kind wat lewe in twee stukke gesny moet word en dat elke vrou ʼn helfte moet kry.  Ons roep dadelik uit dat dit wreed is.  Salomo kry die oplossing in die optrede van die vroue. Hy  sien as’t ware hul harte raak.  Die hart is die setel van ons lewe.  Die moeder wat eerder wil hê dat die kind moet bly lewe word deur Salomo raakgesien. Sy begeer eerder dat ʼn kind moet bly lewe as dat nog een moet sterwe.  In die sesde gebod beskerm God die lewe wat Hy geskenk het. So weet Salomo watter vrou die kind moet kry.

Salomo tree in diens van die Here op deur aan Hom gehoorsaam te wees.  Almal hoor van sy uitspraak en kry hoë agting vir die koning.  God vra dat ek ook vandag na sy uitsprake sal luister.  Christus het met sy sterwe en opstanding ons elkeen ook ʼn koning, priester en profeet gemaak. Rig jou lewe so in dat jou woorde en dade van gehoorsaamheid getuig.  Maak seker dat jy genoeg tyd saam met God spandeer dat jy met wysheid die vraagstukke van elke dag kan aanspreek. 

Dors vir meer:

Heb 4:12-16 en Jak 2:1-13

Gebed

Here, leer my om mense nie op hul uiterlike te beoordeel nie. Laat U Heilige Gees my besluite rig. Dankie dat U die bedoelings en gedagtes van my hart deur Christus verander om in U koninkryk diensbaar te wees.  Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235