Met hierdie week se dagstukkies leer ons wat dit beteken om in geloof te groei.
Skrifgedeelte: Jh 15:9-17 Teks wat tref: v13,16
Met die regte vriende aan jou kant verloop dinge beslis makliker. Die goeie woordjie van ʼn vriend kan vir jou deure laat oopgaan. As jy by ʼn nuwe klub aansluit help vriende dat jy nie vreemd en ongemaklik voel nie. Ons leef reeds meer as honderd dae in ʼn staat van inperking as gevolg van die Covid 19 pandemie. Baie mense stem saam dat die gemis aan vriende die swaarste is om te hanteer.
Nadat Jesus in Jh 15:5 die opdrag gegee het dat ons in Hom moet bly, is daar sekere duidelike sigbare tekens.. Hy het my lief. Hy wil hê dat my blydskap volkome sal wees. Hy wil hê dat ons vrugte moet dra. In hierdie gedeelte wys Hy ons verder wat dit beteken dat ons in Hom moet bly. Hy het ons lief soos sy Vader Hom liefhet. Hierdie liefde ken geen grense nie. Hierdie liefde is onvoorwaardelik. Hierdie liefde verseker my van ons Here se sorg en bewaring. “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” (v13)
Dink daaraan. Christus noem ons sy vriende. Ek word nie vriende met Hom nie. Hy bewerk hierdie vriendskap. Hy het my uitgekies. Nog is dit nie al nie. Hy stel my aan om vrugte te dra. Hy doen alles wat Hy van sy Vader gehoor het. Hiermee bring Hy my in God se direkte teenwoordigheid. Hy voer God se opdragte uit. Hy sterf in my plek aan die kruis sodat ek kan lewe. Met sy optrede wys Hy hoe lief God my het.
Hierdie liefde neem toe as ons sy opdragte uitvoer. Dié liefde groei in gehoorsame navolging van die Here. Dié liefde dra vrugte wat sal hou. Dit is die direkte gevolg van die lote wat uit die ware wingerdstok groei. Dit vra van ons elkeen ʼn bepaalde leefwyse wat aan die einde beloon word. Omdat Christus met sy lewe bewys gelewer het wat dit beteken om liefde te betoon, en ons dan boonop sy vriende noem, sal die Vader ons gee wat ook al ons in sy Naam vra. Dit is weereens egter nie ʼn vrypas dat ek enige iets en alles sal kry nie. As vriend van Christus sal ek net sy opdragte uitvoer. Ek sal net vra dat my dade die Here se liefde sal weerspieël.
Christus se liefde beteken verder dat Hy alles wat Hy van sy Vader gehoor het aan ons bekend gemaak het. Ek hoef my net te kwel en te bekommer oor die dinge wat vir die Here belangrik is. Die uitdagings wat die Here op my pad bring is die geleenthede waar ek God se liefde kan uitdra. Daarom beveel Hy ons: “Julle moet mekaar liefhê!”
Wanneer ek vandag met probleme mag worstel, weet ek dat Christus my sy vriend noem. Maak daarom seker dat jy met Hom praat. Hy het my so lief dat Hy vir my gesterf het. Dit is ons Here se bedoeling dat ons geloof sal groei deur sy liefde.
Die bekende woorde van Joseph Scriven se gedig in 1855 bly vandag net so betekenisvol:
“Wat ‘n vriend het ons in Jesus,
Hy wat in ons plek wil staan:
Wat ʼn voorreg om gedurig
tot God’s troon deur Hom te gaan!”
Dors vir meer:
Eks 33: 7-12
Gebed
Here, baie dankie dat ek u vriend genoem word. Help my om in U liefde te bly en vrugte wat hou te dra. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply